Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vlaag gewelddadige plaasaanvalle neem toe en steeds swyg die president

Suid-Afrika het pas ’n swart week beleef wat plaasaanvalle aanbetref. En steeds swyg die ontkennende president, Cyril Ramaphosa, asof dit nie gebeur nie.

Ná die aanval op mnr. Donovan Marx verlede Woensdag, waarin hy geskiet en sy ore afgesny is, is mnr. Les Brett (67) en sy vrou, Natasha (68), Sondag op ’n kleinhoewe by Broederstroom aangeval.

Hulle is ure lank op grusame wyse gemartel, onder meer met kookwater. Die wonde aan mnr. Brett se gesig en arms is só erg dat dit lyk of hy in ’n ernstige motorongeluk was. Die ergste marteling vir hom was sekerlik om te aanskou hoe mev. Brett voor hom aangerand word.

Enkele weke gelede is mev. Hannetjie van Zyl (55) doodgeslaan terwyl sy die hek op haar plaas by Ottosdal oopgemaak het.

Die VF Plus wil aan pres. Ramaphosa vra of hy so min van die land se boere dink dat hy volhard met sy ontkenning dat dit enigsins gebeur, soos wat hy in 2018 in ‘n Bloomberg-onderhoud gedoen het.

Die VF Plus wil hom vra om hieraan te dink wanneer hy by sy volgende maaltyd aansit. Dit is die land se boere wat onder uiters moeilike omstandighede in ’n harde klimaat sorg dat Suid-Afrikaners kos van die hoogste gehalte op hul tafel kan sit.

Die dank wat hulle kry, is ’n president wat hul lot ontken en, sonder om ’n vinger te verroer, toekyk hoe Suid-Afrika uit die Agoa-ooreenkoms met die VSA geskop word. Dit gaan dit vir boere in die nabye toekoms veel moeiliker maak om te oorleef.

Mense en partye soos die VF Plus wat die wêreld oor hierdie krisis inlig, word beledig en gedreig deur oneerlike kommentators en ’n gevoellose regering. Die VF Plus sal hom nie hierdeur laat afskrik of intimideer nie.

Die party sal aanhou om die kollig op ongeregtighede soos plaasaanvalle te laat skyn totdat die druk op die regering so groot raak dat hy gedwing sal word om op te tree – of tot daar oor enkele jare ’n nuwe, eerbare regering aan bewind kom waarvan die VF Plus ’n deel sal vorm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.