Regstellende stappe moet dringend geneem word om dienslewering in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit te herstel.
Die VF Plus het daarop aangedring tydens ‘n vergadering met dr. Khotso de Wee, hoof van goeie regering en institusionele ontwikkeling van die nasionale ingrypingspan (NCR) in dié munisipaliteit.
Dié multidissiplinêre ingrypingspan is onder meer op aandrang van die VF Plus deur die nasionale kabinet in die munisipaliteit ontplooi nadat dienste in die gebied ná jarelange ANC-wanbestuur bykans in duie gestort het.
Grootskaalse rioolbesoedeling is aan die orde van die dag met onverwerkte riool wat selfs in die Eeufeesdam in die middel van Lichtenburg gestort word.
Kraginfrastruktuur is in ‘n vervalle toestand en substasies word gevandaliseer met gevolglike kragonderbrekings.
Regeringsgeboue in Lichtenburg verval hand oor hand en sommige leë geboue word stuk-stuk geplunder en weggedra sonder enige doeltreffende owerheidsoptrede.
Verál die leegstaande geboue is ‘n oogseer en dien as kwartiere vir misdadigers in die gebied.
Basiese dienste aan inwoners soos die hantering en regstelling van diensterekeninge, word nie behoorlik gelewer nie met telefone by die munisipaliteit wat soms vir dae nie beantwoord word nie. Van terugvoering op aangemelde klagtes is bykans geen sprake nie.
Selfs nooddienste soos die brandweer funksioneer byna glad nie. Inwoners is aangewese op hulp uit die omliggende boeregemeenskap om onder meer huisbrandemte blus. Die munisipale brandweer voer bloot aan dat daar nie diesel of water beskikbaar is nie.
Dr. De Wee het ná die VF Plus se voorleggings waarin hierdie en ander kwessies weer belig is, onderneem om dit dringend binne die NCR te bespreek en eerskomende Maandag aan die party terugvoer te gee.
Dit is van kritieke belang dat kiesers op 4 November met hul stemme seker maak dat die ANC uit plaaslike regering verwyder word sodat gemeenskappe soos Lichtenburg, Coligny en Biesiesvlei nie verder hoef te ly onder ANC-wanbestuur en korrupsie nie.
Die VF Plus sal bly stry vir die herstel van ‘n professionele, etiese munisipale administrasie in Ditsobotla.


