Baie Suid-Afrikaners is bekend met die Deense skrywer, Hans Christian Andersen, se sprokie “Die Keiser is Kaal”.
Hier volg ‘n kort uittreksel uit die verhaal om konteks te skep:
Twee swendelaars kom by die hoofstad van ‘n keiser aan wat geld oordadig bestee op weelderige klere ten koste van staatssake en sy onderdane.
Hulle stel hulself voor as wewers en bied aan om vir die keiser manjifieke klere te weef wat onsigbaar is vir diegene wat dom of onbevoeg is.
Die keiser huur hulle daar en dan en die twee stel opgetoë hul weefmasjiene op en spring aan die werk.
ʼn Opeenvolging van amptenare en die keiser self besoek hulle om hul vordering na te gaan.
Elkeen sien dat daar geen materiaal op die weefmasjiene is nie, maar gee anders voor om te voorkom dat hulle as dwase beskou word.
Uiteindelik kondig die wewers aan dat die keiser se nuwe pak klaar is. Met groot fanfare klee hulle die keiser en hy vertrek in ʼn optog voor die hele stad om sy nuwe klere ten toon te stel.
Inwoners gaan ongemaklik saam met die skyn om nie dom of ongeskik voor te kom nie, totdat ʼn kind uitroep die keiser is kaal. Dan besef almal dat hulle geflous is.
Klink die sprokie nie soos die werklikheid waarin ons daagliks hier aan die suidpunt van Afrika leef nie?
In ons sprokie is die keiser die ANC wat net optree in sy eie, sy kaders en bedenklike vriende se belang ten koste van die res van Suid-Afrika.
Eens suksesvolle staatsentiteite soos die SAL, die Poskantoor, Denel en Transnet is leeggesuig en belastingbetalers se hardverdiende geld word vermors en gesteel sonder ʼn sweempie skuldgevoel.
Dit is die ANC se wanbestuur en korrupsie wat Eskom tot op sy knieë bestuur het en veroorsaak dat Suid-Afrikaners vir tot 12 ure per dag sonder krag sit; wat veroorsaak dat beleggers die land verlaat om eerder hul geld elders aan te wend.
Apartheid is die onsigbare pak klere wat die ANC se verkiesings-apparatsjik weef en vir al wat leef en beef vertel dat dit die eindelike rede is waarom Suid-Afrika in elke opsig verval het en dat die wat dit nie kan insien nie, dwaas is.
Die amptenare/ministers wat verskil met hierdie aanslag, bly om dié rede eerder stil.
Intussen vaar die ANC die strate in met sy apartheids-klere en verwag Suid-Afrikaners moenie sien dat hy na 30 jaar aan bewind polities nakend deur die strate stap nie.
Dit is wat vir ons voorlê in aanloop tot volgende jaar se verkiesing.
Die ANC kon in 30 jaar geen verbetering in die meeste van sy ondersteuners se lewens teweeg bring nie. Sy gefaalde en uitgediende ideologiese beleide van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en kaderontplooiing het net ʼn uitgesoekte elite, waaronder president Cyril Ramaphosa, bevoordeel.
Apartheid moet nou dien as narratief waarom goed in die land verkeerd loop. Dit is apartheid se skuld dat 77, meestal onwettige immigrante, in Johannesburg in ʼn gekaapte gebou doodgebrand het.
Dit is volgens die nuwe onbevoegde minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, apartheid se skuld dat die spoornetwerk uitmekaar val.
Ramaphosa sonder apartheid uit as rede vir kinders se gebrekkige leesvermoë en dat dit steeds ʼn skadu oor Suid-Afrika gooi.
Die ANC is kaal en dit is tyd dat dit nie net politieke partye soos die VF Plus dit raaksien en luidkeels uitbasuin nie, maar almal in die land.
Die meeste jong mense, ongeag velkleur, weet niks van apartheid nie en stel sekerlik nie meer daarin belang nie.
Om nou van apartheid gebruik te maak om ʼn moontlike koalisieregering te probeer keer en te insinueer dat so regering die land wil terugneem na apartheid, bewys dat die ANC moreel bankrot is en niks het om oor te spog na 30 jaar aan bewind nie.
Dit is daarom tyd dat elke verantwoordelike burger in die land nou moet opstaan en saam uitbasuin: “Die keiser is kaal.”
Die tyd om apaties te staan en te sê dit help nie om te stem nie of ek wil nie stem nie want dan ondersteun ek die nuwe bestel, is verby.
Elke stemgeregtigde burger moet seker maak hy of sy is geregistreer om te kan stem en op stemdag “en masse” opdaag om die ANC te verslaan en te vervang met ʼn verantwoordelike koalisieregering wat alle burgers se belange vooropstel.
Die pad na herstel gaan nie maklik wees nie en daar gaan tye kom wat ons wonder of die kool die sous werd is. Dit is altyd makliker om af te breek as om op te bou. Maar ons sal daardie opoffering moet maak ter wille van ons nageslagte en hul nageslagte.
Die meeste Suid-Afrikaners het nie soos ander gefaalde Afrika-lande se inwoners net ʼn grens om oor te steek op soek na ʼn beter lewe of groener weivelde nie.
Ons sal nou moet saamstaan soos nog nooit te vore nie om van die ANC ontslae te raak.
Suid-Afrika verdien beter as die slaggat besaaide pad wat die ANC vir ons geskep het en sal aanhou skep as hy vir nog vyf jaar aan bewind bly.
Elkeen van ons moet mekaar nou vra: “Ek kan stem, kan jy?”