Die Uitvoerende Dagbestuur van die VF Plus het kennis geneem van die optrede van pres. Cyril Ramaphosa en die minister van basiese onderwys, me. Siviwe Gwarube, wat op 20 Desember 2024 die inwerkingstelling van die sogenaamde Bela-onderwyswet in sy geheel geproklameer het.
Hierdie proklamasie is strydig met die aanbeveling van die regering van nasionale eenheid (RNE) se geskilbeslegtingsmeganismes en behoort herroep te word.
In September 2024, toe die president die wet onderteken het, is die implementering van die omstrede artikels 4 en 5 wat taal- en toelatingsbeleid hanteer, met drie maande uitgestel.
In daardie tyd sou oorlegpleging plaasvind, wat inderdaad gebeur het. Een voorbeeld is die ooreenkoms wat AfriForum en Solidariteit met die presidensie by Nedlac bereik het, maar waarvan die president hom later gedistansieer het.
Die RNE se geskilbeslegtingsmeganismes het ’n taakspan onder voorsitterskap van adjunkminister Andries Nel aangewys om ’n ooreenkoms uit te werk. Ander lede was dr. Corné Mulder (VF Plus), me. Helen Zille (DA), mnr. Brett Herron (Good) en mnr. Mdumiseni Ntuli (ANC).
Hierdie taakspan het aanbeveel dat die wet nie in hierdie stadium na die parlement terugverwys word nie, maar ook nie ongekwalifiseerd aanvaar word nie.
Daarvolgens is sekere dele van artikels 4 en 5 wél aanvaarbaar en kan dadelik inwerking gestel word. Ander dele, wat juis met taal en toelating gemoeid is, moes volgens die aanbeveling eers oorstaan vir verdere raadpleging, dialoog en ondersoek.
In hierdie verband is twee keuses voorgestel: Een waarvolgens die president nou reeds ’n spertyd vasstel wanneer die wet ten volle in werking tree; en een waarvolgens hy ’n tydsbestek vir verdere gesprek en dialoog vasstel en daarna ’n sperdatum vir implementering aankondig.
In die leiersvergadering met die president het die VF Plus hom vir die laasgenoemde keuse beywer.
In sy gesprek met partyleiers van die RNE het die president ook ’n derde keuse (“Option 1”) gestel. Dit is dat die wet in sy geheel geproklameer word en dat die gewone gang van sake volg, wat beteken dat die minister na proklamasie norme, standaarde en regulasies vir die toepassing van die wet uitwerk.
Die VF Plus het nie hierdie opsie (Option 1) tydens die leiersvergadering met die president gesteun nie.
In daardie verduideliking verwys hy nie, soos elders, na artikels in die Bela-wet nie, maar wel in die SA Skolewet van 1996.
Op die oog af lyk dit soos die onmiddellike inwerkingstelling van sekere dele van die wet wat in September teruggehou is, maar wat tóg aanvaarbaar is, soos wat die taakspan aanbeveel het. By nadere ondersoek blyk dit wesenlik te verskil en die hele wet te betrek.
Gevolglik het die president en minister Gwarube op 20 Desember die Bela-wet sonder beperking of kwalifikasie geproklameer. Dit was nooit ’n aanbeveling van enige van die instellings wat gelas is om ’n ooreenkoms uit te werk nie.
Dit is die standpunt van die uitvoerende dagbestuur van die VF Plus dat die president hierdie proklamasie behoort terug te trek. Die president kon nie ’n voorstel aan partyleiers bied as resultaat van daardie meganisme, as dit nooit deel van die aanbevelings was nie.
Moedertaalonderrig, sowel as die reg tot enkelmediumskole waarvoor daar in artikel 29(2) van die Grondwet voorsiening gemaak word, is vir die VF Plus van wesentlike belang ten einde die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal te verseker.
Die VF Plus is van plan om so gou as moontlik met Solidariteit en AfriForum te skakel om gesprek te voer oor watter moontlike stappe geneem kan word om dit te verseker.
Die VF Plus is ook van voornemens om ‘n gesprek met die minister van basiese onderwys aan te vra om insette aan haar te lewer met betrekking tot die vassteling van norme, standaarde en beleide in die tersaaklike regulasies wat nou opgestel moet word.
Die VF Plus behou hom ook die reg voor om op enige manier tot sy beskikking en wat tot sukses kan lei, hierdie proklamasie te betwis.
(Vind hierby aangeheg die dokument “Afrikaanse onderwys – VF Plus se standpunt” vir ʼn volledige uiteensetting van die VF Plus se standpunt)