Die VF Plus in die Tshwane-metro is trots om ʼn projek aan te kondig wat nie net die lewensomstandighede van inwoners van Wolmer gaan verbeter nie, maar ook om aan dié gemeenskap, wat al vir jare gebuk gaan onder armoede en haglike behuisingstoestande, hoop te bied.
Tydens ʼn onlangse oorsigbesoek aan die gebied het die VF Plus eerstehands beleef hoe groot die nood van inwoners is.
Baie woon in Wendyhuise sonder behoorlike brandveiligheidsmaatreëls. Die gebruik van gas in hierdie strukture verhoog die risiko van brande aansienlik en het reeds tot tragiese voorvalle gelei.
In samewerking met private instellings het die VF Plus weer hoop aan die gemeenskap gebring met die loodsing van ʼn opknappingsprojek aan vervalle blyplekke op eiendom wat aan die Tshwane-metro behoort.
Die bemarkingsbestuurder van die Wonderpark-winkelsentrum het R150 000 bewillig aan sy eie kontrakteur, Den Donix, om die Wendy- en huurhuise te herstel en te verf.
Die winkelsentrum het verder aangedui dat hy jaarliks ʼn bedrag geld in sy begroting sal bewillig vir opheffingswerk.
Die afvalmateriaal wat uit die projek herwin kan word, sal weer hergebruik word in ander toekomstige projekte.
Hierdie stap is deel van die party se werkskeppingsprojek om werkloses die geleentheid te gee om die arbeidsmark te betree.
Die huurhuise wat deur die metro se behuisingsmaatskappy bestuur word, is oor die jare verwaarloos en die Wendyhuise wat opgerig is, word selde opgeknap weens inwoners se finansiële onvermoë om dit te doen.
Die projek is net die begin van die VF Plus se veldtog om met die hulp van die gemeenskap en ondernemings die lewe van minderbevoorregtes te verbeter.
Die party nooi ook almal wat wil betrokke raak om by die projek aan te sluit. Die party het sy dank betuig aan die maatskappye wat reeds betrokke is.
Die VF Plus is nie net ʼn party wat kritiseer nie, maar inspring en werk om gemeenskappe op te hef.