fbpx
Vryheidsfront Plus

Van ons politieke lessenaar

RNE verander politieke speelveld

Die ANC se meerderheidsregering van die afgelope 30 jaar het met die uitslag van die algemene verkiesing tot ʼn einde gekom.

Synde dat die ANC se steun tot 40% afgeneem het, is die regerende party gedwing om ander politieke partye te betrek om ʼn regering van nasionale (RNE) aan bewind te stel.

Die RNE het nie sonder stampe en stote tot stand gekom nie, maar dit het die politieke speelveld drasties verander.

Die VF Plus se besluit om deel te wees van die RNE, is die uitleef van sy verkiesingsmantra om Suid-Afrika te herstel en te bou tot voordeel van al sy burgers.

Suid-Afrika sal net gered kan word deur self op die speelveld te wees en nie van die kantlyn af te kritiseer nie.

Alhoewel niemand naïef genoeg is om te glo dat die ANC oornag van haar en snaar verander het nie, sal hy versigtiger wees om sy eie agenda en uitgediende ideologieë op Suid-Afrika af te dwing.

Finansiële markte het duidelik getoon dat ʼn RNE in Suid-Afrika wenslik is en dat beleggers weer bereid is om in die land se ekonomie te belê.

Indien die ANC sondermeer die RNE wil laat ontspoor, sal hy die land onberekenbare skade aandoen – ook tot sy eie nadeel.

Die Suid-Afrikaanse skip wat duidelik voor die verkiesing op die rotse afgestuur het, het nou ʼn kans om stadig maar seker om te draai na veiliger waters.

Oom Pieter hou jou dop

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, se aanwysing as minister van korrektiewe dienste het selfs geharde misdadigers en korrupte amptenare ontkant gevang.

Oom Pieter of Pieter soos die media hom gedoop het, het sommer met die intrapslag die Zimbabwiër wat uit die Goodwood-gevangenis op TikTok gespog het oor sy luilekker lewer in die tronk, se vlerke geknip.

Tronkstraf moet dien as afskrikmiddel om nie weer misdaad te pleeg nie deur die wegneem van sekere voordele wat jy as burger geniet het. As ʼn gevangene het jy geen reg op vyfster-behandeling en dit met belastingbetalers se swaar verdiende geld nie.

Daarom ook dat dr. Groenewald van meet af aan gesê het tronke moet minder afhanklik raak van belastinggeld deur onder meer hul eie groente te produseer waar moontlik en werkswinkels waaruit geld genereer kan word, moet weer funksioneel gemaak word.

Buiten dat dit ʼn finansiële inspuiting beteken vir tronke dien dit ook as ʼn manier om misdadigers toe te rus met die nodige vaardighede om suksesvol te herintegreer in die samelewing.

VF Plus se waghondfunksie kry meer tande

Die VF Plus se waghondfunksie het met die vorming van ʼn RNE en ook regerings van provinsiale eenheid (RPE) in sekere provinsies meer tande gekry met die aanwysing van LP’s en LPW’s as komiteevoorsitters.

In die parlement is Wouter Wessels aangewys as voorsitter van die staande komitee oor die ouditeur-generaal (OG).

Die komitee verkry sy magte en bevoegdhede ingevolge die Openbare Ouditwet en moet oorsig oor die OG doen.

Dit sluit in die oorweging van sy strategiese plan, begroting en jaarverslag. Die ander belangrike taak is om die OG te beskerm en by te staan. Die komitee is met ander woorde verantwoordelik om probleme wat die OG se grondwetlike rol bemoeilik, aan te spreek.

Die VF Plus het ook in verskeie provinsiale wetgewers komiteevoorsittersposte bekom.

In die Noord-Kaapse wetgewer is Theo Joubert aangewys as voorsitter van die komitee vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake.

Die komitee het oorsig oor al die munisipaliteite in die Noord-Kaap.

In die Noordwes-wetgewer is Michal Groenewald aangewys as voorsitter van die staande komitee vir die oorsig oor die wetgewer.  

Die staande komitee doen oorsig oor die werksaamhede van die wetgewer, die onderskeie portefeuljekomitees asook die speaker en die kantoor van die speaker.

Armand Cloete is in die Vrystaatse wetgewer aangewys as voorsitter van die nuwe portefeuljekomitee vir samewerkende regering, die premierskantoor en gemeenskapsveiligheid. 

Dié portefeuljekomitee doen oorsig oor die departement van samewerkende regering wat verantwoordelik is vir munisipaliteite, die premierskantoor en die Vrystaatse polisiesekretariaat om te verseker dat hulle hul mandate uitvoer.

Die VF Plus sal van sy voorsitterskap gebruik maak om te verseker dat wanfunksionele munisipaliteite herstel en herbou word om aan inwoners optimale dienslewering te verskaf.

Landelike veiligheid deur effektiewe polisiëring is ook hoog op Cloete se prioriteitslys.

In Gauteng is twee voorsittersposte aan die VF Plus toegeken.

Adv. Anton Alberts, die party se nasionale voorsitter en LPW vir Gauteng, is die voorsitter van die ekonomiese ontwikkelingskomitee en Jaco Mulder (LPW) is die voorsitter van die landbou-, landelike ontwikkelings- en omgewingsakekomitee.

Die ekonomiese ontwikkelingskomitee en die landbou-, landelike ontwikkelings- en omgewingsakekomitee speel albei ‘n baie belangrike rol om ekonomiese groei en werkskepping in Gauteng te bevorder.

Die voorsitters van die twee komitees het heelwat invloed om die Gautengse regering verantwoordbaar te hou en kan ‘n sterk invloed uitoefen oor sy beleid en die implementering daarvan.

Die magte van die VF Plus-voorsitters in hierdie twee komitees is wesenlik aangesien hulle die program, agendas en strategiese fokuspunte kan bepaal.

Die voorsitters kan ook oorsigbesoeke reël by enige provinsiale regeringsdepartemente, -entiteite en -projekte en kan in diepte ondersoeke van stapel stuur. Daarby het die voorsitters die mag om die premier en betrokke LUR’e na die komitee te ontbied om te rapporteer oor tersaaklike regeringsake en om vrae te beantwoord.

Die voorsitters kan selfs die komitee opdrag gee om konsepbeleid te ontwikkel om aan die provinsiale regering voor te lê en provinsiale wetgewing te skep om in te dien by die wetgewer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.