Die VF Plus is bekommerd oor die onsekerheid rondom die sogenaamde Artikel 22-komitee wat vir die godsdienssektor tot stand gebring is en die potensiële gevolge wat dit vir godsdiensvryheid in Suid-Afrika kan inhou.
Die komitee spruit voort uit die proses wat deur die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL-kommissie) van stapel gestuur is ná sy ondersoek oor die sogenaamde “kommersialisering van godsdiens”.
Hoewel die proses as selfregulering binne die geloofsektor voorgehou word, bly die komitee se regstatus, mandaat en bevoegdhede grootliks onduidelik. Die VF Plus is bekommerd dat hierdie proses uiteindelik die deur vir indirekte staatsbeheer van kerke en godsdienstige instellings kan oopmaak.
Wat vandag as vrywillige selfregulering beskryf word, kan mettertyd ontwikkel in strukture wat gedragskodes, sertifisering en toesig oor geloofsgemeenskappe moontlik maak.
Die CRL-kommissie is ‘n Hoofstuk 9-instelling met die mandaat om die regte van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe te bevorder en te beskerm. Sy rol is om grondwetlike regte te versterk, nie om die omvang daarvan te beperk nie.
Artikel 15 van die Grondwet beskerm die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening. Enige proses wat hierdie regte kan raak, behoort daarom met die grootste omsigtigheid benader te word.
Hoewel voorstanders van die Artikel 22-proses dit as selfregulering beskryf, sluit voorstelle wat reeds bespreek word gedragskodes, aanspreeklikheidsmeganismes en vorme van sertifisering vir geloofsinstellings in. Dit laat belangrike vrae ontstaan oor wie hierdie standaarde sal bepaal, wie toesig daaroor sal hou en wat die gevolge sal wees vir kerke wat verkies om nie daaraan deel te neem nie.
Die VF Plus ondersteun aanspreeklikheid en deursigtigheid binne kerke en geloofsgemeenskappe. Geen godsdiensleier behoort bo die wet verhewe te wees nie en waar misdade gepleeg word, moet die volle gewig van die reg daarop neerkom.
Dit is egter juis waar die werklike probleem lê. Suid-Afrika het nie ‘n kerkprobleem nie; Suid-Afrika het ‘n misdaadprobleem.
Misdadige elemente het reeds diep in staatsinstellings, insluitend die polisie en dele van die strafregstelsel, ingedring. Die oplossing is nie nuwe toesigstrukture vir kerke nie, maar die herstel van die staat se vermoë om misdadigers op te spoor, te vervolg en suksesvol skuldig te laat bevind.
Die sake van Shepherd Bushiri en Timothy Omotoso het nie tekortkominge in godsdiensvryheid blootgelê nie. Dit het tekortkominge in immigrasiebeheer, wetstoepassing en die funksionering van die strafregstelsel blootgelê.
Die staat se onvermoë om doeltreffend teen oortreders op te tree, mag nie as regverdiging gebruik word om wetsgehoorsame kerke en geloofsgemeenskappe aan verdere vorme van toesig bloot te stel nie.
Tydens die Nasionale Godsdiensvryheidsdialoog op 28 Oktober 2026 in Durban het die VF Plus se Wes-Kaapse wetgewerlid, Grant Marais, die party se standpunt oor godsdiensvryheid as ‘n fundamentele grondwetlike reg uiteengesit.
Die VF Plus verwelkom dr. Zweli Mkhize, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), se opmerkings tydens die dialoog waarin hy bevestig het dat die aanvanklike bedoeling van die proses nie was om kerke te reguleer nie. Die party verwelkom ook sy steun vir groter duidelikheid oor die samestelling, status en mandaat van die Artikel 22-komitee.
Vir Christene is Christus alleen die Hoof van die Kerk (Kolossense 1:18). Die regering se rol is om die wet toe te pas en openbare orde te handhaaf, nie om gesag oor kerklike aangeleenthede uit te oefen nie.
Die VF Plus sal enige poging teenstaan wat godsdiensvryheid ondermyn of die deur vir staatsinmenging in kerklike sake oopmaak.
Wat Suid-Afrika nodig het, is sterker instellings, beter wetstoepassing en die vervolging van misdadigers, nie verdere beperkings op wetsgehoorsame gelowiges en hul kerke nie.


