Wanneer ‘n land vir té lank een van sy grootste handelsvennote vervreem en beledig en sy vyande omarm, nieteenstaande direkte waarskuwings vanuit alle oorde, moet hy verwag om die gevolge te dra, soos Suid-Afrika wat nou uit sy Agoa-handelsoorkoms met die VSA geskop is.
Die gevolge vir Suid-Afrika is enorm en ingrypend. Dit sal groot werkverliese tot gevolg hê wat bloot nie bekostig kan word nie. Die ekonomie in die algemeen, met sekore soos landbou en die motorbedryf in die besonder, gaan swaar ly.
Pres. Cyril Ramaphosa en sy minister van internasionale verhoudinge, Ronald Lamola, moet direk pa staan vir hierdie krisis. Hul ongevoelige weiering om toe te gee aan die VSA se redelike vereistes vir die herstel van normale betrekkinge, soos die VF Plus dit oorgedra het, het dit veroorsaak.
Die ANC is jaar ná jaar gewaarsku terwyl organisasies en ‘n party soos die VF Plus herhaaldelik na Washington gereis het om te pleit dat gewone Suid-Afrikaners nie gestraf moet word vir die ANC se rampspoedige buitelandse beleid nie en dat Suid-Afrika nie uit Agoa geskop moet word nie.
Die antwoord van die ANC was om te dreig dat partye wat Suid-Afrika se saak voor die internasionale gemeenskap en die VSA bepleit, selfs aan hoogveraad skuldig is en hulle blootstel aan vervolging.
Die gevolge van die Agoa-besluit vir gewone Suid-Afrikaners is omvangryk. Miljarde rande aan jaarlikse uitvoeromset van onder meer die motor- en landboubedryf sal verlore gaan weens strawwe Amerikaanse invoertariewe wat onder Agoa afgeskaf is.
Tussen 125,000 en meer as 500,000 direkte en indirekte werksgeleenthede is volgens verskeie bedryfsontleders in die gedrang in ‘n land waar die uitgebreide werkloosheidskoers in die tweede kwartaal van 2026 reeds op 43,8% gestaan het.
Huishoudings en gemeenskappe sal selfs verder in armoede gedompel word deur laer mededingendheid en maatskappysluitings.
Terwyl die ANC deurlopend voorgee dat alternatiewe markte gevind sal word, staan Suid-Afrika al hoe meer in internasionale onguns. ‘n Vennoot met goeie bedoelinge soos die VSA, word nie oornag gevind nie.
Hierdie verwikkeling is verder verdoemend vir die ANC met die plaaslike regeringsverkiesing voor die deur. Alhoewel dit ‘n plaaslike verkiesing is, het kiesers steeds die geleentheid om te wys dat die ANC nie langer aan stuur kan staan van skip wat op selfvernieting afstuur nie.
Die ANC het nou by herhaling gewys hy is met niks te vertrou nie – hetsy dit basiese dienslewering soos water en krag is – of die land se ekonomiese toekoms op internasionale vlak. Dié party het Suid-Afrika vernietig en vervreem van die wêreld.


