Met die stormwinde wat woed om die kop van die nou genadiglike voormalige speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is daar sekerlik vele mense wat wonder waar die amp van speaker vandaan kom; hoeveel mag die persoon het en wie sy of haar toutjies trek. Of andersom.
Suid-Afrika se parlement is tot ʼn groot mate geskoei op die Britse Westminister-stelsel wat saam met die Verenigde Koninkryk ontwikkel het. Die ampte van onder meer speaker en swepe (whips) het ons net so van die Britte oorgeneem.
Die eerste speaker van die Britse parlement is in die 14de eeu aangestel en was oorspronklik die mondstuk van die monarg of koningin.
Dié persoon moes die koninklike seël wat gebruik is om wette en amptelike dokumente te verseël, bewaar en bestuur Die speaker het ook ʼn rol gespeel in die parlementêre prosesse soos die bestuur van debatte en die handhawing van orde tydens parlementêre sessies.
Die amp van speaker was desjare nie altyd so begeerlik as wat dit tans is nie. Dit was dikwels ʼn gevaarlike amp wat die meeste parlementslede probeer vermy het sover hulle kon.
Die speaker was die een persoon wat die parlement se belange teenoor die koninklike gesag moes beskerm en dit selfs moes weerstaan indien nodig.
Dit het dikwels gelei tot die vervolging of straf van die speaker. Talle het selfs hul koppe verloor oor optrede wat die monargie nie aangestaan het nie. Reg of verkeerd.
Met die omvorming van die Britse parlementêre stelsel het die pos van speaker ‘n meer seremoniële en minder gevaarlike karakter gekry.
Onder die ANC het die waardige amp van speaker algaande in ʼn bespotting ontaard. Soos die ANC alles vernietig waaraan hy raak, het hy dit ook met die amp van speaker reggekry.
In lande soos Groot-Brittanje, Kanada en Australië om maar ʼn paar te noem, word die pos as speaker beskou as ʼn pos wat bo party-politiek verhewe is en word daar van die persoon verwag om onafhanklik van sy of haar politieke party op te tree.
Daar word selfs van ʼn persoon wat dié pos aanvaar verwag om te bedank as lid van sy of haar politieke party om die onafhanklikheid van die amp te verseker.
Dit is om so ver as moontlik seker te maak dat die parlementêre prosesse vry is van politieke inmenging en dat besluite geneem word in die beste belang van die land en sy burgers.
Dit is verder belangrik dat die verkose speaker se integriteit bo verdenking onberispelik is en hy of sy nie betrokke is by korrupsie of enige ander aktiwiteit wat die openbare vertroue in die amp en die geloofwaardigheid van die parlement kan ondermyn nie.
Die ANC het algaande hierdie vereistes kantlyn toe gestewel en van die mees omstrede figure as speaker verkies.
Dit is nou grootliks vergete, maar in 1997 was ʼn voormalige speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Baleka Mbete, in ‘n ernstige korrupsieskandaal gewikkel terwyl sy gedien het as adjunkspeaker.
Sy is daarvan beskuldig dat sy op bedrieglike wyse ‘n leerling- en bestuurslisensie bekom het. Dit mag na ʼn storm in ʼn teekoppie klink, maar dit illustreer die ANC se houding jeens aanspreeklikheid goed.
Onder haar as speaker het die wapenskandaal ontvou en ongebreidelde staatskaping het plaasgevind. Die opposisie se hande was gebind en daar was geen twyfel oor waar Mbete se lojaliteit gelê het nie.
Haar opvolger, Thandi Modise, wat tans dien as die minister van verdediging en militêre veterane, is self nie onbevlek nie.
In 2014 het die dierebeskermingsvereniging (DBV) die beweerde verwaarlosing van diere op haar Modderfontein-plaas in Noordwes ondersoek.
Luidens die klagstaat was meer as 50 varke en ‘n aantal ander diere, insluitend skape, hoenders en ganse, reeds dood toe die DBV die plaas die eerste keer ondersoek het. ’n Verdere 224 diere moes uitgesit word.
Alhoewel die hof haar onskuldig bevind het, sal daar altyd ʼn klankie van die dieremishandeling aan haar kleef.
Dan is daar die aanstelling van Mapisa-Nqakula as speaker nadat sy as minister van verdediging so swak gevaar het dat sy eindelik onthef is van haar pos ná die 2021-onrus.
Die skandale en onbevoegdheid wat sy getoon het in haar termyn as minister van verdediging het dit duidelik gemaak dat sy nie speaker-materiaal is nie. Dis nou vir ander partye as die ANC.
Probeer die ANC kiesers ʼn kous oor die kop trek oor Mapisa-Nqakula?
Dit is die vraag wat by my opkom nadat sy, gegewe die ANC se tradisie van kaderbeskerming, só maklik die knie gebuig het en as speaker en ANC-parlementslid bedank het.
Is dit ʼn poging van die ANC om te wys dat hy skielik ernstig is om op te tree teen korrupsie in sy geledere deur die derde magtigste persoon in die land, naas die president en adjunkpresident, skielik op te offer?
Wat my bedenkinge oor die ANC se motiewe verdiep, is dat ʼn ANC-LP wat verkies om anoniem te bly, beweer dit was beter vir haar om te bedank aangesien die ANC haar nie só kort voor ʼn verkiesing sou kon verdedig in ʼn mosie van wantroue nie.
Hierdie stelling dui daarop dat indien daar nie ʼn verkiesing op hande was nie, die ANC haar wel met hand en tand sou verdedig soos wat gedoen is met soveel ander van sy korrupte lede.
Die ANC het die parlement se toesigrol oor die uitvoerende gesag (regering) verwater en omvorm in ʼn rubberstempel vir sy uitgediende wette en ideologieë.
Kiesers het op 29 Mei die geleentheid om van die ANC ontslae te raak en vir ʼn beter bedeling te stem.
Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.