Twee noodlottige ongelukke binne enkele weke met sterftes wat moontlik voorkom kon word, beklemtoon opnuut waarom die Mmamahabane-brandweerstasie in Ventersburg nooit toegelaat moes word om in onbruik te verval nie.
Ventersburg is langs een van Suid-Afrika se besigste nasionale roetes geleë en ervaar deurentyd swaar verkeer van vragmotors, vakansiereisigers en ander padgebruikers. Die behoefte aan ’n funksionele nood- en reddingsdiens in die gebied is daarom ’n daaglikse werklikheid.
Op 17 Oktober het twee mense in ’n trompopbotsing naby Ventersburg omgekom. In ’n tweede noodlottige ongeluk op 29 Oktober was ’n swaarvoertuig op die N1 betrokke.
Dit is nie ‘n gegewe dat van die oorledenes wel gered sou word nie, maar die realiteit is wel dat enige beseerdes se kans op oorlewing veel beter is indien hulle so gou doenlik spesials-behandeling na ‘n ongeluk ontvang.
Die Mmamahabane-brandweerstasie is in 2015 teen sowat R14 miljoen opgerig met die doel om brandweer- en reddingsdienste aan Ventersburg en omliggende gebiede te lewer. Meer as ’n dekade later staan dit egter in onbruik. Dele van die gebou is gevandaliseer en dit het nooit die diens gelewer waarvoor belastingbetalers betaal het nie.
Verskeie beloftes is deur die jare gemaak dat die stasie beman, herstel en in werking gestel sou word, maar dit het nie gebeur nie.
Intussen moet gespesialiseerde brandweer- en reddingsdienste vanaf Welkom, sowat 50 km van Ventersburg, ontbied word. Wanneer elke minuut in ’n noodgeval saak maak, behoort dit rede tot ernstige kommer te wees.
Met die feesseisoen en Desembervakansie om die draai, sal verkeersvolumes op die N1 na verwagting skerp toeneem. Dit maak die behoefte aan ’n ten volle funksionele brandweer- en reddingsdiens in Ventersburg selfs dringender.
Die VF Plus sal daarom by die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Thabo Panyane, en die Vrystaatse regering aandring op antwoorde oor waarom die brandweerstasie steeds nie operasioneel is nie, asook ’n duidelike tydlyn vir wanneer dit eindelik in diens gestel sal word.
Die verval van noodsaaklike dienste in Ventersburg toon waarom besluitnemingsmag en finansiële beheer tot op die laagste uitvoerbare regeringsvlak afgewentel moet word.
Kleiner plaaslike munisipaliteite moet beheer oor hul eie geld, geboue en nooddienste hê sodat dit volgens elke gemeenskap se werklike behoeftes aangewend kan word.


