Die VF Plus steun die proses om wykskomitees in die Tshwane-metro weer te aktiveer.
Die metroraad het pas ʼn resolusie aanvaar wat dit moontlik maak om die aanstelling van lede tot die onafhanklike verkiesingbestuursliggaam (OVB) te finaliseer.
Die OVB moet die verkiesing van inwoners tot wykskomitees bestuur.
Wykskomitees is ʼn kragtige platform vir inwoners in elke wyk wat hulle insae gee in die opstel van die metro se begroting en die bepaling van diensleweringsprioriteite.
Die Tshwane-metro het vir ʼn lang tyd reeds nie enige funksionerende wykskomitees nie en daarom is die proses om dit weer te aktiveer, goeie nuus.
Dit gaan die deelname van inwoners in die bestuur van die metro verhoog en sodoende ook die demokrasie verdiep wat tot voordeel is van alle belanghebbendes in die metro.
Die daarstel van wykskomitees is ook in lyn met die VF Plus se beleid dat soveel mag as moontlik na die grondvlak afgewentel moet word.
Die VF Plus sal die proses monitor om te sorg dat wykskomitees spoedig in die Tshwane-metro weer ʼn realiteit word.