Die VF Plus het tydens gister se spesiale raadsvergadering teen die Mangaung-metro se voorgestelde reses van 28 Oktober tot 3 November gestem.
Die party is nie gekant teen ’n reses gedurende die verkiesingstydperk nie. Die beswaar is dat die ANC weereens versuim om belangrike munisipale sperdatums na te kom en nou die huidige raad se verpligtinge op die inkomende raad wil afskuif.
Ingevolge artikel 52(d) van die Munisipale Finansiële Bestuurswet moet die burgemeester binne 30 dae ná die einde van elke kwartaal aan die raad verslag doen oor die uitvoering van die begroting en die metro se finansiële posisie. Die sperdatum vir die eerste kwartaalverslag is 30 Oktober 2026.
Hierdie verslae is reeds op 15 Oktober deur die stadsbestuurder, mnr. Sello More, gefinaliseer en onderteken.
Daar was dus voldoende tyd om dit voor die huidige raad te dien en die vereiste prosesse betyds af te handel.
Die kern van die probleem is swak politieke bestuur. Van die laat indiening van kandidaatlyste tot die voortdurende versuim om statutêre verpligtinge betyds na te kom, toon die ANC telkens dat sperdatums en goeie administrasie nie ’n prioriteit is nie.
Raadslede word deur inwoners verkies en betaal om hul belange eerste te stel. Die administrasie en bestuur van die metro kan nie eenvoudig tot stilstand kom omdat die ANC se fokus op verkiesingsveldtogte val nie.
Die VF Plus sal aanhou om as waghond oor die metro se bestuur op te tree en die raad verantwoordbaar te hou vir die pligte waarvoor hy verkies is.
Maak die VF Plus sterker in Mangaung.
Hoe sterker die VF Plus, hoe sterker die stem vir verantwoordbaarheid, goeie bestuur en dienslewering.


