Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun Danabaai-inwoners in hul stryd teen omstrede verkoop van munisipale erf

Die beplande verkoop van ʼn munisipale erf op Danabaai veroorsaak groot onmin in die gemeenskap en die VF Plus het ná ʼn petisie oor die aangeleentheid ʼn beswaarskrif namens inwoners aan die Mosselbaaise munisipaliteit oorhandig.

Soos die inwoners is die VF Plus besorg oor die feit dat ʼn behoorlike openbare tenderproses nie gevolg is met die verkoop van die betrokke erf 6393 nie.

Die publiek is eers betrek om deelname en kommentaar ná die raadsbesluit verlede jaar om die erf te verkoop.

Luidens ʼn berig in die Mossel Bay Advertiser (22 Desember 2023, “Omstredenheid rondom vervreemding van Danabaai-erf”), bestaan daar verskeie kwelvrae oor die aangeleentheid.

Die eerste is die kwessie oor die tenderproses. Tweedens is die erf verkoop aan ʼn familielid van ʼn raadslid, mnr. Lodewyk Coetzee van die DA teen ʼn prys wat klaarblyklik benede markwaarde is.

Die kopers is mnr. en mev. Gerrit en Andrea Coetzee, trustees van die South African Global Conqueror Trust.

Beide is die geleentheid gebied om in die berig te reageer. Hulle hou vol dat geen ongerymdhede plaasgevind het nie.

Raadslid Coetzee het bevestig dat hy wel familie van die kopers is, maar dat hy homself van die raadsvergadering verskoon het waar die besluit geneem is.

Die VF Plus het met die munisipaliteit geskakel om kommentaar oor die aangeleentheid, gegrond op die mediaberig.

ʼn Woordvoerder van die munisipaliteit se regsafdeling het vandag die vrae per e-pos beantwoord. Hier volg die vrae en antwoorde:

  1. Vraag: Waarom is ’n behoorlike tenderproses nie gevolg om die erf te verkoop nie?
    Antwoord: Daar is nog nie ’n finale besluit geneem om die erf te vervreem nie en die aansoek is tans in die fase van openbare deelname.
  2. Vraag: Het hierdie proses afgewyk van die gewone proses wat gevolg word om munisipale eiendom te verkoop?
    Antwoord: Nee.
  3. Vraag: Hoe is die prys bepaal? (R980 000 insluitend BTW).
    Antwoord: Die markverwante verkoopprys is bepaal deur die munisipale waardeerder met inagneming van ander eiendomsverkope en die ligging.
  4. Vraag: Is dit die huidige markwaarde? Die bewering word gemaak dat die erf miljoene rande werd is.
    Antwoord: Sien die antwoord by punt 3.
  5. Vraag: Kan u die markwaarde bewys?
    Antwoord: Die munisipale waardeerder se memorandum was aangeheg aan die item wat op die raadsagenda was.
  6. Vraag: Het raadslid Lodewyk Coetzee enigsins ’n rol gespeel in die proses?
    Antwoord: Die raadslid het homself verskoon tydens die bespreking van die item en die neem van die besluit tydens die raadsvergadering.
  7. Vraag: Gaan u nieteenstaande teenkanting en ’n beswaarskrif van die gemeenskap steeds voort met die transaksie?
    Antwoord: Al die besware en kommentare ontvang word na afloop van die openbare deelnameproses aan die raad voorgelê vir oorweging en besluitneming. Daar word voorsien dat hierdie item sal dien tydens ’n ope raadsvergadering op 28 Februarie 2024 en is u welkom om die vergadering by te woon of verdere navrae na afloop van die vergadering te rig.

Die VF Plus is van mening dat ʼn openbare tenderproses gevolg moet word met aangeleenthede soos hierdie om ontevredenheid uit te skakel.

Deur dit nie te doen nie, sal noodwendig aanleiding gee tot onmin onder die plaaslike gemeenskap, veral wanneer ʼn familielid as raadslid in die proses betrokke is.

ʼn Openbare deelnameproses net om kommentaar te kry nadat die raad reeds ʼn wesenlike besluit geneem het, is nie die regte werkswyse nie.

Die burgemeester van Mosselbaai, mnr. Dirk Kotzé, het dit in die raadsvergadering benadruk dat enige persoon wat in Mosselbaai wil belê, welkom is.

Die VF Plus stem daarmee saam. Plaaslike inwoners en gemeenskapsbelange moet egter voorrang geniet.

Die VF Plus ondersteun die plaaslike gemeenskap en sal die situasie dophou en daarop aandring dat die regte prosesse van openbare deelname in die toekoms gevolg met sake soos hierdie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.