Die VF Plus het vandag ’n amptelike klag ingedien by die Gautengse LUR vir omgewingsake, Evan Botha, en dring aan op ’n onmiddellike ondersoek na gereelde brande by ’n komposvervaardigingsperseel in Stasiestraat, Lewisham, Mogale City.
Die verstikkende rook en ondraaglike reuk uit die perseel laat talle inwoners van Krugersdorp met erge ongemak. Geen gemeenskap behoort aan sulke gesondheids- en omgewingsrisiko’s blootgestel te word nie.
’n Afvaardiging onder leiding van Jaco Mulder, saam met VF Plus-raadslede, het die gebied besoek en bevind dat verskeie bedrywighede in die omgewing dringende ondersoek regverdig. Dit sluit in:
• Die komposaanleg op ’n munisipale perseel direk onder elektriese kragdrade
• Die situasie by die Luipaardsvlei-vullisverwerkingsterrein; en
• beweerde onwettige mynbedrywighede deur zama-zamas in die omgewing.
Die VF Plus eis dat alle bedrywighede wat nie aan die toepaslike wetgewing en regulasies voldoen nie, onmiddellik gestaak word.
Die party sal voortgaan om druk op die verantwoordelike owerhede te plaas om wetlike nakoming af te dwing, aanspreeklikheid te verseker en enige moontlike samehang tussen hierdie aktiwiteite te ondersoek.
Die VF Plus bring nie net probleme onder die aandag nie – ons dring aan op praktiese en besliste oplossings wat inwoners se gesondheid beskerm en volhoubare omgewingsbestuur verseker.


