Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-manifesbekendstelling in foto’s; Die tyd om te herstel en bou sonder ANC het aangebreek: Uittreksel uit toespraak van dr. Groenewald

4 Maart: VF Plus vier sy 30ste bestaansjaar

Alhoewel daar mense is wat nie graag wil terugkyk op die verlede nie, vorm ons verlede en ervarings ons identiteit, waardes en doelwitte en deur dit te verstaan, kan ons beter beplan vir die toekoms om meer doeltreffende doelwitte te stel.

ʼn Politieke party wat nie sy geskiedenis, kultuur en tradisies erken of waardeer nie, sal sukkel om ʼn volhoubare en betekenisvolle toekoms te skep. 

Die begrip van waar ons vandaan kom, speel ʼn belangrike rol in die bepaling van ʼn rigting vir die toekoms en die bou van ʼn stabiele en veerkragtige politieke party.

Die VF Plus het daarom op 4 Maart teruggekyk na waar hy vandaan kom en waarheen hy op pad is. 

Dertig jaar gelede, op 4 Maart 1994, het mense soos genl. Constand Viljoen, drs. Pieter en Corné Mulder en dr. Pieter Groenewald om maar ʼn paar te noem, die visie gehad om die Vryheidsfront te stig en aan die eerste demokratiese verkiesing deel te neem.

In 2003 het die party se naam verander na Vryheidsfront Plus (VF Plus) met die oorname van die KP, Federale Alliansie van Louis Luyt en die Afrikaner Eenheidsbeweging.

Die party het deur die jare drie leiers gehad wat ʼn groot impak gehad het op sy rigting en strategiese fokus.

Genl. Viljoen vanaf 1994 tot 2001 en dr. Pieter Mulder vanaf 2001 tot 2016. Die huidige leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, is in 2016 verkies na dr. Mulder se uittrede uit die aktiewe politiek.

Onder dié leierskap het die party talle suksesse behaal. So het die party daarin geslaag om artikel 235 oor selfbeskikking in die finale Grondwet van 1996 te laat opneem.

Die VF Plus het ook in 2009 daarin geslaag om stemreg vir Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland te verkry. Die ANC was om verskeie redes daarteen gekant, maar na verskeie hofsake het die VF Plus die saak in die Grondwethof gewen en kon burgers buite die land vir die eerste keer met die 2009-algemene verkiesing hul kruisies trek.

Terwyl die party se kernwaardes en doelwitte oor die afgelope drie dekades dieselfde gebly het, moes die party sy benadering en fokus aanpas om relevant te bly in ʼn veranderde politieke landskap.

So moes die VF Plus se logo ook by die veranderde tye aanpas.

Die afgelope 30 jaar het boonop ‘n wye verskeidenheid van tegnologiese veranderinge vir die mensdom meegebring wat ‘n groot impak gehad het op byna alle aspekte van die lewe. 

Die VF Plus moes ook daarby aanpas.

Dertigjaar gelede was rekenaartegnologie in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene en van selfone was daar nie sprake nie.

E-pos het nie bestaan nie en mediaverklarings is per faks na die media versend. Kiesers moes by kantore aanklop om hulp of per slakpos met hul verteenwoordigers kommunikeer. Telefoniese navrae kon net tydens kantoorure beantwoord word. 

Die ontstaan van die internet en selfone het ‘n massiewe impak gehad op kommunikasie en die verspreiding van inligting. Dit het die wêreld kleiner gemaak en mense en gemeenskappe nader aan mekaar gebring.

Die VF Plus het hierdie tegnologie aangegryp en dit tot sy voordeel benut.

Vandag is die VF Plus aan die voorpunt met die benutting van sosiale media om sy boodskap aan kiesers uit te dra, hul op hoogte te hou van die doen en late van sy ampsdraers op alle vlakke en kiesers se diensleweringsprobleme aan te spreek.

Die VF Plus was een van die eerste politieke partye wat sy eie webblad bekend gestel het. Wat dié blad uniek gemaak het, was dat dit in vier Suid-Afrikaanse tale waaronder Zoeloe en Sotho, asook in vier internasionale tale naamlik Frans, Spaans, Duits en Russies beskikbaar was.

Die VF Plus het ʼn Pansat-toekenning gekry vir onder meer dié revolusionêre en veeltalige webblad.

Vandag beskik die VF Plus oor een van die modernste webblaaie wat in beide Afrikaans en Engels beskikbaar is; die enigste Suid-Afrikaanse politieke party wie se webblad nie net Engels is nie. 

Met sy 2024-manifesbekendstelling het die VF Plus gewys hy het ware erns met taal en die erkenning daarvan vir al die mense van Suid-Afrika en het sy manifes beskikbaar gestel in al elf van die land se amptelike geskrewe tale. Die bekendstelling is ook in gebaretaal uitgesaai en die manifes is in Braille beskikbaar.

Met die terugkyk oor die afgelope 30 jaar, het die VF Plus ook reeds begin met sy beplanning vir die volgende 30 jaar.

Die vorige en huidige leierskorps het oor 30 jaar die party uitgebou tot die vyfde grootste politieke party in die land.

Die VF Plus is in die bevoorregte posisie om oor jong en talentvolle leiers te beskik wat bereid is om uit die foute van die verlede te leer, die goeie te behou en die party tot nuwe hoogtes te neem tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

ʼn Politieke party is egter net so sterk as wat sy ondersteuners hom maak. Die VF Plus wil daarom almal bedank wat hom sedert sy onstaan tot nou lojaal ondersteun en sy beleid uitdra. 

Dit is ook met dankbaarheid dat die VF Plus die entoesiasme waarneem wat heers onder die jeug oor die party.

Saam kan ons van krag tot krag gaan.

Lees ook ʼn uittreksel uit dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, se toespraak tydens die manifesbekendstelling in hierdie nuusbrief. 

Volg die VF Plus ook op Facebook en X by die volgende adresse:

https://www.facebook.com/VFplus

VF Plus-manifesbekendstelling: Verkiesing-2024

(Spotprent met erkenning aan Niel van Vuuren en Netwerk24)

Die VF Plus se manifesbekendstelling vir die 2024-verkiesing op 2 Maart in die Heartfelt-arena in Pretoria is gekenmerk deur ʼn bykans tasbare opwinding onder bywoners.

Mense van alle ouderdom, van diegene op krukke tot dié in stootwaentjies, het die geleentheid bygewoon.

Verskeie bekende kunstenaars het opgetree en is entoesiasties toegejuig.

ʼn Spotprent van die spotprentkunstenaar van Netwerk24, Niel van Vuuren, het die bekendstelling goed saamgevat: Die VF Plus het bewys dat hy nie gestagneer het nie, nog nooit van sy beleid afgewyk het nie en besig is om te groei onder veral die jeug wat die toekoms van Suid-Afrika is.

VF Plus-manifes 2024: Die tyd om te herstel en bou sonder die ANC het aangebreek – Dr. Pieter Groenewald: VF Plus-leier

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.