Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-manifes 2024: Die tyd om te herstel en bou sonder die ANC het aangebreek

(VF Plus-manifesbekendstelling, Heartfelt-arena, Centurion)

Ná dertig jaar waarin die ANC Suid-Afrika tot op die punt van totale verval en bankrotskap regeer het, het die tyd vir verandering aangebreek, om die stukke op te tel en weer te bou.

Die VF Plus se Manifes 2024 bring ʼn realistiese plan en boodskap van hoop vir die toekoms. Hierdie pad gaan by die stembus begin op 29 Mei vanjaar.

Die boodskap is dat Suid-Afrika herstel en herbou kan word.

Hoe groter die krake van ANC-onbevoegdheid, korrupsie en onbevoegdheid begin wys het, hoe harder het die regering na iemand gesoek om die skuld op te pak vir sy mislukkings.

Die waarheid is dat hierdie verval die direkte oorsaak is van die regering se beleid onder die vaandel van swart bemagtiging wat die perfekte teelaarde geskep het vir alles wat verkeerd gegaan het.

Die VF Plus se manifes is die bouplan met daadwerklike oplossings om ʼn beter toekoms te bou. Dit behels:

• Veelpartyregerings wat die ANC uit bewind hou en die huidige verval herstel;
• ʼn Vryemarkstelsel om die ekonomie weer op te bou;
• ʼn Klein sentrale regering met ʼn mindere rol in burgers se lewe;
• Die herstel van plaaslike regering;
• Selfstandige gemeenskappe as die boustene;
• Die bevordering van gemeenskappe se grondwetlike reg op selfbeskikking as die sement; en
• Die afskaffing van wetgewing wat diskrimineer op grond van velkleur.

Die beste sleutel tot ʼn beter toekoms en welvaart vir almal is om die ekonomie te herstel. Die ANC wil mense van hom afhanklik maak om te oorleef. Die VF Plus sê die publiek moet deur ʼn gesonde ekonomie bemagtig word om hul eie welvaart deur gelyke geleenthede te skep.

Suid-Afrika moet dringend verlos word van alle vorme van korrupsie wat endemies aan die ANC geraak het.

Sonder krag kan geen land vooruitgaan nie. Die regering se vele beloftes oor verbetering het tot nou toe net teleurgestel

Die ANC sê dit is sabotasie. Dit is waar. Die regering self het deur wanbestuur en korrupsie die ekonomie gesaboteer.

ʼn Groeiende ekonomie sal werkskepping bevorder. Geen regering kan volhoubaar werk skep nie. Die VF Plus se manifes bied die resep hiervoor soos die skep van ʼn omgewing wat belegging en groei bevorder.

Toeganklike, kwaliteit-onderrig is die hoeksteen om die land se jeug te bemagtig. Die VF Plus stel ʼn stelsel van ouer- en gemeenskapsgedrewe moedertaalonderwys voor.

ʼn Samelewing wat goeie gesondheidsorg ontsê word, kan nie werk en bou nie. Die toestand van staatshospitale en klinieke is ʼn skande.

Die ANC se oplossing is die nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dit sal die krisis vererger. Die NGV moet beveg word, al is dit tot in die Grondwethof.

Land, bos en see moet in die herbouproses aangewend word. Die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika is onder beleg deur elemente van die natuur en ʼn vyandige regering.

ʼn Onbetroubare klimaat; stygende insetkoste; gebrekkige staatshulp in die vorm van navorsing, rampverligting en onoordeelkundige tariefbeskerming; teikengerigte plaasaanvalle met ʼn oormatige wreedheid asook die beleidsrigting van onteiening sonder vergoeding is enkele voorbeelde.

Visserye word gekniehalter deur grootskaalse wanbestuur. Veral kleinskaal vissermanne en -vroue word tans uitgesluit deur die regering se regulasies en rompslomp. Dit dra by tot werkloosheid en armoede in hierdie betrokke gemeenskappe.

Die omgewing moet beskerm word. Woestynvorming moet teengewerk en omgekeer word. Omgewingshulpbronne moet korrek bestuur word om ʼn balans te handhaaf tussen die benutting om werk te skep en te bewaar.

Daar is waarskynlik min Suid-Afrikaners wat nog nie persoonlik misdaad ervaar het nie. Die land se moordsyfer is die tweede hoogste in die wêreld en niemand is veilig nie. Internasionale organisasies stel die ANC al gelyk aan ʼn misdaad-mafia.

Dit kan nie so voortgaan nie. Bouwerk kan nie plaasvind in ’n omgewing waar misdaad gedy nie.

Menswaardigheid moet gebou word deur taalregte en veeltaligheid. Die VF Plus praat nie net hieroor nie en is die enigste party wat al ʼn Pansat-toekenning vir die bevordering van veeltaligheid ontvang het.

Die VF Plus bied daarom ook sy Manifes 2024 aan in al twaalf landstale wat gebaretaal insluit. Dit is selfs in Braille beskikbaar. Daar is nie slegs twee amptelike tale nie. Elke taal moet gelyke erkenning geniet.

Die res van die VF Plus se manifes bied antwoorde oor handel, verdediging, grensbeheer en ander belangrike aspekte wat ʼn voorspoedige toekoms vir al sy inwoners sal verseker.

Ja, Suid-Afrika kan herstel word. Hy kan weer opgebou word. Dit kan nie langer uitgestel word nie. Die land het ʼn kruispad bereik.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.