fbpx
Vryheidsfront Plus

Drie Kaalkoppe Eet Tesame

Dié uitsonderlike kortverhaal van Jan Rabie het by my opgekom toe ek die berig in Rapport lees oor die buikdienaars wat saam met pres. Cyril Ramaphosa op sy presidensiële straler, Inkwazi, weggelê het aan kos wat amper R24 000 per kop gekos het.

Een het dit sommer goedgedink om ʼn hele koek in sy of haar koffer te versteek as wegneemete ingeval daar later nog ʼn hol kolletjie op die maag is. Moontlik na die raad van die tragiese Franse koningin Marie Antoinette.

Dit kon lagwekkend gewees het as daar nie kinders in hierdie land was wat sand moet eet om net iets in hul mae te kry of sterf van wanvoeding nie.

Dit is wat my by Rabie se gepaste verhaal bring waar hy drie uitermate vet kaalkoppe beskryf wat in ʼn restaurant sit en eet.

Hulle verorber een gereg na die ander met ʼn waansinnige spoed en onbeheersde vraatlus.

Later neem die kos wat hulle eet, die vorms van mense aan: bene, arms, borste van maagde en selfs ʼn kinderhofie, sag gekook.

Nog later begin hulle om die mense rondom hulle te verskeur en te verorber.

Uiteindelik byt hulle hul eie vingers af en skeur groot stukke uit mekaar se lywe totdat net drie kaalkoppe “glimwit soos doppe van ongekraakte eiers” op die vloer oorbly. Die kelner gooi dit soos verrotte pampoene weg.

Aan die einde dek die kelner swyend die tafel vir die volgende dag se maal.

Die slot suggereer dat dieselfde onheilspellende skouspel herhaal gaan word.

Klink dit nie bekend nie? Die armes vergaan van ellende terwyl ʼn handjievol ANC-kaders hulself tot barstens toe vol stop.

Na raming sal 50% van Suid-Afrikaners teen 2025 – oor minder as twee jaar – nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie.

Met die afgelope ses algemene verkiesings dek Suid-Afrikaners telkens die tafel net weer vir ANC-kaders om mekaar te vertrap vir die beste staanplek by die belastingtrog.

Ons kan nie bekostig om met volgende jaar se verkiesing weer die tafel te dek vir die ANC om voort te gaan met sy verwoestingswerk nie. Daar is nie meer veel oor om te plunder nie.

Ons sal nou moet red wat daar nog te redde is.

Suid-Afrika het ʼn regering nodig wat waarlik vir sy mense omgee, ryk en arm. ʼn Regering met ʼn beleid wat die ekonomie volhoubaar tot almal se voordeel kan laat groei.

Dit is in ons hande om so regering aan bewind te stel. Elkeen van ons moet verantwoordelikheid neem om seker te maak ons is geregistreer as kieser en moet ook ander mense aanmoedig om te registreer en te stem.

Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.