Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan Mngxitama by parlement en MRK aankla oor skokkende plaasaanval-uitsprake

Die VF Plus sal toesien dat skokkende uitsprake soos dié van die MK-party-LP, Andile Mngxitama, oor plaasaanvalle en die grusame aanval op mnr. Donovan Marx wie se ore vandeesweek tydens ‘n aanval afgesny is, nie ongestraf gelaat word nie.

Mngxitama het vandag in ‘n plasing op X en Facebook daarop gesinspeel dat mnr. Marx ‘n “gronddief” is en dat sy ore as ‘n “simboliese gebaar” afgesny is omdat “gronddiewe weier om te luister”. Sulke uitlatings is onaanvaarbaar en hoort nie in ‘n moderne en beskaafde samelewing nie.

Dit is niks anders nie as onverbloemde haatspraak en is tekenend van die barbaarsheid waarmee vele plaasaanvalle gepaard gaan.

Die VF Plus gaan amptelik ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en die parlement se etiekkomitee indien, aangesien gedrag en uitlatings van hierdie aard totaal onaanvaarbaar is, veral komende van ‘n lid van die parlement wat die Grondwet moet eerbiedig.

Elke parlementslid lê ‘n eed af om die bepalings van die Grondwet en die landswette te gehoorsaam, wat haatspraak uitdruklik verbied. Parlementslede onderneem ook om te alle tye só op te tree dat die belange van die publiek en die parlement bo hul eie gestel word.

Mngxitama hoort nie in die parlement nie. Die MK-party moet hom ondubbelsinnig van hierdie uitlatings distansieer en behoort Mngxitama onmiddellik uit die party te skors om te wys dat hy hom nie met sulke gedrag vereenselwig nie.

Selfs Julius Malema, leier van die EFF, het die naweek ‘n ommekeer in sy houding oor plaasaanvalle gemaak deur die aanval op mnr. Marx, die uiterste wreedheid daarvan, en plaasaanvalle in die algemeen, te veroordeel. Hy het egter steeds die “Kill the Boer” lied gesing wat onaanvaarbaar is.

Die VF Plus voer deurlopend aan dat uitsprake wat op haatspraak neerkom, bewys dat plaasaanvalle nie slegs gewone misdaad is nie. Mngxitama se uitlatings onderstreep hierdie siening ondubbelsinnig deur aanvalle te probeer regverdig op grond daarvan dat boere sogenaamde “gronddiewe” is wat nie wil luister nie.

Hy sal hierdie onverantwoordelike uitsprake moet verduidelik. Die VF Plus sal nie swyg terwyl geweld en rassehaat op hierdie afskuwelike wyse aangehits word nie en sal voortgaan om die wêreld daaroor in te lig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.