Die Langeberg-munisipaliteit het byna R300 000 van belastingbetalers se geld vermors op ’n dissiplinêre ondersoek teen die voormalige VF Plus-onderburgemeester, Johnny Steenkamp – ’n proses wat uiteindelik op niks uitgeloop het nie.
Die DA en sy koalisievennote het in Junie 2024 met die ondersoek begin.
Dit was van meet af duidelik ’n politieke heksejag. Steenkamp het 87 foute op ’n voorgestelde begroting uitgewys, iets wat die DA in ’n swak lig gestel het. Kort daarna is dissiplinêre stappe teen hom ingestel.
Die munisipaliteit se regspan het herhaaldelik uitstel gevra en die proses maande lank vertraag.
Die VF Plus se regspraktisyn, adv. Gert van Niekerk, het reeds aan die begin gewaarsku dat daar geen gronde vir die klagte bestaan nie. Ten spyte hiervan het die speaker, Pauline Hess, en die DA-koalisie voortgegaan. ’n Meerderheid in die raad het Steenkamp op een klag skuldig bevind en ’n sanksie opgelê.
Op appèl het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell (DA), die skuldigbevinding en sanksie egter omgekeer. Hy het bevind dat daar geen gronde vir vervolging of skuldigbevinding was nie, en dat die raad nie die reëls van geregtigheid nagekom het nie. Die hele proses was dus ’n mislukking.
Tydens ’n raadsvergadering op 21 Oktober 2026 is bekend gemaak dat die regskoste van R293 323 as verspilde uitgawes beskou moet word. ’n Voorstel om die saak verder te ondersoek, is deur die DA-beheerde raad verwerp.
Die VF Plus beskou hierdie as ’n blatante vermorsing van belastingbetalers se geld in die Langeberg-munisipaliteit. Die party eis dat die DA en sy koalisievennote alleen daarvoor verantwoordelik gehou word.
Dit is ironies dat ’n party wat so graag ander oor die vermorsing van openbare fondse kritiseer, self nie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer hy dieselfde doen nie.
Die VF Plus sal voortgaan om besluite wat belastingbetalers se sakke raak, bloot te lê en aanspreeklikheid te eis.


