Die VF Plus verwelkom die goedkeuring van ’n mosie aangaande eiendomsbelasting wat verligting bring vir bejaarde inwoners van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit.
Hierdie oorwinning is ’n belangrike stap om die finansiële las van die gemeenskap se kwesbaarste lede te verlig.
Die mosie, wat die VF Plus reeds in Januarie 2025 aan die munisipale raad voorgelê het, stel bejaarde eiendomseienaars in staat om afslag op hul eiendomsbelasting te ontvang. Die besluit is op goedgekeur tydens die raadsitting waar die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en verwante beleide ook aanvaar is.
Die afslag is beskikbaar vir inwoners van onder meer Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt en Emzinoni. Aansoekers moet 60 jaar of ouer wees, die geregistreerde eienaar én inwoner van die eiendom wees, en mag slegs een eiendom besit. Medies ongeskikte persone kan ook kwalifiseer, mits ’n geldige mediese sertifikaat voorgelê word.
Inkomste-afhanklike afslag is soos volg beskikbaar:
• R0 – R16 000: 100% afslag
• R16 001 – R17 000: 80%
• R17 001 – R18 000: 60%
• R18 001 – R19 000: 40%
• R19 001 – R20 000: 20%
’n Verdere verbetering is dat bejaardes wat nog nie aansoek gedoen het vir eiendomskorting nie, dit voor die 1ste van elke maand kan doen vir oorweging in die volgende faktureringsiklus.
Die VF Plus sal aanhou veg vir die regte van bejaardes en oplossings bevorder wat hul lewenskwaliteit verbeter.


