Nee, nee en nogmaals nee.
Nie een Suid-Afrikaner kan bekostig om onverskillig te staan teenoor die 2024-algemene verkiesing nie.
Die tyd om op die kantlyn te staan en kritiek te lewer, maar nie deel te neem aan verkiesings nie, is verby.
Of ons dit nou wil erken of nie, maak nie saak waar in Suid-Afrika jy woon nie, jy kan nie ontsnap van die invloed wat politiek op jou lewe het nie.
Jy het dus die keuse om deel te wees van die oplossing om jou kruisie te gaan trek of deel te wees van die probleem deur op die kantlyn te bly staan en te skree: “Stem reg, bly weg.”
Vir die eerste keer sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het ons met die komende verkiesing ʼn gulde geleentheid om van die korrupte ANC-regering ontslae te raak. Ons mag hierdie geleentheid nie verspeel nie.
Suid-Afrika sal nie nog vyf jaar van ʼn ANC-regering oorleef nie.
Ons as burgers is aandeelhouers van die land, weliswaar nie in die tradisionele sin van die woord soos met aandeelhouding in ʼn maatskappy nie, maar soos met aandeelhouers in ʼn maatskappy het ons as burgers sekere regte en verantwoordelikhede.
Een daarvan is om soos aandeelhouers in ʼn maatskappy inspraak in die bestuur uit te oefen met stem- en besluitnemingsprosesse.
Ons het ʼn gevestigde belang in die sukses, stabiliteit en voorspoed van Suid-Afrika. Ons het ʼn aandeel in die politieke, ekonomiese en sosiale welstand van die land.
Ons as aandeelhouers moet voordeel trek uit die dienste wat die regering aan ons verskaf met ons eie hardverdiende geld. Dit sluit in gehalte onderwys, goeie gesondheidsorg, ʼn bevoegde polisiediens, toegang tot skoon water en betroubare kragvoorsiening om maar ʼn paar te noem.
Ons het die reg om deursigtigheid en aanspreeklikheid van die ANC-regering te verwag. Ons het die reg om die ANC-regering aanspreeklik te hou vir sy optrede en besluite net soos aandeelhouers die korporatiewe bestuur van ʼn maatskappy aanspreeklik hou vir sy prestasie of gebrek daaraan.
Die ANC het in 30 jaar oor en oor bewys dat hy nie bereid is om verantwoording te doen aan ons as aandeelhouers van Suid-Afrika nie en hy beskik nie oor die politieke wil om sy mandaat teenoor sy aandeelhouers na te kom nie.
Hy dra nie sy aandeelhouers se beste belange op die hart nie en regeer die land net tot voordeel van homself en sy uitverkore kaders. Ons as aandeelhouers moet tevrede wees met die krummels wat van die dikgevrete ANC se oorlaaide tafel val wat hy vir homself dek met ons belastinggeld.
Dit is daarom van kardinale belang dat elke Suid-Afrikaner van 18 jaar en ouer seker maak dat hulle geregistreer is as kieser by die Verkiesingskommissie (OVK) om te kan stem met die 2024-algemene verkiesing.
Ons moet ons regte en verantwoordelikhede as aandeelhouers van Suid-Afrika uitoefen deur te stem vir ʼn koalisieregering wat almal se belange op die hart dra en waarvan die VF Plus deel is.
Ouers het ook die verantwoordelikheid om hul kinders aan te moedig om hul reg om te stem uit te oefen en so beheer van hul toekoms te neem.
Hulle is die aandeelhouers wat die meeste benadeel gaan word en ly indien ons die ANC nie nou in sy spore stuit nie.
Dit gaan nie ʼn maklike pad wees om Suid-Afrika uit die modder te lig waarin die ANC hom laat beland het nie. Daar gaan tye wees wanneer ons gaan wonder of die kool die sous werd is.
Om net moed op te gee is egter nie ʼn opsie nie.
Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.