Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende optrede teen vermeende bende wat noordelike voorstede teiken

Die VF Plus is bekommerd oor ’n reeks huisrooftogte in Kaapstad se noordelike voorstede wat vermoedelik met die sogenaamde “Crowbar Gang” verband hou. Bejaardes tel ook onder die slagoffers.

Die jongste voorval het Vrydag 30 Oktober 2026 omstreeks 03:15 in Aurora, Durbanville, plaasgevind.

Vier gewapende persone met klapmusse en handskoene het ’n bejaarde egpaar in Maritzstraat in hul slaap oorrompel, vasgebind nadat hulle toegang met ’n koevoet gekry het.

Ná sowat 30 minute het hulle te voet met selfone, skootrekenaars, juwele en bankkaarte gevlug.

Ná ’n openbare waarskuwing het talle inwoners soortgelyke voorvalle in Goodwood, Bellville, Brackenfell, Kuilsrivier, Parow, Durbanville en omliggende gebiede aangemeld.

Die modus operandi is deurgaans dieselfde: Koevoete word gebruik om veiligheidshekke oop te dwing terwyl inwoners tuis is.

Die VF Plus het senior polisielede versoek om berading en ondersteuning aan die bejaarde egpaar in Durbanville te reël. Slagoffers van gewelddadige huisrooftogte verdien meer as bloot ’n saaknommer.

Volgens inligting is ’n taakspan reeds besig om die verdagtes te soek.

Die toenemende aantal voorvalle beklemtoon die dringendheid van sigbare vordering met die ondersoek. Die VF Plus sal die Stad Kaapstad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit amptelik nader om vas te stel of die stad se ondersoekeenheid die polisie kan help.

Alle beskikbare samewerking tussen die polisie en die Stad Kaapstad se wetstoepassings- en ondersoekeenhede moet aangewend word om hierdie misdadigers in hul spore te stuit, veral waar weerlose bejaardes in hul eie huise geteiken word.

Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly, veiligheidshekke en deure behoorlik te beveilig, alarmstelsels en kameras gereeld na te gaan en verdagte persone of voertuie onmiddellik aan te meld. Moenie gewapende verdagtes konfronteer nie en versprei slegs geverifieerde waarskuwings.

Enigiemand met inligting kan die polisie kontak by 10111 of die Stad Kaapstad se noodnommer by 021 480 7700.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.