Terwyl Suid-Afrika se regering hom beywer vir vrede en Oekraïne en selfs vir Israel voor die Wêreldhof gesleep het om sy optrede teen Hamas te staak, is hy klaarblyklik tevrede daarmee dat sy eie soldate in die Demokratiese Republiek van die Kongo sterf.
Altesame 2 900 Suid-Afrikaanse soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in die DRK ontplooi en hulle moet nou aan die land onttrek word.
Die regering het die soldate bloot daarheen gestuur om sy beeld in Afrika te poets.
President Cyril Ramaphosa dink skynbaar dit is goed genoeg om simpatie te betoon met die naasbestaandes van soldate wat in die uitgerekte konflik in die DRK sneuwel.
Verlede maand is twee soldate dood en drie beseer in ʼn mortierbom-aanval op ʼn militêre basis in die ooste van die land. Dit het vandag aan die lig gekom dat nog twee soldate dood is.
Die omstandighede rondom die voorval is vaag, maar luidens mediaberigte het een soldaat glo ʼn makker geskiet en daarna homself.
Indien dit akkuraat is, is dit ʼn aanduiding dat die moraal van die soldate ʼn laagtepunt bereik het. Hulle weet nie waarom hul lewe op die spel geplaas word in ʼn konflik wat niks met Suid-Afrika te doen het nie.