Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Van ons politieke lessenaar

Daar is geen kroon sonder kruis nie

Synde dat die verkiesing op hande is en jy op 29 Mei jou kruisies moet gaan trek agter die politieke party van jou keuse om jou in die parlement en provinsiale wetgewers te verteenwoordig, kom een van my oorlede ma se gunsteling gesegdes, “daar is geen kroon sonder kruis nie”, by my op.

Ek kan nie onthou hoeveel keer ek op my ma se skouer gaan huil het oor ʼn probleem wat onoorkoomlik gelyk het nie en dan moes hoor “daar is geen kroon sonder kruis nie”.

Natuurlik wou ek nie altyd hoor dat ʼn mens eers ʼn bietjie van jou eie sweet moet stort (kruis) om eindelik sukses (die kroon) te behaal nie. En dat dit gewoonlik gepaard gaan met moeite, opoffering en soms selfs lyding nie.

Sukses word inderdaad nie maklik sonder moeite of swaarkry bereik nie.

Is dit nie waar regdenkende Suid-Afrikaners hulself tans bevind nie?

Ons huil om braaivleisvure, op sosiale media en op mekaar se skouers oor alles wat verkeerd gaan in die land en wag dat iemand anders iets daaraan doen.

Het die tyd nie aangebreek dat ons self met moeite en opoffering die kroon wat binne ons bereik is op te eis nie?

Hoeveel moeite is dit dan nou om te gaan stem om van die onbevoegde en korrupte ANC-regering by die stembus ontslae te raak en te vervang met ʼn verantwoordbare en bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel sal wees?

Dit kan wel gedoen word, maar net as elke stemgeregtigde burger op 29 Mei die moeite doen om sy of haar kruisie te gaan trek.

Die bietjie opoffering om by die stemlokaal uit te kom eerder as om laat te slaap en later ʼn braaivleisvuur aan te steek en te maak of die verkiesing jou lewe nie gaan beïnvloed nie, sal elke sekonde werd wees.

Glo my dit kan ons almal se lewe ingrypend verander. Dit kan jou en jou kinders en jou nageslagte se lewe in vele opsigte ten goede beïnvloed.

Kom ons neem as voorbeeld die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsonwerp (NGV) wat pres. Cyril Ramaphosa, met ʼn glimlag wat Nakki die Nar jaloers sou maak, verlede week as wet bekragtig het.

Ons kan ons oë daarvoor sluit en maak of dit nie in ons leeftyd enige invloed op ons gaan hê nie, maar het jy al daaraan gedink hoe dit jou kind of kinders se lewe gaan beïnvloed?

Net verlede week was daar ʼn artikel in Rapport oor hoe lank kankerpasiënte moet wag vir behandeling by openbare gesondheidsorg-geriewe. Dit gaan nie beter word onder die NGV nie. Inteendeel, ons gaan in rye sit en doodgaan voordat ons die nodige behandeling ontvang het.

Die ANC het nou al oor en oor bewys dat hy nie te vertroue is met openbare fondse nie. Dat waar daar geld is, daar sal die ANC en sy kaders soos aasvoëls op ʼn verrotte karkas toesak. In hierdie geval my en jou hard verdiende belastinggeld.

Nasionale gesondheidsversekering werk nie eens in ʼn Eerstewêreldland soos Engeland nie. Wat is die kans dat dit hier suksesvol sal wees? Nul.

En wat is die kans dat Ramaphosa en sy ministers self van openbare gesondheidsorg sal gebruik maak? Ook nul.

Daarvoor is Rusland net ʼn vliegtuigrit ver.

Daar is ook die sogenaamde Bela-wetsontwerp waarmee die regering jou reg as ouer van jou wil ontneem om te bepaal hoe jou kind opgevoed moet word.

Of die Onteieningswetsontwerp wat ook vir Cyril se pen wag en waarna jy met die ondertekening daarvan nie eers meer seker kan wees van die eienaarskap van jou kat of hond nie.

Die tyd om apaties te staan en te hoop iemand anders gaan die probleme in die land oplos, te maak of dit jou nie raak nie of sommer maar net op te gee, is verby.

Staan op soos een man en gaan stem op 29 Mei om Suid-Afrika te red vir ons nageslagte.

Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.