Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan hofbevel teen Dipaleseng laat afdwing om dienste en omgewing te beskerm

Die VF Plus gaan druk uitoefen vir die streng afdwinging van die hofbevel teen die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit oor dienslewering.

Inwoners behoort nie langer die gevolge van swak bestuur, gebrekkige dienslewering en omgewingsverwaarlosing te dra nie.

Op 15 November 2024 het die Balfour-landdroshof die munisipaliteit skuldig bevind aan ernstige omgewingsoortredings nadat onbehandelde riool en besoedelde water vir jare in riviere, damme en omliggende gebiede beland het.

As deel van die uitspraak is ‘n boete van R160 miljoen die munisipaliteit opgelê, waarvan R40 miljoen vir vyf jaar opgeskort is.

Die hof het verder bepaal dat die geld gebruik moet word om die rioolwerke in Balfour, Grootvlei en Greylingstad te herstel en op te gradeer, die Siyathemba-pompstasie te verbeter en die drie dorpe se vullisstortingsterreine op standaard te bring.

Die fondse word deur die departement van water en sanitasie beskikbaar gestel en bied ‘n geleentheid om infrastruktuur te herstel, besoedeling te beperk en dienslewering te verbeter.

Die hofbevel is daarom veel meer as bloot ‘n strafmaatreël. Dit dien as ‘n herstelplan om die omgewingskade reg te stel, verdere besoedeling te voorkom en inwoners se reg op behoorlike riool-, water- en afvaldienste te beskerm.

‘n Vorderingsverslag wat op 28 Oktober 2026 tydens ‘n raadsvergadering ter tafel gelê is, toon egter dat verskeie vereistes van die hofbevel steeds nie nagekom word nie.

Vullisstortingsterreine beskik nog nie oor die vereiste weegbrûe nie, riooluitvloeisel word nie behoorlik getoets nie, inspeksies word deur persone sonder die nodige opleiding uitgevoer en verpligte vorderingsverslae word nie ingedien nie.

Volgens die VF Plus vertraag hierdie versuim nie net die herstel van kritieke infrastruktuur nie, maar stel dit ook die munisipaliteit in gevaar om die opgeskorte R40 miljoen van die boete te verbeur. Dit kan inwoners uiteindelik verder benadeel terwyl hulle reeds die gevolge van onvoldoende dienslewering ervaar.

Die VF Plus het daarom die nasionale vervolgingsgesag (NGV) versoek om die hofbevel af te dwing en, waar nodig, verdere regstappe te oorweeg om te verseker dat verantwoordelike amptenare aanspreeklik gehou word vir volgehoue nie-nakoming.

Die VF Plus se standpunt is duidelik: Die beskikbare fondse moet aangewend word waarvoor dit bedoel is, die hofbevel moet volledig nagekom word en inwoners moet toegang hê tot werkende rioolstelsels, skoon water en behoorlike afvalbestuur.

Inwoners van Dipaleseng verdien meer as leë beloftes en verskonings. Hulle verdien ‘n munisipaliteit wat sy wetlike verpligtinge nakom, die omgewing beskerm en betroubare dienste aan sy gemeenskappe lewer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.