Die verbeterde matriekslaagsyfer van 86,7% in die Wes-Kaap weerspieёl die gees van volharding wat inherent is aan alle Suid-Afrikaners. Om in ‘n uitdagende omgewing steeds uit te styg, getuig hiervan.
Die slaagsyfer is ʼn toename van 5,2% teenoor 2023 se syfer van 81,5% en die VF Plus wens elke matrikulant in die Wes-Kaap wat die 2024-eksamen geslaag het, geluk met die prestasie.
Dit het gewis harde werk, doelgerigtheid en dissipline geverg om hierdie mylpaal te bereik.
Hierdie groep leerders het die Covid-19-pandemie met sy striemende beperkings in 2020 deurgemaak terwyl hulle op hoër skool was. Hul sekondêre skoolervaring het dus studie ingesluit te midde van ‘n nasionale inperking en Eskom se gereelde en ewe ontwrigtende kragonderbrekings.
Baie leerders uit veral minder gegoede gemeenskappe moes ook erge sosio-ekonomiese uitdagings, wat grootliks vererger is deur Covid-19, die hoof bied.
In hierdie gemeenskappe is daaglikse voorvalle van misdaad, die hoë voorkoms van tienerswangerskappe, voedselonsekerheid en ‘n gebrek aan gesinsondersteuningstrukture opsigself ‘n reuse struikelblok.
Dit is daarom bemoedigend om te hoor dat selfs kinders wat kwintiel 1 tot 3-skole bygewoon het, ook ‘n verbeterde matriekslaagsyfer getoon het.
Die leerders wat dit in 2024 nie gemaak het nie, moet nogtans nie moed en hoop verloor nie.
Die VF Plus moedig hulle aan om met die departement van basiese onderwys te skakel vir bystand om te registreer om hul matriek, of die vakke wat hulle nie geslaag het nie, te herskryf. Moet net nie moed opgee nie.
Welgedaan ook aan alle ouers en onderwysers wat die matrikulante bygestaan het.
’n Blink toekoms wag op daardie leerlinge wat in hul drome glo en wat bereid is om hard te werk om dit te verwesenlik.