fbpx
Vryheidsfront Plus

VF PLUS

MANIFES 2024

Ekonomie
Elektrisiteit
Werkskepping
Onderwys
Land, Bos & see
Omgewing
Veiligheid
Gesondheid
Bemagtiging
Gelykheid
Taalregte
Behuising
Buitelandse Betrekkinge
Verdedigingsmag
Grensbeheer

INLEIDING

2024 – ʼn Keerpunt

“Elke geslag neem die verantwoordelikheid vir sy eie tyd,” lui die spreuk. Daarom vind die geskiedenis elke twintig tot dertig jaar ’n nuwe gang. Vanjaar is 2024 – dertig jaar na die vorige keerpunt in Suid-Afrika. Dit is weer tyd. Dié keerpunt is positief en moet die begin van die bou van ʼn beter bedeling wees.

Wat Suid-Afrika nodig het, is nie bloot ’n beter regering nie, maar ’n beter bedeling. Tans word die land vernietig weens politieke sentralisering, ekonomiese oorregulering en omgewingskade. Dit is die gevolge van die ANC se gefaalde beleidsrigting en in besonder die Nasionale Demokratiese Rewolusie.

Kaders is in poste aangestel omdat hulle lojaal aan die ANC is en nie omdat hulle die vermoë het om die werk te doen nie. Swart Ekonomiese Bemagtiging het dieselfde klein, elite groepie mense oor en oor bemagtig, terwyl die meerderheid van maatskaplike toelae afhanklik is.

Tenders om huise, paaie, hospitale, ens. te bou, word nie toegeken aan die onderneming wat die beste gehalte en waarde vir geld lewer nie, maar aan reeds bemagtigde persone.

’n Hele staat is bankrot gesteel terwyl die meerderheid van die bevolking verarm, en infrastruktuur en dienslewering verval.

Suid-Afrika is ook tans een van die onveiligste lande met die tweede hoogste moordsyfer ter wêreld.

Jare se werk lê voor om die ANC se dertig jaar-nalatenskap van korrupsie, wanbestuur en verval te herstel.

Die ANC kan in 2024 verslaan word, maar hoe lyk die werklikheid ná die ANC? Dit kan slegter wees indien die regte beleidsrigtings nie gevolg word nie. Die regte beleidsrigtings moet die land se verskeidenheid erken en as bate benut. Dit is die unieke uitgangspunt van die VF Plus.

Die VF Plus se oproep aan kiesers is om in hordes op stemdag op te daag sodat ons kan herstel en bou!

Ons staan op en ons bou

Die geskiedenis leer ons dat die pioniers in Suid-Afrika gebou, geplant, gehoop en geglo het. Dit is in ons bloed om op te staan en te bou.

Die VF Plus streef na ʼn politieke bestel waar Christelike waardes geld en gekenmerk word deur die beginsels van geregtigheid, waarheid, naasteliefde, respek vir lewe, lojaliteit en ʼn vreedsame naasbestaan.

ʼn Bestel wat dit sal moontlik maak om Suid-Afrika te herstel en te bou.

Daar is hoop

Die mense van Suid-Afrika moet begin verenig rondom ʼn nuwe visie vir die toekoms. ʼn Visie waar jyself weer beheer neem oor jou en jou nageslag se toekoms gegrond op die waardes van integriteit, eerlikheid, hardwerkendheid, wedersydse respek en naasteliefde. Waardes wat nog altyd in die verlede die vaste fondasie gevorm het vir die skep van ʼn toekoms van vrede, veiligheid en voorspoed.

Hierdie manifes ontsluit ʼn bouplan vir ʼn beter bedeling. Dit bevat die plan van die VF Plus om in die kort termyn herstel te bewerkstellig asook die beleidstandpunte vir ʼn beter bedeling.

Die bouplan bied daadwerklike oplossings en hoop om ʼn beter toekoms te bou. Dit behels:

  • veelpartyregerings wat die ANC uit bewind hou en die huidige verval herstel;
  • ʼn vryemarkstelsel wat bou en herstel moontlik maak;
  • ʼn klein sentrale regering met ʼn mindere rol in burgers se lewe; • die herstel van plaaslike regering;
  • die herstel van plaaslike regering;
  • selfstandige gemeenskappe as die boustene;
  • gemeenskappe se grondwetlike reg tot selfbeskikking as die sement; en
  • die afskaffing van wetgewing wat diskrimineer op grond van velkleur.

Die bouplan vir ʼn nuwe bedeling

Bou eerder as om te herverdeel en te diskrimineer

Ons kan herbou deur gelyke toegang tot geleenthede.

Die ANC soek egter ʼn sondebok vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika, vir al sy mislukking en vir die totale verval van infrastruktuur, staatsdepartemente en -entiteite. Hy gebruik wittes as die sondebok en probeer sy kiesers behou deur wittes en apartheid die skuld vir die krisisse te gee. Rassepolarisasie word vir korttermyn-politieke gewin gebruik.

Die oorsake van die verval lê by beleid wat ʼn gunstige omgewing vir wanbestuur, korrupsie en bedrog geskep het.

Die VF Plus is verbind tot ‘n regverdige bedeling vir almal. Dit geld nie slegs die meerderheid nie, maar ook minderheidsgroepe. Daarom is die party gekant teen maatreëls wat teen mense op grond van ras diskrimineer, soos Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat een van die kernoorsake vir swak dienslewering die toepassing van Regstellende Aksie is waardeur ervare bestuurders en professionele lui uit regeringsdepartemente en staatsentiteite verstoot en vervang is deur ANC-kaders.

Die VF Plus stem saam dat sommige mense met ʼn oorvloed potensiaal, hul volle potensiaal weens gebreke in die stelsels nooit bereik het nie. Sulke mense behoort aktief bygestaan te word, maar sonder benadeling van ander mense. Om raskwotas blindweg af te dwing, is ’n veelvuldige onreg.

Die uitgangspunt van die huidige regering om te poog om armoede te verlig en welvaart te skep deur welvaart te verdeel, sal nooit slaag nie. As gevolg van die gepaardgaande beleidsrigtings vind ekonomiese groei nie plaas nie en neem armoede en werkloosheid toe.

Hierdie beleidsrigtings spreek nie armoede aan nie, maar skep ʼn nuwe apartheid van die politieke elite teenoor die gewone burgers van die land.

Velkleur kan nie gebruik word as ʼn maatstaf vir minderbevoorregting nie en daarom moet velkleur nie as ʼn voorwaarde vir bemagtiging geld nie. Sosio-ekonomiese omstandighede soos armoede, werkloosheid en ʼn gebrek aan toegang tot gehalte onderwys, moet eerder as die grondslag vir bemagtiging geld.

Sommige mense word tans in posisies aangestel waarvoor hulle bloot nie toegerus is nie. Dit skep spanning by die persoon self en lei tot onproduktiwiteit. Dan is daar uiters bekwame swart mense wat in enige opset sou presteer, maar die wolk van twyfel hang oor so iemand: Was dit ’n regstellende aanstelling?

Onder wittes, bruines en ander nie-swartes word ’n nuwe geslag verbitterdes geskep. Mense wat volgens enige middeletoets vir hulp kwalifiseer en die potensiaal toon om te presteer, word op rassegronde oorgesien. Soortgelyke bitterheid het stukrag aan die ANC se magstryd verleen. Die VF Plus wil nie die belangrikheid van die lesse wat daaruit geleer is, verlore sien gaan nie en beywer hom om ’n herhaling daarvan te voorkom deur juis gelyke geleenthede vir alle Suid-Afrikaners voor te staan.

Die vanselfsprekende slagoffers van Regstellende Aksie is wit- en bruin mense wat hul werk verloor of nie werk kan kry nie, omdat hul velkleur verkeerd is. Die verskuilde slagoffers is almal wat werk sou kry of beter werk sou kry, beter dienste sou ontvang en beter lewensomstandighede sou gehad het, indien die ekonomie as geheel presteer het en kundige persone aangestel is om dienslewering aan almal te verbeter.

Die vertrekpunt en beleidsrigtings van die regering moet eerder daarop fokus om ʼn beter toekoms te bou as op transformasie en herverdeling.

Die toegang tot gelyke geleenthede moet bevorder word en ekonomiese groei moet die prioriteit wees. Indien volhoubare ekonomiese groei plaasvind, sal daar meer fondse beskikbaar wees om in maatskaplike behoeftes te voorsien, maar weens werkskepping wat sal plaasvind, sal minder mense van die staat vir maatskaplike funksies afhanklik wees.

Daar is ʼn noodsaak vir beleidsekerheid, ʼn doeltreffende regering en toereikende infrastruktuurontwikkeling om ʼn gunstige omgewing vir die privaat sektor te skep, om te belê, werk te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig.

Gelyke toegang tot geleenthede moet bevorder word om welvaart te skep.

Saamstaan om te herstel en te bou

Die VF Plus sal na die verkiesing, sonder prysgawe van sy selfstandige identiteit of beginsels, saamwerk met ander partye en organisasies indien die party daarvan oortuig is dat so ‘n samewerking die doelwitte van die gemeenskap en hierdie manifes sal bevorder, veral om die ANC se beheer van die nasionale en provinsiale regerings weg te neem.

Navorsing en opnames toon dat daar in die komende verkiesing in verskeie provinsies en ook nasionaal geen party sal wees wat ʼn 51%-meerderheid steun op hom sal verenig nie.

Veelparty-, oftewel koalisieregerings, maak dit moontlik dat opposisiepartye wat saamstaan ná die verkiesing ʼn belangrike rol in sekere provinsies en ook nasionaal gaan speel om die ANC en EFF uit bewind te hou.

Die voordeel van koalisieregerings is dat dit magsmisbruik minimaliseer en die waardes en denkrigtings van die groter gemeenskap, insluitend minderheidsgroepe, verteenwoordig.

Die VF Plus is ʼn lid van die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika. Dit is ʼn voorverkiesingsooreenkoms wat onderhandelinge rondom ʼn koalisieregering na afloop van die verkiesing sal vergemaklik.

Die VF Plus sal hom beywer vir ʼn koalisieregering en sal saamstaan om Suid-Afrika te herbou, maar sal nie met ander partye saamsmelt nie. Die party sal binne ʼn koalisieregering veg vir die regte van sy kiesers, opstaan teen rassediskriminasie en vir die verwesenliking van die party se missie en beleid.

ʼn VF Plus-kieser leen nie sy stem aan ʼn party deur slegs teen die ANC te stem nie, maar stem vir ʼn standvastige beleid wat in die kort- en lang termyn werklike oplossings bied. Die VF Plus bevorder hierdie beleid as opposisieparty en daar waar hy reeds deel van koalisieregerings op plaaslike vlak is.

Herbou met ’n klein, fikser regering sonder korrupsie

Suid-Afrika se staatsdiens is groot, lomp en amptenare word volgens internasionale standaarde te veel betaal. Dit is die gevolg van die sentralistiese denke uit die ANC se kommunistiese ideologie.

Ons moet herbou deur goeie regering op te eis. ’n Klein, doeltreffende regering gekenmerk deur harde werk en aanstellings op grond van meriete. Korrupsie moet aktief beveg word en die politieke wil moet bestaan om die persone wat by korrupte bedrywighede betrokke is of was, te vervolg. Dit moet ook hoog geplaasde politici insluit en nie soos tans beperk word tot die amptenary nie.

Die staatsdiens moet nie as werksverskaffer benader word nie, maar eerder as diensteverskaffer. Dit beteken dat ondernemings in staatsbesit geprivatiseer moet word en daar moet goeie beheer oor staatsbesteding (fiskale dissipline) wees.

In wese moet ʼn regering slegs gesag uitoefen oor sake wat in die openbare belang is. Die regering moet ʼn mindere rol in burgers se lewe speel. Daar bestaan tradisioneel drie kernfunksies waar die regering gesag mag uitoefen:

  1. Weermag: Die beskerming van die burgery teen eksterne gevare.
  2. Polisie: Die beskerming van die burgery teen interne gevare.
  3. Justisie: Onafhanklike, goeie howe en ʼn regstelsel vir siviele en strafsake waar almal gelyk voor die reg is.

Daar bestaan ook sekondêre funksies wat deur die regering vervul kan word op grond van die feit dat dit in openbare belang is en die regering goed geposisioneer is om aandag te gee aan die funksies op ʼn nasionale vlak by wyse van belasting:

  1. a) Gesondheidsorg: Die beskerming van die armes teen gesondheidsprobleme. Dit moet veral deur gesondheidsorg wat voorkomend van aard is, plaasvind. ʼn Omgewing vir privaat gesondheidsdienste moet ook geskep word vir kwaliteit- en koste-effektiewe dienste. Staatshospitale en -klinieke moet deur privaat diensverskaffers bestuur word.
  2. Onderwys: Die daarstelling van goeie, relevante, gehalte basiese- en hoër onderwys ten einde ʼn werksmag te skep wat internasionaal kan meeding in ʼn globaliserende wêreld. ʼn Omgewing vir privaat skole, tuisskole en tersiêre onderrig moet geskep word vir kwaliteit- en koste-effektiewe onderrig.
  3. Infrastruktuur: Die daarstelling en onderhoud van openbare paaie, brûe, openbare vervoerstelsels, damme, waterstelsels, treinspore, ens.
  4. Maatskaplike sorg: Maatskaplike toelaes is geregverdig, maar die oogmerk moet wees om afhanklikes van hierdie toelae te verminder deur gunstige omstandighede te skep wat finansiële selfstandigheid en welvaart bevorder.

Die staande reël moet wees dat die regering op geen wyse self mag deelneem aan die vrye mark nie vanweë die onbehoorlike voordeel wat geskep word weens die disproporsionele mag, grootte en polisiëringsvermoë van die regering.

Dienste moet deur die vrye mark daargestel word deur ondernemings wat geleenthede raaksien en beide privaat- en openbare dienste lewer in mededinging met mekaar ten einde effektiewe en lae markgedrewe pryse te verseker. Daarom het ʼn staatslugredery geen bestaansreg nie en moet kragopwekking ook oorgelaat word aan mededingende bedrywe wat by wyse van innovasie kan meeding om skoner en optimale elektrisiteit te voorsien.

ʼn VF Plus-kabinet sal veel kleiner as die huidige onvolhoubare, lomp uitvoerende gesag wees. Daar moet slegs een minister aan die hoof van elke portefeulje staan wat ʼn kundige op die betrokke terrein is. Die ministeriële handboek moet hersien word om kostes wat met ministers gepaard gaan, drasties te beperk. Die besparing moet tot op die laagste vlak deurgevoer word.

Die sentrale kabinet se belangrikste taak moet wees om die desentralisering van regering (afwenteling van mag) te fasiliteer. In elke departement moet minimum standaarde gestel word en hulp voorsien word vir die oordrag van uitvoerende vermoë na provinsies, munisipaliteite en gemeenskapsrade, soos toepaslik. Die sentrale regering moet dan beskikbaar wees as gesag waarheen daar, in geval van dispuut, geappelleer kan word.

ʼn Kleiner staat beteken nie om weerlose mense aan die wispelturigheid van die mark oor te laat nie – ʼn gemeenskapsgegronde staatsbestel, soos deur die VF Plus voorgestel, doen juis die teenoorgestelde. Dit verryk demokratiese deelname in die burger se ervaringswêreld, terwyl die sentrale staat bloot bestaan om foute en misbruike wat mag voorkom, te korrigeer.

Die gemeenskap as boublok

Suid-Afrika is tans ʼn unie met federale kenmerke. ’n Federale kenmerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet is die provinsies. Min van hierdie federale eienskappe realiseer egter, omdat bitter min magte in provinsiale regerings sonder nasionale inmenging gesetel is.

Die VF Plus glo, daarenteen, aan die beginsel van subsidiariteit. Dit beteken dat alle gesag op die laagste moontlike vlak uitgeoefen word. Provinsies doen slegs wat munisipaliteite nie kan doen nie en nasionale regerings slegs wat provinsies nie kan doen nie. Dit bevorder deelname en gee ryker inhoud aan demokrasie.

Dienslewering moet op plaaslike en provinsiale vlak plaasvind, terwyl die nasionale regering slegs minimum standaarde stel en werksaamhede koördineer.

Swak regering en binnegevegte, kenmerkend van ANC-beheerde provinsiale regerings, moet uitgeroei word. VF Plus-verteenwoordigers in elke provinsiale wetgewer sal hulle beywer om óf in ’n koalisie die ANC tot ’n val te bring, óf ’n valkoog daaroor te hou.

Die sleutelpunt van die VF Plus se beleid is om Suid-Afrika as territoriale staat te omvorm tot ʼn staat waarvan gemeenskappe die grondliggende eenheid is.

Die demokratiese republiek kan nie ʼn groot staat wees waar openbare deelname slegs uit verkiesings bestaan nie. Die samestelling van die republiek moet ʼn burgery met gedeelde waardes moontlik maak, wat sinvol oor die gemeenskaplike besit kan regeer.

Terwyl besluite op die laagste moontlike vlak geneem word, vervul hoër regeringsvlakke die rol van korreksie – dit is dus moontlik om oor ʼn besluit na die volgende vlak te appelleer indien ʼn burger voel dat nie alle faktore in ag geneem is nie.

Gemeenskappe word as die boublokke van ʼn nuwe bedeling en ʼn beter toekoms geag. Die gesag (oftewel mag) moet daarom so na as moontlik aan die mense – die gemeenskap – gesetel word.

Herstel plaaslike regering

Dit beteken dat die stelsel van plaaslike regering hersien moet word. Die basiese regeringsvlak moet die plaaslike gemeenskap wees.

Die grootste mislukking van die ANC-regering is die stand van munisipaliteite. Dienslewering faal en die meeste munisipaliteite is feitlik bankrot en onvolhoubaar.

Dorpe is saamgevoeg om groot munisipaliteite of metrorade te vorm, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en top-amptenare.

Die VF Plus se ondersteuning van subsidiariteit kan moeilik verwesenlik word solank munisipale rade die mees onbekwame vlak van regering is. Die probleem is nie te veel mag op die plaaslike vlak nie, maar te min.

Munisipale gebiede is so groot, dat dit nie meer regering op voetsoolvlak is nie. Boonop gebruik die ANC munisipaliteite as ’n kanaal vir die ontplooiing van kaders.

Plaaslike munisipaliteite moet elk slegs een dorp omvat. Daar is geen bewyse dat die stelsel van kant-tot-wal-munisipaliteite voordelig is nie, behalwe vir ʼn klein elite van raadslede en amptenare.

Die VF Plus sal daarom ʼn proses van herafbakening eis waar munisipale gebiede verklein word om dienslewering en besluitneming so ná as moontlik aan die betrokke gemeenskap te setel.

Tans benodig die meeste munisipaliteite ʼn provinsiale ingryping (ingevolge artikel 139 van die Grondwet). Die probleem is natuurlik dat meeste provinsiale regerings self wanfunksioneel is en ingryping benodig. Die nasionale regering is tans ook nie bevoeg om effektief op provinsiale of munisipale vlak in te gryp nie.

Die VF Plus sal hom beywer vir ingrypings op die kort termyn wat gestuur word deur kundigheid met die doel om die swak finansiële- en algemene bestuur van munisipaliteite aan te spreek terwyl munisipale grense herafgebaken word om gebiede kleiner te maak.

Munisipale amptenare wat wetgewing oortree en in besonder verantwoordelik is vir besoedeling van waterbronne, korrupsie en bedrog, moet deur die nasionale regering strafregtelik aangekla word. Spesiale ondersoekeenhede moet in hierdie verband tot stand kom.

Die sement – selfbeskikking

Die VF Plus sien diversiteit as ‘n bate vir Suid-Afrika. Diversiteit moet daarom op alle vlakke van regering erken en gekoester word. Dit sluit in respek vir alle gemeenskappe se taal, simbole, historiese name en erfenis.

Ons benodig dringend ‘n nuwe staatkundige bedeling waarin ware erkenning gegee word aan dié diversiteit van Suid-Afrika as die boublokke van ware eenheid in verskeidenheid. ‘n Bedeling gebou op respek vir mekaar, sonder diskriminasie en rassisme, met gelyke geleenthede, en met erkenning van elkeen se eie, sowel as die gemeenskaplike. Dus ’n bestel waarin die korrekte vorme van selfbeskikking toegepas word. Artikels 235, 30, 31 en 185 van die Grondwet, sowel as die Akkoord oor Selfbeskikking, is van sleutelbelang en die VF Plus is verbind daartoe.

Hierdie benadering is ʼn moderne en praktiese staatkundige benadering. Federalisme, afwenteling van gesag, subsidiariteit, meer magte aan geografiese boublokke, outonomie van gebiede en provinsies, groter Kaapse vryheid, selfdoen en kleiner regering is alles moontlike alternatiewe en noodsaaklike boustene van so ʼn staatkundige model.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat nie een enkele van hierdie moontlikhede die enigste eksklusiewe oplossing is nie. Dit is nie ’n situasie waar dit óf hierdie óf daardie oplossing alleen is nie. Dit gaan juis vanweë ons verskeidenheid en weens die verskillende omstandighede in verskillende gedeeltes van Suid-Afrika ʼn situasie wees van dié oplossing en ook daardie oplossing, asook nog ʼn verdere variasie van oplossings.

Die VF Plus ondersteun daarom die verskeie inisiatiewe wat hierdie oplossings bevorder, insluitend CapeXit. Dit is belangrik dat geregistreerde kiesers in die Wes-Kaap die kans moet kry om hulself uit te spreek oor die selfbeskikkingspad wat hulle wil loop na groter selfstandigheid en eie besluitneming oor hul toekoms wat kan lei tot outonomie en moontlike onafhanklikheid.

Die VF Plus streef ook na outonomie wat vir ʼn kultuurgemeenskap regoor die land geld, oor onderwys, bejaardesorg, sport, erfenisbewaring en ander soortgelyke sake.

Gemeenskapsrade, byvoorbeeld ʼn Afrikanerraad, moet tot stand kom vir gemeenskappe wat regoor die land versprei is.

So ʼn raad moet beheer oor onderwys, erfenisbewaring en maatskaplike sorg van daardie gemeenskap uitoefen. Wêreldwyd word dit beskou as die basiese aspekte waaroor nasionale minderhede self kan beskik.

In die praktyk sal dit beteken dat die beheerraad van elke skool, maatskaplike instelling (byvoorbeeld ouetehuis of kinderhuis) en erfenisinstelling (byvoorbeeld museum of erfenisterrein) besluit of dit onder die bestaande owerheid of onder die gemeenskapsraad wil ressorteer.

Hierdie is nie ’n rasseverdeling nie. ’n Tradisionele Afrikanerskool mag dalk glad nie daarin belangstel om onder die Afrikanerraad te staan nie, maar ’n tradisionele bruin skool wel. Dit is elkeen se keuse.

Hierdie raad sal dit dus vir Afrikaners, waar hulle ook al woon, moontlik maak om hulle kultuurregte uit te oefen.

Op dié manier kan ʼn republikeinse regering mettertyd gevestig word, ten koste van die huidige tirannie van die meerderheid.

Daar moet ʼn wetlike raamwerk vir doelgestigte gemeenskappe tot stand kom. Gemeenskapseiendomsverenigings voldoen aan daardie behoefte, maar dit is volgens die wet wat dit reguleer, beperk tot gemeenskappe wat grond kragtens grondhervorming ontvang. In praktyk beteken dit dus slegs swart en enkele bruin gemeenskappe.

Beleid vir die bou van ʼn beter toekoms

Herstel die ekonomie en bou welvaart

Suid-Afrika beleef tans ʼn ekonomiese krisis vanweë die wanbestuur en vergrype van die ANC-regering.

As gevolg van beperkte werksgeleenthede en ontoereikende ekonomiese groei, is daar ʼn klein belastingbasis en groot maatskaplike behoeftes en besteding. Dit en die regering se buitensporige salarisrekening het enorme staatskuld en gepaardgaande rente op die skuld tot gevolg wat die fiskale afgrond al hoe nader bring.

Terwyl die ekonomie nie genoegsaam groei nie, sal die fiskale dilemma voortwoed en sal die regering meer bestee as wat dit invorder. Die begrotingstekort word dan geleen en so bou die staatskuld op en slurp die rente op hierdie skuld die begroting op.

Volhoubare ekonomiese groei is slegs moontlik indien betroubare elektrisiteitsvoorsiening herstel word, infrastruktuur opgegradeer en gebou word en dienslewering deur alle vlakke van regering effektief geskied.

Ander aspekte wat die VF Plus sal aanspreek om die ekonomie te herstel, is soos volg:

  1. Die afskaffing van Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleide en Regstellende Aksie met die fokusverskuiwing na vaardigheidsontwikkeling en onderwys van ʼn hoë gehalte. Die Gelyke Indiensnemingswet moet geskrap word.
  2. Korrupsie op alle vlakke van die regering moet uitgeroei word deur die nodige politieke wil om skuldiges te vervolg en korrupte aktiwiteite te stuit.
  3. Die wegdoen met onnodige regulasies wat dit tans moeilik maak om sake-ondernemings te begin en te bedryf. Daar moet regulatoriese duidelikheid en deregulering wees.
  4. Beleidsekerheid is nodig om beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Die begrip van onteiening van eiendom teen “nil vergoeding” moet dadelik gestuit word en die nuwe Onteieningswetsontwerp wat poog om dit moontlik te maak, moet geskrap word.
  5. Arbeidswetgewing en -regulasies moet aangepas word om werkskepping aan te moedig en te vergemaklik.
  6. Visum-regulasies moet verslap word en ʼn stelsel van e-visums moet ingestel word om reis na Suid-Afrika te vergemaklik.
  7. Ander strukturele hervorming moet behels om versperrings tot die vierde industriële revolusie te verwyder deur onder meer die ontsluiting van breëspektrum-internettoegang en wetgewende hervorming met betrekking tot kubersekuriteit en kunsmatige intelligensie
  8. Privatiseer staatsbeheerde ondernemings en stop alle reddingsboeie aan gefaalde entiteite. Die SAL moet ten volle geprivatiseer word en geen belastinggeld moet meer aangewend word aan dié lugredery nie.
  9. Gehalte onderwys en vaardigheidsontwikkeling is nodig om volhoubaar werkloosheid uit te roei.
  10. Spesiale Ekonomiese Sones moet uitgebrei en gekonsolideer word. Sodanige gebiede moet vrygestel word van regulasies wat entrepeneurskap stuit.
  11. Staatsbesteding moet fokus op infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding om beleggings en ekonomiese groei moontlik te maak.
  12. Die ontwikkeling van ʼn omgewingsvriendelike beleidsraamwerk en die effektiewe toepassing van omgewingswetgewing is nodig vir gunstige omstandighede vir volhoubare landbou-, bosbou- en visserybedrywighede.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat slegs die vryemark ekonomiese waarde volledig kan ontsluit, skep, bevorder en beskerm. Die hoeksteen van die vryemark is privaat eiendomsreg waarsonder daar geen aanmoediging sal bestaan om handel te dryf nie.

Toegang tot gelyke geleenthede moet geskep word met beleid wat die versperrings tot ekonomiese groei en vooruitgang verwyder.

Staatsbesteding moet verminder word deur:

  • alle staatsondernemings te privatiseer deur middel van ʼn mengsel van gedeeltelike verkoping en volle verkoping;
  • staatsdiensaanstellings slegs op grond van meriete te laat geskied;
  • salarisskale van senior bestuursposte te hersien;
  • prestasiebonusse aan staatsamptenare te beperk;
  • salarisverhogings tot nie hoër as inflasie te beperk;
  • korrupsie uit te roei; en
  • die staatsdiens te verklein en ministeries te verminder.

Die regering mag nie meer bestee as wat hy inkry deur belasting nie. Dit sal die regering dwing om eerder beleid te implementeer wat die ekonomie sal laat groei. Indien daar egter enige tekorte in die begroting is, kan dit hoogstens deur skuld aangevul word indien die tekort en kapitaalbesteding ten minste dieselfde is.

Persoonlike en maatskappybelasting moet verlaag word ten einde belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep.

Die VF Plus sal ’n fiskale kommissie tot stand bring, soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank. ’n Bogrens vir staatsbesteding sal geformuleer word. Wanneer dit bereik word, sal die fiskale kommissie die bevoegdheid hê om BTW te verhoog. Wanneer die gevaar afneem, kan dié koers weer verlaag word.

Dit is nie asof enigeen hoër belastings begeer nie, maar soos rentekoerse private besteding aan bande lê of stimuleer, kan BTW dieselfde vir staatsbesteding doen. 

BTW moet as billike instrument gebruik word om begrotingstekorte aan te vul. BTW verbreed die belastingbasis en BTW is juis billik omdat almal meer sal betaal, maar aan die ander kant van die maatskaplike spektrum sal fondse beskikbaar gestel word om ook beter in maatskaplike behoeftes te voorsien.

Die brandstofheffing moet aansienlik verminder word en mag slegs vir die ontwikkeling van pad- en vervoerinfrastruktuur aangewend word. Die padongelukfonds moet afgeskaf word. Elke motoreienaar moet eerder deur wetgewing verplig word om ʼn derdeparty-versekeringspolis uit te neem.

Ander tariewe en heffings moet ook afwaarts aangepas word om besteding in te perk en sodoende die ekonomie te stimuleer.

Die staat moet sy geld verdien, pleks van opeis. Waar die regering faal om basiese dienste te lewer en infrastruktuur te herstel en die gemeenskap moet intree om hierdie funksies (soos die herstel van slaggate en beveiliging) te verrig, staan die VF Plus belastingkortings voor.

  • Beperk staatsbesteding.
  • Privatiseer staatsentiteite, soos Eskom.
  • Bring belastingverligting vir persone en ondernemings.
  • Bring ʼn fiskale kommissie tot stand wat onder meer die BTW-koers aanpas.
  • Stel kundiges by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aan.
  • Skaf die padongeluksfonds af en vervang dit met wetgewing wat derdeparty-versekering vir alle motoreienaars verplig.
  • Verlaag die brandstofheffing en wend dit slegs vir pad- en vervoerinfrastruktuur aan.
  • Die staat moet sy geld verdien, pleks van opeis.
  • Belastingkorting vir ondernemings en persone wat regeringsfunksies verrig.

Herstel en bou volhoubare elektrisiteitsvoorsiening

Suid-Afrika beleef ʼn energiekrisis wat ekonomiese groei kniehalter en die lewe van burgers ontwrig. Die ekonomie sal nie herstel kan word terwyl beurtkrag voortduur en daar nie volhoubare en betroubare elektrisiteitsvoorsiening is nie.

Die energiekrisis moet op die kort termyn soos volg aangespreek word:

  1. Belê in die opgradering en instandhouding van die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk. Dit kan die vorm aanneem van samewerking met die privaat sektor.
  2. Wysig die betrokke wetgewing om elektrisiteitsdiefstal (onder meer onwettige koppelings) ʼn statutêre oortreding te maak en vervolg diegene wat elektrisiteit onwettig gebruik.
  3. Effektiewe beveiliging van elektrisiteitsinfrastruktuur om sabotasie en kabeldiefstal te voorkom.
  4. Moedig die oorskakeling na hernubare-energiebronne, soos sonpanele, aan deur belastingkortings en ʼn nil-BTW-koers op panele en ander komponente.
  5. Finaliseer die ontbondeling van Eskom in aparte entiteite verantwoordelik vir elektrisiteitsopwekking en -verspreiding.

Op die medium- tot langer termyn moet Eskom geprivatiseer word en moet ʼn mededingende energiesektor moontlik gemaak word.

Sentrale kragvoorsiening deur gekonsentreerde opwekkingseenhede en ’n landwye netwerk moet grootliks deur plaaslike kragvoorsiening en mikronetwerke vervang word. Die oorskakeling na hernubare-energie op groot skaal moet dan groter prioriteit geniet. Addisionele elektrisiteit wat privaat huishoudings en ondernemings opgewek word, moet teen meer mededingende tariewe aangekoop word.

Die oes, berging en verspreiding van hernubare-energie moet beklemtoon word. Onderontwikkelde dele van die land, veral in die Noord- en Wes-Kaap, is goed geleë om ’n energie-revolusie te bewerkstellig. Dit is van ʼn verbeterde verspreidingsnetwerk afhanklik.

  • Prioritiseer die gebruik van hernubare-energie.
  • Dereguleer die elektrisiteitsektor om mededinging tussen elektrisiteitsverskaffers moontlik te maak.
  • Ontbondel Eskom volledig en privatiseer die entiteite.
  • Belastingkortings aan persone en sakeondernemings wat oorskakel na alternatiewe energiebronne en addisionele elektrisiteit wat huishoudings en ondernemings opwek, moet teen mededingende tariewe aangekoop word.
  • Benut onderontwikkelde gebiede, soos in die Noord- en Wes-Kaap om hernubare-energie te oes en gradeer die verspreidingsnetwerk op om elektrisiteit vanaf hierdie gebiede na stede te kan versprei.

Bou deur werkskepping

Ons land, asook die hele Afrika-kontinent, beskik oor ’n demografiese dividend oor die volgende paar jaar weens ons jong bevolking wat aangewend kan word om grootskaalse groei te bewerkstellig.

Onbuigsame arbeidswetgewing is een van die grootste hindernisse in die pad van ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika. Nie alleen is dit moeilik om onbekwame werksmense uit diens te stel nie, daar moet ook voortdurend aan transformasieteikens voldoen word.

Arbeidswetgewing moet aangepas word om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou moet word.

Stakings en spesifiek onwettige stakings wat tot die verlies van honderdduisende werksgeleenthede lei, moet daadwerklik beperk en verbied word. Vakbonde se mag moet ingeperk word en hul onverantwoordelike optrede wat tot werkverliese lei, moet met kragtige wetgewing verhinder word.

Die VF Plus sal transformasieteikens en Swart Ekonomiese Bemagtiging uit regeringsbeleid verwyder. Dit sal die private sektor aanmoedig om die beste moontlike personeel aan te stel om ekonomiese groei te bevorder.

Onderwys en opleiding moet die jeug vir werk voorberei. Tans is meer as 80% van skoliere wat die skool verlaat, nie vir die werksplek opgelei of voorberei nie. Opleidingsinstellings wat ambagslui oplei, moet toeganklik en toegerus wees om die jeug toe te rus om die werksplek te betree en moet ook ‘n entrepreneursklimaat skep.

Die behoefte aan geskoolde arbeid wat in ʼn ope mark gevind moet word, is die beste meganisme om alle landsburgers in die volle sin van die woord met kundigheid, vaardighede en werksetiek te bemagtig.

Ouers moet bereid wees om hulself tekort te doen ; studente moet bereid wees om méér as die minimum te doen; en werkgewers moet bereid wees om in opleiding te belê.

En die regering? Onder die VF Plus sal die regering steeds beurse gee, maar ook teenprestasie eis. Niks wat waardevol is, is gratis nie.

Geen regering kan werk volhoubaar skep nie. Daarom is die VF Plus oortuig daarvan dat werkloosheid slegs oorkom kan word as regeringsbeleid verander om ‘n gunstige omgewing vir werkskepping en beleggings te bewerkstellig.

Werk kan ook nie deur wetgewing geskep word nie. Wetgewing wat poog om werkloosheid te beperk, sal lei tot verdere oorregulering wat ongunstig is vir volhoubare werkskepping.

Hierdie beleid is daarop gemik om die Suid-Afrikaanse bevolking te omskep van een wat van welsynstoelae afhanklik is, tot een wat die land se dryfkrag vir ekonomiese groei is.

Los rassediskriminasie vir altyd in die verlede en bou ʼn beter toekoms deur ontwikkeling.

  • Pas onbuigsame arbeidswetgewing aan om volhoubare werkskepping te bevorder.
  • Voorkom onbillike arbeidspraktyke.
  • Skaf transformasieteikens af en fokus eerder op ontwikkeling.
  • Skep ʼn gunstige omgewing vir werkskepping deur regeringsbeleid wat ekonomiese groei stimuleer en die vrye mark bevorder.

Toeganklike hoëgehalte-onderwys as die hoeksteen

Hoëgehalte-onderwys hang van ’n nuwe onderwyskultuur af. ’n Kultuur van harde werk, verbeterde standaarde en eerlikheid is nodig. Verder beskou die VF Plus goeie werksetiek by onderwysers en dosente as van allergrootste belang. Vakbonde met ’n afbrekende tradisie moet in bedwang gebring word.

Vakbonde in die basiese onderwysomgewing vir onderwysers moet vervang word met ʼn konsiliasie- en arbitrasiestelsel ten einde massastakings en ongedissiplineerde onderwysers aan te spreek, veral in minder gegoede skole waar leerders die meeste aandag benodig.

Skole moet plekke van veiligheid wees. Die VF Plus is daarvan oortuig dat alle vorme van protesaksies en betogings in die onmiddellike omgewings van skole verbode moet wees en beskou dit as een van die min positiewe kenmerke van die omstrede Bela-wetsontwerp.

Onderwysers wat bereid is om in minder gegoede skole te werk, moet hoër besoldiging ontvang en prestasiebonusse moet vir alle onderwysers beskikbaar gestel word met hoër bonusse vir onderwysers in minder gegoede skole.

Die VF Plus stel ‘n stelsel van ouer- en gemeenskapsgedrewe moedertaalonderwys voor. Gemeenskappe moet in staat gestel word om met owerheidsbystand gemeenskapskole te vestig.

Volgens die onderwysbegroting moet die begrote koste per leerder aan die skool van die ouers se keuse betaal word. Dit kan by wyse van ʼn stelsel geadministreer word waar onderwyskoepons aan ouers uitgereik word om dit by die skool van hul keuse in te dien. In so ʼn stelsel word leerders, nie skole gesubsidieer nie en het ouers die keuse van openbare skole, onafhanklike gemeenskapskole of tuisonderrig.

Gemeenskapsrade wat hul vermoë daartoe kan bewys, moet die reg kry om as onderwysdepartement oor provinsiale grense heen op te tree.

Elke skool moet die reg uitoefen om onder die provinsiale onderwysdepartement of dié van ʼn gemeenskapsraad te staan. Elke skool moet ook die reg uitoefen om die departement van onderwys se assessering te volg, of dié van enige van die twee onafhanklike assesseringsliggame wat in Suid-Afrika geregistreer is.

Ouers wat verkies om tuisonderrig aan hul kinders te verskaf, moet toegelaat word om dit te doen. Tuisskole moet registreer, maar daar behoort nie ʼn vereiste vir toestemming te wees nie. Hulle moet wel bewyse van toepaslike opvoedkundige aktiwiteit lewer. Eksterne eksamens aan die einde van graad nege en graad 12 kan die gehalte van tuisonderrig kontroleer.

Die afskeep van moedertaalonderrig dra by tot swak prestasie en die hoë uitvalsyfer. Die feit dat Afrikaans- en Engelssprekende leerders in hul moedertaal onderwys ontvang, verklaar waarskynlik waarom ʼn groter persentasie van hul graad eens op skool bly tot in graad 12. Selfs op tersiêre vlak hou moedertaalonderrig meetbare voordele in. Die basis van die VF Plus se onderwysbeleid is daarom dat moedertaalonderrig vir elkeen beskikbaar moet wees – hoewel dit natuurlik op niemand afgedwing moet word nie. Die VF Plus is van mening dat daar wel ten minste een tersiêre instelling in die Noorde en een in die Suide van die land behoort te wees wat oorwegend Afrikaans as medium van onderrig gebruik.

Die Bela-wetsontwerp, ten spyte van enkele goeie elemente, beweeg in die teenoorgestelde rigting met betrekking tot onderwys as wat die VF Plus voorstaan. Dit verskuif die drie deurslaggewende bevoegdhede, naamlik die saamstel van taal-, godsdiens- en toelatingsbeleid se finale seggenskap van skoolbeheerliggame na die provinsiale onderwysdepartement.

Provinsiale onderwysdepartemente het tans die dubbele funksie om onderwys te voorsien, maar ook om mededingende vorms van onderwys, soos onafhanklike- en tuisskole te reguleer. Soos in die energie- en kommunikasiesektore behoort ʼn owerheidsliggaam nie tegelyk rolspeler en reguleerder te wees nie. Die VF Plus beywer hom dus vir ʼn onafhanklike onderwysreguleerder – ʼn funksie wat moontlik by die Raad vir Gehaltebeheer in Basiese Onderwys (Umalusi) gevoeg kan word.

Beurse vir presterende leerders moet op grond van meriete en finansiële behoefte in samewerking met verskeie privaatbedrywe beskikbaar gestel word op voorwaarde dat hulle vir elke studiejaar ʼn jaar terugwerk.

Die hoeksteen van ʼn nuwe bedeling waar daar gebou word aan ʼn beter toekoms vir almal, is gehalte onderwys wat vir almal toeganklik is.

  • Moedertaalonderwys tot op die hoogste moontlike vlak.
  • Subsidieer kinders eerder as skole.
  • Gemeenskapskole met owerheidbystand.
  • Vervang die Bela-wetsontwerp.
  • ʼn Hoë standaard van onderwys om internasionaal te kan meeding.
  • Die funksies om onderwysdienste te lewer en om onderwys te reguleer moet geskei word.

Bou met land, bos en see

Die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika word bedreig deur ʼn onbetroubare klimaat; stygende insetkoste; gebrekkige staatshulp in die vorm van navorsing, rampverligting en oordeelkundige tariefbeskerming; teikengerigte plaasaanvalle met oormatige wreedheid en die beleidsrigting van onteiening teen “nil vergoeding”.

Drie faktore is van kritieke belang: Son, water en geneties bepaalde opbrengspotensiaal. In Suid-Afrika is die eerste volop en die tweede skaars. Die land kan nie oorbenutting óf onderbenutting van biologiese hulpbronne bekostig nie.

In vergelyking met Suid-Afrika se grootste handelsvennote, is die land arm aan hierdie hulpbronne. Groot dele van die land is te droog vir grondbewerking en kan slegs ekstensief deur vee benut word. Selfs die dele wat bewerk word, word gekenmerk deur onbetroubare reënval en met lae organiese grondinhoud.

Bosbou is in klein, gespesialiseerde gebiede moontlik en is grootliks van uitheemse bome van meer vogtige wêrelddele afhanklik. Dit verhoog die sektor se klimaatsrisiko.

Selfs die betreklik ryk seebronne se produktiwiteit neem af weens oorbenutting.

Die VF Plus se beleid is dat benutting van biologiese hulpbronne in samehang met die wêreld soos dit tans ontvou, benader moet word. Dit is uiters belangrik dat ʼn verantwoordelike omgewingsbeleidsraamwerk in plek gestel moet word om landbougrond en waterhulpbronne te beskerm.

Die kulturele waarde van grond, woude en visvelde vir kultuurgroepe moet erken word. Terselfdertyd moet die noodsaak van voedselsekuriteit en kommersiële landbou se rol daarin erken word. Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping moet al hierdie groepe bevoordeel.

Die VF Plus steun groter staatsbesteding aan landbounavorsing om te verseker dat instansies soos die Landbounavorsingsraad en die Waternavorsingskommissie Suid-Afrika op die voorpunt van navorsing met betrekking tot skaars hulpbronne geplaas word.

Landbou as primêre bedryf in die ekonomie is ’n wesenlike rolspeler as werkskepper, voedselprodusent en inkomstevermenigvuldiger en behoort daarom deur die regering gekoester te word.

Land- en bosbou behoort beskerm te word teen tarief- en subsidiebevoordeling deur internasionale rolspelers en die storting van substandaard ingevoerde bos- en landbouprodukte.

Rampverligting, soos droogtehulp, moet effektief bestuur word en moet aangewend word om alle voedselprodusente in tye van natuurrampe by te staan. Die Landbank moet in tye van finansiële nood as gevolg van hierdie rampe, rentevrye korttermynlenings aan produsente toestaan.

Die VF Plus dring daarop aan dat ’n maatskaplike, ekonomiese en politieke omgewing geskep word, wat dit vir kommersiële boere moontlik maak om voedselsekerheid te verseker.

Die regering se bestuur van visserye is deurspek met korrupsie en oneffektiwiteit. Die departement verkeer in ʼn voortslepende toestand van chaos.

Visserye word gekniehalter deur hierdie burokratiese nagmerrie. Veral kleinskaal vissermanne en -vroue word tans gemarginaliseer en uitgesluit deur die regering se regulasies. Dit dra by tot werkloosheid en armoede in hierdie betrokke gemeenskappe.

Daar word permitte en visvangregte aan persone en ondernemings toegestaan wat nie aan die kus geleë is nie, terwyl vissers wat reeds vir generasies op klein skaal visvang vir hul lewensbestaan, nie permitte verkry nie.

Die VF Plus sal verseker dat kleinskaal-viskwotas aan gemeenskappe in en om kusgebiede toegeken word. Meganismes sal in plek gestel word om frontmaatskappye en misbruik te voorkom. Verantwoordelike visvangpraktyke moet bevorder word.

Kommersiële kwotas moet op voorwaarde van volhoubare visvangpraktyke toegeken word en seebronne moet beskerm word teen buitelandse visvangbedrywighede.

Landbou, bosbou en visserye moet gekoester word as sektore wat werk skep, armoede verlig, tot ekonomiese groei bydra en voedselsekerheid beskerm.

  • Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping tot voordeel van alle landbouers.
  • Staan landbouers by om woestynvorming te keer en grond te rehabiliteer.
  • Voedselsekerheid moet beskerm word.
  • Kleinskaal viskwotas moet aan gemeenskappe in en om kusgebiede toegewys word en frontmaatskappye en misbruik moet voorkom word.
  • Seebronne moet beskerm word teen buitelandse visvangbedrywighede.
  • Verantwoordelike en volhoubare visvangpraktyke moet bevorder word.

Volhoubare ontwikkeling en die omgewing

Omgewingsverandering vind onteenseglik plaas en die toename in intensiteit van droogtes en vloede is tot Suid-Afrika se nadeel.

Wat die oorsaak ook al is, die oplossing is nie om slegs minder koolstof vry te stel nie, maar om die hernude binding daarvan te bewerkstellig. Hier speel die VF Plus se beleid oor energie ’n sentrale rol.

Die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende produkte, praktyke en energiebronne.

Dit behels nie slegs toenemende vervanging van steenkoolkragstasies met hernubare-energie nie, maar ook petrol- en dieselaangedrewe vervoer met elektriese en waterstofaangedrewe vervoer. Onder die VF Plus sal Suid-Afrika aan die voorpunt hiervan wees.

Die omgewing moet verder beskerm word deur effektiewe polisiëring met betrekking tot besoedeling en die oortreding van toepaslike wetgewing. Die wetstoepassers (Groen Skerpioene) moet behoorlik bemagtig word om hierdie funksie te verrig.

Tans is die regering self vir die mees drastiese besoedeling van waterbronne verantwoordelik waar rioolaanlegte nie funksioneel bestuur word nie. Suid-Afrika verloor miljarde liters water as gevolg van waterinfrastruktuur wat nie in stand gehou word nie.

Hierdie infrastruktuur moet as prioriteit opgradeer word en gereelde instandhouding moet plaasvind.

Waar ʼn vlak van die regering verantwoordelik is vir besoedeling of oortreding van omgewingswetgewing, moet die betrokke rekenpligtige amptenaar strafregtelik vervolg word.

Die opgradering en instandhouding van rioolaanlegte en stortingsterreine moet prioriteit geniet. Daar moet voorwaardelike toekennings vanuit die nasionale fiskus aan munisipaliteite toegewys word om bestaande rioolinfrastruktuur en stortingsterreine op te gradeer.

Praktiese oplossings moet ondersoek word om rommelbesoedeling van riviere, damme en die see te voorkom. Dreineringsnette is een voorbeeld. Munisipaliteite moet verplig word om nette by stormwaterdreineringspype aan te bring om sodoende veral te voorkom dat plastiekrommel in waterbronne opeindig.

Baie meer kan gedoen word om plastiek en ander besoedeling te voorkom. ʼn Kultuur van herwinning moet aangemoedig word en geordende herwinning van rommel kan baie werksgeleenthede skep en strek tot voordeel van die gemeenskap en die omgewing.

Die verlies aan water moet beperk word deur die modernisering van waterbestuur, belegging in bestaande infrastruktuur en die identifisering van waterlekkasies. Dit beteken om munisipaliteite te verplig om eerstens goeie rekord te hou van wateraankope, -verspreiding en -verkope. Sodoende kan die hoeveelheid nie-inkomstegenerende water akkuraat gerapporteer word en waterverlies bepaal word. Dit is belangrik om eers bestaande waterinfrastruktuur op te gradeer alvorens daar in nuwe infrastruktuur belê word. Meer damme moet egter gebou word in veral gebiede wat gereelde droogtes beleef.

Die kernoorsake van woestynvorming wat al hoe meer produktiewe landbougrond bedreig, moet beveg word. Hierdie oorsake is oorbewerking, ontbossing en swak besproeiingsmetodes. Om woestynvorming te keer, moet integrasie van grond- en waterbestuur plaasvind om gronderosie en die versouting van droëlande te verhoed. Gemeenskappe moet bemagtig word om woestynvorming te keer deur die effektiewe bestuur van droëlandhulpbronne. Landbouers moet ook bygestaan word met die rehabilitasie van grond daar waar woestynvorming reeds plaasgevind het.

Die praktyke om woestynvorming te verhinder moet as prioriteit op alle grond in staatsbesit geïmplementeer word. Daar waar daar reeds woestynvorming op staatsgrond plaasgevind het, moet rehabilitasie geprioritiseer word.

ʼn Verbod moet geplaas word op die toetsing van kosmetiese produkte op diere. Die jag van leeus in aanhouding moet daadwerklik aangespreek en verbied word.

Gemeenskappe moet egter die voordele van natuurlike hulpbronne geniet deur die volhoubare benutting daarvan moontlik te maak. Die balans tussen bewaring en die benutting van hierdie hulpbronne moet die oogmerk van gekoördineerde omgewingswetgewing wees. Dit help byvoorbeeld nie dat dierespesies beskerm word terwyl dit in werklikheid oorbevolk in die bewaringsgebiede voorkom nie.

Omgewingswetgewing en -regulasies moet die volhoubare benutting van hulpbronne moontlik maak. Die omgewing en natuurlike hulpbronne moet benut word om armoede te verlig en werk te skep, terwyl die omgewing vir toekomstige generasies bewaar word.

  • Wegbeweeg van omgewingsvernietigende produkte, praktyke en energiebronne.
  • Toenemende vervanging van steenkoolkragstasies met hernubare-energie.
  • Versterk die Groen Skerpioene.
  • Vervolg rekenpligtige amptenare van munisipaliteite en staatsdepartemente waar omgewingswetgewing oortree word en besoedeling van die omgewing plaasvind.
  • Opgradering van rioolaanlegte en stortingsterreine.
  • Dreineringsnette by stormwaterdreineringspype om besoedeling van waterbronne te keer.
  • ʼn Kultuur van geordende herwinning moet bevorder word.
  • Beperk waterverlies en belê in waterinfrastruktuur, insluitend damme.
  • Bevorder praktyke wat woestynvorming voorkom en implementeer geïntegreerde water- en grondbestuur.
  • Bevorder die rehabilitasie van grond waar woestynvorming plaasgevind het.
  • ʼn Verbod op die toetsing van kosmetiese produkte op diere.
  • Verbied die jag van leeus in aanhouding.
  • Maak die volhoubare benutting van omgewingshulpbronne moontlik deur gekoördineerde regulering van die omgewing.

Herstel ons veiligheid

Misdaad bly ’n ernstige bedreiging vir almal. Suid-Afrika se moordsyfer is tans die tweede hoogste in die wêreld en is hoër as in oorlogsones. Daarom behoort die polisiediens deur professioneel opgeleide lede gelewer en gelei te word.

Dit is tot nadeel van Suid-Afrika en al sy inwoners dat topposte in dié diens onder ANC-bewind politieke aanstellings van buite die polisie is. Dit is afbrekend as aanvaar moet word dat jong polisielede nooit die boonste sport sal bereik nie, ongeag bekwaamheid.

Die VF Plus eer polisielede wat hulle werk getrou en vreesloos doen, ongeag die swak omstandighede en vooruitsigte. Daarteenoor verwerp die party die gedrag van polisielede (meer dikwels ontplooide kaders) wat hulself as magshebbers en verhewe bo die reg beskou; wat hul amp vir persoonlike gewin misbruik asook die brutaliteit wat dikwels daarmee gepaard gaan.

Die party dring daarop aan dat die polisiediens toegelaat moet word om te dien en te beskerm, sonder politieke inmenging en binne behoorlike dissiplinêre norme.

Dit is van kardinale belang dat die effektiwiteit van misdaadintelligensie om misdaad te voorkom, verbeter word.

Ondoeltreffende polisiëring lei daartoe dat landsburgers vir ’n basiese owerheidstaak self moet betaal. Steeds meer private veiligheidsdienste kom tot stand.

Geweldsmisdaad met behulp van onwettige vuurwapens vind daagliks plaas en eis jaarliks duisende onskuldige lewens. Beter polisiëring van onwettige wapens is nodig.

Die VF Plus staan onwrikbaar by die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit en om dit in gepaste gevalle ter beskerming van eie lewe en eiendom te mag aanwend, gepaardgaande met die plig tot deeglike opleiding.

Plaasaanvalle en -moorde bly ’n krisis waar die sterftesyfer aantoon dat dit tans gevaarliker is om ’n plaasboer te wees as ’n lid van die polisie. Die landbougemeenskap word weerloos gelaat en die regering se landelike beveiligingsplan faal as gevolg van ʼn tekort aan menslike- en ander hulpbronne. Landelike beveiliging moet tot die voorkoming van plaasaanvalle en ander landelike misdaad, soos veediefstal spreek.

Die slagting van onskuldige kinders wat in bendes se kruisvuur beland, het skokkende vlakke bereik en die polisie kan nie langer net beloftes oor optrede maak terwyl bendegeweld voortduur nie. Dwelmsmokkelary as een van die lewensare van bendes moet daadwerklik aangespreek word. Daar is ʼn noodsaak vir goeie gekoördineerde samewerking tussen die polisie en die vervolgingsgesag om toe te sien dat inhegtenisnemings in verband met bendemisdrywe tot suksesvolle vervolging lei.

As gevolg van swak hantering van strafregsake, leemtes in die oordrag van dossiere tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die onvolledigheid van ondersoeke, die integriteit van bewysstukke en getuienis wat nie behoorlik en met die nodige sorg hanteer word nie, is vervolging dikwels onsuksesvol.

Vervolgingsgedrewe misdaadondersoekeenhede (soos die destydse Skerpioene) moet geskep word om georganiseerde misdaad en veral kinder- en mensehandel plaaslik en internasionaal behoorlik te vervolg.

Volgens die VF Plus moet daarna gestreef word om die oorsake tot gebrek aan polisiëring op te los. Die oplossing kan gevind word binne die institusionalisering van doeltreffende polisiëring. Dit vereis nie al hoe meer hulpbronne nie, maar wel die beter verspreiding en aanwending van hulpbronne met ʼn verbeterde resultaat.

  • Herstel die integriteit en funksionaliteit van die polisie deur van korrupte lede ontslae te raak; nie politieke aanstellings te maak nie en bevorderings op grond van kundigheid en ondervinding te laat geskied.
  • Private besteding aan veiligheid moet van belasting aftrekbaar wees.
  • ʼn Effektiewe misdaadintelligensie-eenheid wat misdaad voorkom, sonder om die regte van burgers te verontagsaam.
  • Spesialiseenhede moet gestig word teen geweldsmisdaad en om die handel in onwettige vuurwapens aan te spreek.
  • Die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit moet beskerm word.
  • Plaasaanvalle moet as ʼn prioriteitsmisdaad verklaar word en genoeg hulpbronne moet aan landelike beveiling toegeken word.
  • Die polisie se landelike beveiligingsplan moet samewerking met en die bemagtiging van landelike beveiligingsnetwerke insluit.
  • Goeie gekoördineerde samewerking tussen die polisie, plaaslike owerhede, spesialiseenhede en die NVG is nodig om bendegeweld hok te slaan.
  • Dwelmhandel en smokkelary moet daadwerklik aangespreek word deur dwelms wat oor die grense van die land ingebring word, effektief te onderskep.
  • Ondersoekeenhede moet bemagtig word met kundigheid en daar moet sorg gedra word om te voorkom dat vervolging van misdadigers misluk weens die swak hantering van bewysstukke en getuienis.
  • Vervolgingsgedrewe misdaadondersoekeenhede moet geskep word om georganiseerde misdaad, en veral kinder- en mensehandel behoorlik te vervolg.

ʼn Gesonde burgery kan saam bou

Suid-Afrika worstel tans met ʼn openbare gesondheidsektor wat in duie gestort het. Aan die ander kant is die private gesondheidsektor van wêreldstandaard, maar duur en ontoeganklik veral vir die armes.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat die struikelblok in openbare gesondheid nie ʼn gebrek aan geld is nie, maar aan kundigheid en goeie bestuur. Wanbestuur en korrupsie het openbare gesondheidsorginstellings vernietig.

Die obsessie met transformasie beteken dat kundigheid steeds uitgedryf word – sodanig dat duisende gesondheidslui van Suid-Afrika in die buiteland werk.

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan nie daarin slaag om openbare gesondheidsorg se gehalte te verbeter nie. Dit gaan eerder die teenoorgestelde uitwerking hê en nog meer druk op die vervalle gesondheidsinfrastruktuur en -hulpbronne plaas.

Die huidige NGV-wetsontwerp is volgens die VF Plus ongrondwetlik. In besonder is die sogenaamde behoeftesertifikate ongrondwetlik aangesien dit beoog om aan medici voor te skryf waar hulle mag praktiseer.

Die ANC se NGV-plan is slegs ʼn verkiesingsfoefie en nie implementeerbaar nie aangesien daar nie genoeg staatsfondse daarvoor beskikbaar is nie.

Die mediese fondsbedryf en privaat mediese diensbedryf is ’n noodsaaklike vennoot in die daarstelling van goeie gehalte gesondheidsdienste vir Suid-Afrika.

Die VF Plus sal samewerking tussen die openbare – en private gesondheidsektore bewerkstellig, sodat kundigheid en geriewe gekombineer kan word. Die rigsnoer sal nie transformasie wees nie, maar goeie, toeganklike gesondheidsorg vir die land se inwoners.

Goeie bestuurspraktyke moet by alle hospitale en klinieke geld. Persone met bestuursondervinding moet as hoof uitvoerende beamptes van hospitale aangestel word.

Openbare gesondheidsorg moet fokus op voorkomende medisyne in primêre sorg.

Die openbare gesondheidsinfrastruktuur moet eers opgegradeer word voordat enige vorm van ’n Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV) oorweeg kan word. NGV kan nie gebruik word vir hierdie opgradering nie. Op die kort termyn moet die beplande NGV onmiddellik gestaak word.

ʼn Gesondheidstelsel moet ontwerp en bestuur word deur kundiges en só ʼn werkbare stelsel moet beide die openbare- en private sektor tot voordeel strek.

  • Stop die NGV.
  • Gradeer openbare gesondheidsinfrastruktuur op.
  • Stel kundiges en goeie bestuurders aan.
  • Staak die oorregulering van die mediese fondsbedryf.
  • Die daarstel van ‘n gunstige vennootskap tussen privaat- en openbare mediese dienste.
  • Fokus op voorkomende primêre gesondheidsorg.

Herstel waardigheid deur werklike bemagtiging

Die beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) het gelei tot swart elite bemagtiging waardeur welvaart eerder rondgeskuif, as geskep is. Die VF Plus is van mening dat welvaart nie geskep kan word deur welvaart te verdeel nie.

SEB het tot gevolg dat bates bloot uitgedeel word aan spesifieke swart individue, in plaas daarvan dat entrepreneurskap en gemeenskapsopheffing aangewakker word.

Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar eerder op die werklike bemagtiging van totale gemeenskappe.

Aangesien die VF Plus glo dat velkleur nie gebruik kan word as ʼn veralgemeende maatstaf van minderbevoorregting nie, moet dit nie as ʼn voorwaarde vir bemagtiging geld nie. Sosio-ekonomiese omstandighede, soos armoede, werkloosheid en ʼn gebrek aan toegang tot gehalte onderwys moet eerder as die grondslag vir bemagtiging gebruik word.

Groei en ontwikkeling is die enigste volhoubare bemagtigingsmetode.

Armoede is ’n nasionale probleem wat ’n baie groot gedeelte van die samelewing vanuit alle gemeenskappe raak. Armoede-bekamping in gemeenskapsverband is deur die jare beproef as die mees effektiewe vorm van armoedeverligting. Daarom sal die VF Plus hom daarvoor beywer om gemeenskapsgebaseerde, maatskaplike diens te bevorder.

Die party verwerp die toepassing van rassekwotas (eerder as ’n middeletoets) in die toewysing van staatsbefondsing aan maatskaplike diensorganisasies.

  • Die ontwikkeling van selfstandige, plaaslike ekonomieë.
  • Armoede as grondslag vir bemagtiging.
  • Die aanwending van groei en ontwikkeling eerder as rasseteikens as bemagtigingsmetode.
  • Spesiale ekonomiese sones wat vrygestel is van regstellende-, bemagtigings- en beperkende arbeidswette.
  • Gemeenskapsgegronde maatskaplike diens.

Bou werklike gelykheid – vroue- en kinderregte en mense met gestremdhede

Die VF Plus ondersteun vroueregte, maar weet dat dit in die praktyk slegs verwesenlik kan word deur die bemagtiging van vroue deur opleiding en die skep van geleenthede. Daarvoor sal die VF Plus hom beywer.

Meeste slagoffers van verkragting, molestering en huishoudelike geweld is weens intimidasie te bang om hierdie voorvalle by die polisie aan te meld.

In baie gevalle skiet die polisie se hantering van hierdie sake ver tekort en word slagoffers nie beskerm nie.

Die strafregstelsel laat ook baie slagoffers in die steek veral met betrekking tot die wyse waarop daar van slagoffers verwag word om in ʼn oop hof te getuig. As gevolg van swak hantering van strafregsake, leemtes in die oordrag van dossiere tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die onvolledigheid van ondersoeke, die integriteit van bewysstukke en getuienis wat nie behoorlik en met die nodige sorg hanteer word nie, is vervolging dikwels onsuksesvol.

Hierdie tekorte in die stelsel lei tot die lae aanmeldingsyfer van hierdie misdrywe en daarom is baie seksuele oortreders op vrye voete en vind geslagsgeweld op groot skaal plaas.

Die paroolstelsel wat veral slagoffers moet beskerm, het ook ernstige hersiening nodig.

Die VF Plus ondersteun maatreëls wat daarop gemik is om vroue en kinders as kwesbare landsburgers te beskerm teen misbruik en mishandeling.

Ontoereikende finansiering van nie-winsgewende organisasies soos kinderhuise en tehuise vir gestremdes is ‘n skending van die weerloosste mense in ons samelewing se basiese menseregte.

Veral staatsubsidies aan kinderhuise is ontoereikend. Aangesien hierdie kinderhuise sorg vir hawelose kinders wat deur die hof in die sorg van die staat geplaas is, is dit onaanvaarbaar dat baie van hierdie kinderhuise op die drempel van sluiting is.

Mense met gestremdhede moet bemagtig word met toepaslike opleiding en hul regte moet beskerm word. Blinde en dowe persone se toegang tot onderwys en kommunikasie met staatsinstellings in braille en gebaretaal moet prioriteit geniet. Dit beteken min dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal as een van Suid-Afrika se amptelike tale in die Grondwet ingesluit is, indien dit nie werklik as ʼn amptelike vorm van kommunikasie deur die regering opgehef en toegepas word nie.

  • Werklike gelyke geleenthede moet bevorder word en nie ʼn kunsmatige stelsel van bemagtiging nie.
  • Maatreëls moet in plek gestel word om die aanmelding van geslagsgeweld aan te moedig en slagoffers te beskerm, ook deur die hersiening van die paroolstelsel.
  • Polisiëring en vervolging ten opsigte van geweld teen vroue en kinders moet geprioritiseer word.
  • Staatsubsidies aan nie-winsgewende organisasies soos kinderhuise en tehuise vir gestremdes en bejaardes moet verhoog word.
  • Gebaretaal moet werklik as amptelike taal geïmplementeer word.

Bou menswaardigheid deur taalregte en veeltaligheid

Die VF Plus beskou elke taal as oneindig meer as ’n blote kommunikasiemiddel. ’n Taal is soos ’n tuiste. Elkeen wat van sy/haar moedertaal ontneem word, word tuisteloos gelaat, sy/haar menswaardigheid word aangetas en die persoon word aan disoriëntasie uitgelewer.

Die verwatering van ons amptelike tale (buiten Engels) se owerheidsfunksies benadeel rasseverhoudings en oortree die Grondwet.

Daarom staan die VF Plus vir die erkenning en ontwikkeling van al Suid-Afrika se inheemse tale. Dit is ’n mite dat ’n taal voortbestaan bloot deur gepraat te word. Die werklikheid is dat daar daagliks tale, wat nie oor die mag en middele beskik om hulle teen dominante tale te handhaaf nie, tot niet gaan.

Die behoud en uitbou van Suid-Afrika se 12 amptelike tale se hoër funksies moet prioriteit geniet. Derhalwe moet die mediums van onderrig, byvoorbeeld, eerder uitgebrei word om meer tale in te sluit as om weg te neem en te verengels. Onderwyskundiges wêreldwyd is dit eens dat moedertaalonderrig akademiese prestasie bevorder.

Tans is daar ʼn aktiewe aanslag teen Afrikaans as ʼn medium van onderrig.

Afrikaans is een van die enigste tale wat gedurende die twintigste eeu deur die hele proses van modernisering gegaan het en kan dus waardevolle steun en leiding gee aan ander taalgemeenskappe wat dieselfde wil vermag. Die oorlewing van Afrikaans maak die pad oop vir die oorlewing van ander inheemse tale.

Die VF Plus verwerp die kruipende taalimperialisme van Anglofiele wat veral deur middel van onderwys, maar ook deur openbare instellings en staatsdepartemente en in die naam van globale handel en verkeer, inheemse tale aan Engels wil onderwerp.

  • Meer skole en universiteite moet gebou word en ander maatreëls in plek gestel word om uitvoering aan die Grondwet se bepaling te gee, wat lui dat elkeen die reg het om in die amptelike taal van sy of haar keuse onderrig te ontvang.
  • Taalregte moet in wetgewing duidelik geformuleer word, want die vertolking van vae bepalings lei tot die skending van grondwetlike regte wat dan slegs simbolies is.
  • Openbare instellings en staatsdepartemente moet in amptelike tale toeganklik wees.

Eiendomsreg en behuising

Die VF Plus begryp die emosionele impak wat grondbesit op alle Suid-Afrikaners het. Daarom moet grond nie net deur ’n kommersiële lens beskou word nie.

Die VF Plus is gekant teen onteiening sonder vergoeding en is van mening dat daar genoeg grond vir herverdeling beskikbaar is, maar dat administratiewe gesloer vertragings veroorsaak wat tot nadeel van die land is. Die huidige Onteieningswetsontwerp wat voorsiening maak vir onteiening met “nil vergoeding” moet gestuit word.

Die VF Plus se standpunt is dat grond wat reeds verkry is deur grondhervorming en waarvan 90% van die projekte misluk het, asook ongebruikte staatsgrond, dadelik aangewend kan word vir herverdeling en dat die beginsel van “vrywillige verkoper, vrywillige koper” daarna gevolg behoort te word. In die geval van onteiening vir openbare gebruik moet dit met markverwante vergoeding gepaard gaan.

Die VF Plus is daarteen gekant dat onteieningsmagte by die Minister van Grondsake setel en glo dat sulke magte by ’n hoë hof hoort, aangesien hier ’n fundamentele, grondwetlike reg op die spel is.

Grondeise moet spoedig afgehandel word aangesien dit groot onsekerheid tot gevolg het wat ontwikkeling van die landbousektor demp.

Grond word as populistiese politieke wapen gebruik. Die mite dat grondbesit opsigself welvaart skep word deur die VF Plus verwerp.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat vrugbare grond onproduktief raak nie. Die bevolking groei jaarliks en benodig daagliks meer voedsel. Voedselsekerheid is ’n hoeksteen van stabiliteit.

Grondhervormingsprojekte het ‘n teelaarde vir korrupsie geword. Die VF Plus is van mening dat grond wat op die bogenoemde wyses herverdeel word, aan begunstigdes oorgedra moet word. Die begunstigdes moet die titelaktes van die grond ontvang. Die staat se betrokkenheid by hierdie projekte moet geminimaliseer word en vennootskappe tussen opkomende boere en kommersiële boere moet eerder bewerkstellig word.

Die werklike behoefte van die meerderheid Suid-Afrikaners is aan behuising. Die regering se behuisingskemas is onvoldoende en gaan met korrupsie en bedrog gepaard. Dit is belangrik dat staatsgrond effektief benut moet word vir die oprigting van voldoende behuising.

Die tekort aan ordentlike behuising vir behoeftiges lei tans tot ʼn geweldige hoeveelheid onwettige besettings. Dit is verstaanbaar gegewe die stand van armoede en ekonomiese verval, maar onwettige besettings skaad die ekonomie verder. Daarom moet daar met verantwoordelikheid spoedig opgetree word waar onwettige besetting van grond, geboue, parke, ens. plaasvind. ʼn Gesonde balans moet verkry word tussen die ontwikkeling van behuisingsprojekte, handhawing van genoegsame bewaringsgebiede (“groen areas”) in dorpe en stede, beskerming van eiendomswaarde en bewaring van produktiewe landbougrond. Dit is moontlik met innoverende behuisingsontwikkeling en stads- en dorpsbeplanning in ooreenstemming met moderne tendense.

  • Wend ongebruikte staatsgrond aan vir grondhervorming.
  • Begunstigdes van grondhervorming moet die grond besit.
  • Privaat eiendomsreg moet beskerm word en die huidige Onteieningswetsontwerp moet geskrap word.
  • Onteieningsmagte moet by ʼn hoë hof gesetel wees en onteiening mag slegs vir openbare gebruik teen markverwante vergoeding geskied.
  • Beskerm produktiewe landbougrond.
  • Stop onwettige besetting.
  • Handhaaf ʼn balans tussen behuising, bewaringsgebiede, eiendomswaarde en landbougrond.
  • Innoverende en moderne behuisingsprojekte.

Herstel goeie buitelandse betrekkinge

Die VF Plus beywer hom vir die handhawing van billike menseregte nie alleen in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Die VF Plus dring daarop aan dat Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge nie meer bepaal word deur wie die ANC voor 1994 getrou gesteun het nie. Indien daardie lande se eie rekord rakende menseregte beskou word, is dit duidelik dat hulle meer in invloed in Suid-Afrika belang gestel het as in die demokratiese regte van Suid-Afrikaanse burgers.

Die ANC-regering se buitelandse verhoudinge toon ’n warboel van teenstrydighede. Die VF Plus eis duidelikheid en riglyne wat die regering self bereid is om te volg.

Afrika moet vanselfsprekend ʼn sentrale rol in Suid-Afrikaanse buitelandse beleid speel, maar nie tot die mate dat diplomatieke of militêre invloed gebruik word om regerings sonder legitimiteit in stand te hou nie. Die buitelandse beleid moet Suid-Afrika se sentrale rol in Afrika bevestig.

Die VF Plus wil buitelandse verhoudinge bou op wedersydse respek, voorkeur vir lande wat selfbeskikking binne hul eie grense bevorder en vir lande met wie Suid-Afrika sterk handelsbande het of kan hê.

’n Tweestaatoplossing word vir Israel en Palestina ondersteun. Dit is immers onlogies om selfbeskikking aan Palestyne te gun, maar nie aan Israeli’s nie.

Nuwe bondgenootskappe moet gevestig word sonder om reeds gevestigdes te vernietig.

  • ʼn Duidelike beleid oor buitelandse verhoudinge wat gegrond is op wedersydse respek en tot voordeel van Suid-Afrika strek.
  • Bevestig Suid-Afrika se sentrale rol in Afrika.
  • Ondersteun ‘n tweestaatoplossing vir Israel en Palestina.
  • Vestig nuwe handelsvennote sonder om reeds gevestigdes te vervreem.

Heropbou van die verdedigingsmag

ʼn Verdedigingsmag se gehalte word bepaal deur sy toerusting en sy mense. In albei hierdie opsigte skiet Suid-Afrika tekort. Weens langdurige finansiële tekorte en verwaarlosing weens swak onderhoud, is die land se militêre mag aansienlik verswak. Selfs ernstiger is die gebrek aan bekwaamheid en dissipline in die magte. Al wat Suid-Afrika tans red, is die feit dat daar geen ooglopende en onmiddellike buitelandse bedreiging is nie.

Die VF Plus sal die moeisame taak om bekwaamheid na die militêre magte terug te lok, kombineer met die afdwing van sterk dissipline. Die doelwit is ʼn professionele weermag wat die wil en vermoë het om die land te verdedig. Binne die grense van fiskale vermoëns sal die heropbou van wapentuig en toerusting weer aangepak word.

  • Vestig bekwame, gedissiplineerde militêre magte.
  • Heropbou van wapentuig en toerusting binne die grense van die fiskale vermoëns.

Herstel grensbeheer

Die integriteit van die land se grense moet herstel word. “Sagte” grense beteken dat mense die land binnestroom wanneer ekonomiese druk elders in Afrika toeneem. Dit beteken ook dat binnelandse goedere soos renosterhoring en buitelandse goedere soos vuurwapens en dwelms, deur die grense beweeg. Dit maak dit ook makliker vir gewetenlose handelaars om tariewe wat ingestel is om die plaaslike ekonomie te beskerm, te omseil. Die VF Plus dring aan op doeltreffende grensbeheer.

Immigrasie is ʼn natuurlike proses wat elke land poog om tot sy voordeel te bestuur. Dit beteken dat immigrante oor kennis en vaardighede moet beskik wat in die ontvangerland skaars is. Weens swak grensbeheer wat ook korrupsie insluit, is Suid-Afrika egter die ontvanger van groot getalle onwettige immigrante sonder dat hul potensiële bydrae beoordeel word. Hierdie onwettige immigrante plaas ook groot druk op waterbronne, gesondheidsorg, werksgeleenthede en ander maatskaplike dienste tot nadeel van die burgers van Suid-Afrika.

  • Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word.
  • Sterk optrede teen korrupte amptenary.
  • Beweging van dwelms, renosterhorings en vuurwapens oor ons grense moet gestop word.
  • Onwettige immigrasie moet daadwerklik aangespreek word.

SAMEVATTING

Kernsamevatting van oplossings

Die VF Plus se manifes en beleidsraamwerk bied die bouplan om Suid-Afrika se kernprobleme op te los en om herstel te bewerkstellig. Die volgende is die kern tot hierdie bouplan:

  • Bevorder die vryemarkstelsel en gelyke toegang tot geleenthede.
  • Vestig ʼn kleiner, fikser sentrale regering met minimale betrokkenheid in burgers se lewe.
  • Bevorder ʼn staat waar almal gelyk is voor die reg en roei alle vorme van korrupsie uit.
  • Skaf rasgegronde Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging af; gebruik sosio-ekonomiese omstandighede as die voorwaarde vir bemagtiging en bevorder gelyke geleenthede vir almal.
  • Verwesenlik die internasionaal erkende en grondwetlike reg van gemeenskappe tot selfbeskikking.
  • Vestig gemeenskapsrade.
  • Meer outonomie aan provinsies.
  • Skep ʼn plaaslike regeringstelsel wat kleiner en meer plaaslik is.
  • Vestig ʼn spesiale ondersoekeenheid wat beweerde onwettige bedrywighede van munisipale amptenare ondersoek. Dit sluit oortredings van omgewingswetgewing in.
  • Beperk staatsbesteding; privatiseer staatsentiteite; verhoog staatsinkomste deur groei te stimuleer; bring belastingverligting; en bring ʼn fiskale kommissie tot stand.
  • Beskerm privaateiendomsreg.
  • Belê in die opgradering en instandhouding van die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk; spreek elektrisiteitsdiefstal aan en beveilig elektrisiteitsinfrastruktuur; moedig die oorskakeling na hernubare-energiebronne, soos sonpanele, aan; finaliseer die ontbondeling van Eskom in aparte entiteite; spreek die administratiewe rompslomp wat met lisensiëring van privaat elektrisiteitsopwekking gepaardgaan aan en skep ʼn gunstige regulatoriese omgewing vir privaat elektrisiteitsopwekking en mededinging in die sektor.
  • Pas beperkende arbeidswetgewing aan om werkskepping te bevorder terwyl billike arbeidspraktyke steeds in stand gehou word; bevorder ʼn gunstige omgewing vir die privaat sektor om werk te skep en staak die onvolhoubare praktyk waar die staat self probeer werk skep.
  • ʼn Hoë standaard van onderwys met toegang vir almal tot moedertaalonderrig tot op die hoogste moontlike vlak wat ouer- en gemeenskapgedrewe is.
  • Ontwikkel selfstandige, plaaslike ekonomieë en vestig funksionele spesiale ekonomiese sones.
  • Tariefbeskerming, navorsing, rampverligting en infrastruktuurskepping moet klein- en kommersiële boere bevoordeel.
  • Die ontwikkeling van ʼn omgewingsvriendelike beleidsraamwerk en die effektiewe toepassing van omgewingswetgewing is nodig vir gunstige omstandighede vir volhoubare landbou-, bosbou- en visserybedrywighede.
  • Kleinskaal viskwotas moet aan gemeenskappe in en om kusgebiede toegewys word en frontmaatskappye en misbruik moet voorkom word.
  • Die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende produkte, praktyke en energiebronne. Besoedeling moet stop en herwinning bevorder word; prioritiseer hernubare-energie en wesenlike belastingkortings moet geld vir huishoudings en sakeondernemings wat na alternatiewe energiebronne omskakel.
  • Maatreëls wat woestynvorming voorkom en die bevordering van die rehabilitasie van grond waar woestynvorming reeds plaasgevind het.
  • Spreek die gebreke in die strafregstelsel aan om die groot voorkoms van verkragting en geslagsgeweld daadwerklik stop te sit.
  • Herstel wet en orde deur spesialiseenhede vir geweldsmisdade, kinder- en mensehandel, georganiseerde misdaad, bendegeweld, dwelmhandel en plaasmoorde.
  • ʼn Gehalte gesondheidsorgsektor waar kundigheid bo transformasie geprioritiseer word; die oorregulering van mediese skemas gestaak word; openbare gesondheidsinfrastruktuur opgradeer word; samewerking tussen die openbare- en private gesondheidsektore bewerkstellig word en die huidige NGV-wet geskrap word.
  • Bevorder taalregte en veeltaligheid.
  • Bou buitelandse verhoudinge op wedersydse respek en gee voorkeur aan lande met wie Suid-Afrika sterk handelsbande het of kan hê.
  • Doeltreffende grensbeheer waar die integriteit van die land se grense herstel word en onwettige immigrasie asook die beweging van onwettige goedere soos vuurwapens en dwelms oor ons grense gestop word.

Fokusareas

  1. Die bou van ʼn nuwe bedeling wat diversiteit erken en gemeenskappe se selfstandigheid bevorder.
  2. Die uitroei van korrupsie en kaderontplooiing om sodoende die staat se finansiële krisis, swak infrastruktuur en dienslewering te herstel.
  3. Die herstel van betroubare elektrisiteitsvoorsiening.
  4. Die herbou van die ekonomie met die bevordering van die vrye mark, werkskepping en privaat eiendomsreg.
  5. Die herstel van wet en orde, prioritisering van burgers se veiligheid en effektiewe grensbeheer.
  6. Die herstel van gehalte, toeganklike gesondheidsorg.
  7. Die bewaring van die omgewing en natuurlike hulpbronne deur volhoubare ontwikkeling.
  8. Bevorder gehalte gemeenskapsgegronde moedertaalonderrig.
  9. Bou deur die bevordering van omstandighede wat gunstig is vir landbou, bosbou en visserye en waar voedsekerheid beskerm word.
  10. Bou welvaart deur werklike bemagtiging sonder rasgegronde regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging – bevorder toegang tot gelyke geleenthede.

Kom ons bou ʼn beter toekoms!

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.