Vandag se politieke stryd in Suid-Afrika is onlosmaaklik gekoppel aan die erfenis van komende geslagte.
Net soos ’n ouer deur woord en daad moet toesien dat ’n gesin en ’n volk se kulturele erfenis lewend gehou en geëer word, so het elke persoon ’n plig en verantwoordelikheid om die toekoms van sy land deur politieke deelname te bou en te beskerm.
Daar word soms goedig na Erfenisdag as Braaidag verwys, en dit sê baie van die Afrikanervolk in die besonder: Mense wat lief is vir samesyn. ’n Braaivleisvuur is inderdaad ’n tasbare deel van die Afrikaner se kultuur.
Maar erfenis strek veel dieper as dit.
Dit gaan oor die verantwoordelikheid om jou kinders te leer van hul geskiedenis, hul agtergrond en kultuur – alles waarop hulle met reg trots kan en moet wees. Dit is iets wat hulle hoofsaaklik in die ouerhuis leer.
Net só verdien elke Suid-Afrikaner met ’n gedeelde erfenis om trots te wees op die pragtige land waarin hulle woon.
Die ANC het hierdie trots oor dertig jaar tot in die grond afgetakel. Miljoene Suid-Afrikaners is werkloos en sonder hoop, munisipaliteite stort in duie en in die buiteland is die land se aansien vertrap.
Selfs die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, mnr. Leo Bozell, waarsku dat die regering met sy optrede en die behandeling van minderhede besig is om die land opnuut muishondstatus in die oë van die wêreld te besorg.
Dit is tragies, want gewone Suid-Afrikaners is nie die verloorders wat die ANC aan die wêreld voorhou nie.
Suid-Afrikaners wys op vele terreine, soos op die sportveld, dat hulle wenners is wat met die heel beste ter wêreld kan meeding. Daarbenewens is die land geseën met natuurlike rykdom en groot potensiaal.
Hierdie moontlikhede moet nou in ’n nuwe realiteit omskep word deur op 4 November in die plaaslike regeringsverkiesing te gaan stem.
Dis nou ons tyd om beheer oor die toekoms te neem. Dis ons tyd om ’n einde te bring aan die ANC-nagmerrie. Dis ons tyd om ’n erfenis vir ons nageslagte te skep.


