Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

MTBR: Ekonomiese en fiskale werklikhede kry aandag en erken ANC-mislukking met dienslewering

Die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) van die minister van finansies, Enoch Godongwana, gee aandag aan die land se ekonomiese werklikhede wat drasties verander het sedert die begroting in Februarie ter tafel gelê is, hoofsaaklik weens die internasionale olieprysskok.

Hierdie werklikheid sluit in baie laer as verwagte ekonomiese groei, hoër as verwagte inflasie en gebrekkige dienslewering. Lewensonkoste het deur die jaar buitensporig gestyg, met veral die geweldige verhoging in brandstofpryse wat groei demp en Suid-Afrikaners verarm.

‘n Welkome teëwig hiervoor is hoër as verwagte belastinginkomste en die stabilisering van die begrotingstekort en gepaardgaande staatskuld vir die eerste keer in meer as ‘n dekade.

Die mediumtermyn-begrotingsbeleid, gewysigde fiskale raamwerk en aansuiweringsbegroting moes hierdie werklikhede in ag neem.

Die VF Plus verwelkom die kortstondige verlaging van die brandstofheffing wat verligting sal bring, alhoewel dit nie voldoende is nie. Verdere verligting sal in Februarie se begroting ingesluit moet word om lewensonkoste te verlaag en ekonomiese groei te stimuleer.

Die aankondiging van ‘n statutêre fiskale anker word verwelkom. Die enigste manier om die benarde ekonomiese omstandighede om te keer, is om fiskale dissipline te versterk – elke rand belastinggeld moet doeltreffend bestee word.

Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die minister staatsuitgawes verhoog weens die meevaller van verhoogde belastinginkomste, eerder as om gebeurlikheidsreserwes op te bou.

Dit is belangrik dat hierdie verhoogde besteding gepaard moet gaan met waarde vir geld en daadwerklik moet bydra tot die nodige ontwikkeling sodat ekonomiese groei kan plaasvind.

Die bykomende R823 miljoen aan die weermag is belangrik aangesien meer hulpbronne nodig is om bendegeweld en onwettige mynboubedrywighede hok te slaan. Dit moet egter reg aangewend word om seker te maak dat dit werklik vrugte afwerp.

Verdere befondsing om misdaad te bekamp deur die aankoop van bykomende polisievoertuie, die versterking van die forensiese en speurdienste, sowel as die howe, is baie nodig en word verwelkom.

Hoe hierdie befondsing sonder korrupsie en wanbestuur bestee gaan word, sal bepalend wees vir die uitwerking daarvan op ekonomiese groei en die fiskale posisie.

Klem is gelê op beter dienslewering – ‘n vingerwysing na die ANC se mislukking op plaaslike regeringsvlak – en meer fondse word deur die verdeling van inkomste aan munisipaliteite toegeken.

Ook hierdie fondse gaan verkwis word indien daar nie regoor die land verantwoordbare munisipale regerings ná 4 November is nie.

Indien die huidige wanbestuur en korrupsie wat in die meerderheid van munisipaliteite vaardig is onverpoosd voortgaan, gaan hierdie bykomende fondse soos voorheen verkwis word en sal dit nie dienslewering verbeter nie.

Dit is daarom belangrik dat inwoners op 4 November vir verantwoordbaarheid en beter dienslewering stem. Die VF Plus sal as reggeervennoot toesien dat elke sent van die publiek se swaarverdiende belastinggeld op ‘n sinvolle wyse aangewend word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.