Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Man veg om lewe ná grusame plaasaanval en marteling

‘n Man veg in ‘n hospitaal in Potchefstroom om sy lewe ná ‘n buitengewoon wrede plaasaanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp en die VF Plus se meegevoel en gebede gaan uit na die slagoffer, mnr. Donovan Marx, en sy naasbestaandes.

Die besonderhede van die marteling van mnr. Marx is só ontstellend dat die VF Plus nie die besonderhede daaroor bekend wil maak nie. Hy is ook van agter in die rug geskiet en dokters het vanoggend nog probeer om die koeël te verwyder.

Volgens inligting wat tans beskikbaar is, is ‘n gesinslid kort voor agtuur vanoggend by die plaas weg om te gaan werk, waarna die aanval plaasgevind het.

Een van die plaaswerkers is deur die aanvallers vasgebind, maar kon later daarin slaag om homself los te wikkel en het alarm gemaak.

‘n Intensiewe soektog is dadelik na die aanvallers geloods, maar hulle is in hierdie stadium nog op vrye voete. Sover bekend, het hulle net met mnr. Marx se bakkie van die toneel gevlug.

Die VF Plus wys herhaaldelik daarop dat plaasaanvalle merendeels gepaardgaan met erge geweld en marteling, soos in hierdie geval, en dat dit daarom nie as gewone misdaad afgemaak kan word nie.

Die party doen opnuut ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om realiteit van plaasmoorde te erken en om hom te verbind tot optrede wat dit sal prioritiseer.

Solank as wat die land se president plaasmoorde ontken en weier om opdrag te gee dat die voorkoming daarvan spesiale aandag geniet, en solank hy weier om aanhitsing tot aanvalle op boere stop te sit soos die sing van die lied “Kill the Boer”, so lank sal die aanvalle voortduur.

Die VF Plus hou mnr. Marx in sy gebede en wens hom vinnige beterskap en volkome herstel toe.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.