Meningspeilings en verkiesingsuitslae
Daar is die afgelope ruk byna elke week ʼn nuwe meningspeiling wat voorspel hoe politieke partye in die komende verkiesing gaan vaar.
Die jongste dag-tot-dag-meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die ANC nou voorloop in KwaZulu-Natal nadat hy sy groot kanonne ingestuur het om in die provinsie stemme te werf.
Van die ANC’s het hulself verwerdig om uit hul luukse voertuie te klim om bietjie saam met die mense te bid, bosse te kap en wasgoed te was. Gegewe hoe die land lyk, is dit is seker die meeste werk wat hulle die afgelope vyf jaar gedoen het.
In ʼn meningspeiling van twee weke gelede was die ANC volgens die SRF derde ná die DA en MK.
Die akkuraatheid van al die peilings sal egter eers bepaal kan word nadat die stemuitslae bekendgemaak is.
Met die 2019-algemene verkiesings het meningspeilings oor die algemeen korrek voorspel dat die ANC die grootste party in die verkiesings sou wees.
Dié meningspeilings het die VF Plus se ondersteuning onderskat en het die party man en muis verras met sy groei.
Die speelveld is egter heelwat anders met die komende verkiesing gesien in die lig van soveel nuwe partye wat nog geen bewese rekord van deelname het aan algemene verkiesings nie en natuurlik ook onafhanklike kandidate wat nou mag meeding om ʼn setel.
Dat meningspeilings nie altyd iets is waarmee jy ʼn verkiesing se uitkoms moet voorspel nie, het geblyk uit die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016 tussen Donald Trump en Hillary Clinton
Die meeste meningspeilings en politieke waarnemers se voorspelling was dat Clinton die verkiesing sou wen. Donald Trump was uiteindelik die buiteperd wat die verkiesing gewen het.
Daar is verskeie redes waarom meningspeilings in Amerika se geval die pot mis gesit het. Een daarvan was dat van die steekproewe nie verteenwoordigend was van al die Amerikaanse kiesers nie en nie in ag geneem het hoeveel blouboordjiewerkers vir Trump sou stem nie.
Ek glo dat die meningspeilings met hierdie verkiesing weereens die VF Plus se steun onderskat en dat die party nog groter en sterker sal terugkeer.
Ek stem nie, want hulle kul
Hoe dikwels hoor ek nie hierdie woord nie? In die haarsalon, in winkelrye, om braaivleisvure en selfs by kerkbyeenkomste.
Dit is waar ons as gewone kiesers in die prentjie kom – om juis daardie kullery te voorkom deur op te tree as party-agente by stemlokale.
Met die stigting van die Veelpartyhandves, waarvan die VF Plus deel is, is daar nou die voordeel dat partye hul krag kan saamsnoer om ʼn opposisie-agent by elke stemlokaal in die land te hê.
Die maatreëls bepaal onder meer dat daar aan party-agente gewys moet word dat die stembus leeg is voor die stemlokaal open. Daarna word die stembus verseël.
Agente kan hul handtekeninge op die seël plaas en selfs ʼn foto daarvan neem.
Wanneer dié betrokke stembus vol is, word dit weer in die teenwoordigheid van die agente verseël sodat nog stembriewe nie bygevoeg kan word nie. Die stembus moet daarna op ʼn plek geplaas word waar die agente dit die hele tyd in die oog kan hou.
Nadat die stemlokaal gesluit het, word die stembusse in die teenwoordigheid van die agente oopgemaak en die stemme getel.
Die uitslag word daarna buite die stemlokaal opgeplak sodat die publiek dit kan sien. Elke party se agent moet dan die uitslagstrokie teken en kan ook ʼn foto daarvan neem.
Om te voorkom dat daar aan die stemgetalle tussen die stemlokaal en die sentrale uitslagsentrum (gewoonlik in Pretoria) gepeuter word, stuur opposisie-agente die uitslag van hul stemlokaal na die sentrale uitslagsentrum.
Daar word dit met die verkiesingskommissie (OVK) se amptelike uitslag vergelyk om seker te maak die getalle is dieselfde.
Dit het al voorheen gebeur dat die VF Plus daarop aangedring het dat ʼn stemlokaal se stemme oorgetel moet word nadat kiesers dit onder die party se aandag gebring het dat hulle by ʼn sekere lokaal vir die VF Plus gestem het, maar dit nie op die uitslag wat buite die lokaal opgeplak is, gereflekteer het nie.
Die VF Plus moedig mense aan om hom te kontak en aan te meld as ʼn party-agent by ʼn stemlokaal om te voorkom dat daar geknoei word met die stemproses en -tellery.
Ondersteuners wat daarin belang stel om as party-agent te dien tydens die spesiale stemdae van 27 en 28 Mei of op 29 Mei, kan gerus die VF Plus kontak by die volgende e-posadres: vfplus@vfplus.org.za of via ons webblad aanmeld.
Party-agente moet geregistreerde kiesers wees, nie ʼn kandidaat in die verkiesing wees nie en moet oor ʼn aanstellingsvorm beskik wat in ons geval deur die VF Plus uitgereik is. Dit moet aan die voorsittende beampte van die stemlokaal gegee word.
Meld asseblief aan.
Saam kan ons herstel en bou.