Die VF Plus verwelkom die Kieshof se beslissing om die ANC se aansoek om die heropening van die kandidaatregistrasieproses van die hand te wys, en die party hoop dat kiesers in die komende verkiesing die ANC se onbevoegdheid op soortgelyke wyse sal straf.
Hierdie uitspraak stuur ‘n duidelike boodskap dat die ANC nie langer taktiek soos dié kan gebruik om instellings te boelie of te intimideer om op te maak vir sy eie tekortkominge nie.
Die ANC wou met sy aansoek die Verkiesingskommissie (OVK) dwing om wykraadslidkandidate in ses munisipaliteite vir die verkiesing ná die spertyd te aanvaar. Die hof het die aansoek verwerp.
Die ANC se onvermoë om sy eie kandidaatlyste betyds in te dien, was nie ‘n administratiewe glips nie. Dit onderstreep presies wie en wat die ANC geword het: ‘n Organisasie wat gekenmerk word deur totale administratiewe en politieke verval.
Hierdie voorval is aanduidend van die groter krisis waarin Suid-Afrika hom bevind: Dit is hierdie onbevoegdheid en wanbestuur wat munisipaliteite landwyd in duie laat stort het met vervalle infrastruktuur en ‘n gebrek aan basiese dienslewering.
Dit is hierdie onbevoegdheid wat die land se ekonomie op sy knieë gedwing het, wat gelei het tot rommelstatus en rekordwerkloosheidsyfers.
Dit is ook hierdie onbevoegdheid wat plaaslike gemeenskappe sonder skoon water, betroubare kragtoevoer of veilige paaie gelaat het.
Indien ‘n party nie sy eie interne sake in orde kan kry nie, kan daar sekerlik nie van hom verwag word om ‘n land, ‘n provinsie of ‘n munisipaliteit doeltreffend te bestuur nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op kiesers om hierdie geleentheid in die komende plaaslike verkiesing met albei hande aan te gryp en vir eens en altyd van die ANC ontslae te raak.
Dit is tyd om te wys dat die Suid-Afrikaanse publiek nie langer bereid is om die prys vir verval, korrupsie en wanbestuur te betaal nie.


