Die VF Plus in die ANC-beheerde Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit wat Zeerust en Groot Marico bedien, het ‘n amptelike klag teen die munisipaliteit by die Groen Skerpioene ingedien weens die voortslepende rioolbesoedeling in Zeerust en die omliggende gebied. Die besoedeling is weens totale munisipale nalatigheid.
Hierdie stap volg op vele versoeke van die VF Plus dat die munisipale bestuur ingryp om die gemeenskap se lewenskwaliteit teen die voortslepende probleem te beskerm.
Vervalle rioolinfrastruktuur het tot gevolg dat groot hoeveelhede riool in strate afvloei, en uiteindelik in die Kareespruit beland wat deur die dorp vloei.
Benewens die direkte gesondheidsgevare wat dit vir die dorpsinwoners inhou, word grondwaterbronne in die omliggende gebiede ook geraak.
Hierdie besmette water vloei ook gereeld, veral tydens die reënseisoen, tot in die Klein-Maricopoortdam. Dít bedreig ook die plaaslike landbougemeenskap wat die damwater vir besproeiing gebruik.
Die VF Plus sal die ondersoek monitor om te seker te maak dat diegene verantwoordelik verantwoordbaar gehou word.
Dit is noodsaaklik dat die inwoners van Zeerust en Groot Marico die geleentheid aangryp en op 4 November met hul stem seker maak dat die ANC uit plaaslike regering verwyder word.


