Daar is werkbare alternatiewe, soos elektriese heinings, wat die voortbestaan van bobbejaantroppe in die suidelike Kaapse Skiereiland moontlik kan maak. Die VF Plus beskou permanente opsluiting in hokke en massasterilisasie as onmenslik en onnodig.
Verskeie dele van die Skiereiland worstel lank reeds met die konflik tussen toenemende menslike vestiging en bobbejaanhabitat. Die uitdaging is om inwoners se veiligheid en lewensgehalte te beskerm sonder om die diere uit te wis.
Die Stad se plan van permanente opsluiting en massasterilisasie sal in wese neerkom op die uitwissing van hierdie troppe en ’n groot deel van die streek se natuurlike bekoring vernietig.
Bewese navorsing toon ook dat die verwydering of opsluiting van troppe dikwels ’n vakuum skep wat vinnig deur nuwe, indringende troppe gevul word.
Die oplossing lê in ’n wetenskaplik ondersteunde benadering wat mense beskerm én die diere in hul natuurlike habitat hou. Studies in KwaZulu-Natal en Oos-Afrika toon dat laespanning-elektriese heinings op die grense tussen woongebiede en natuurreservate ’n baie hoë sukseskoers het.
Die beste plaaslike voorbeeld is die Zwaanswyk-uitsluitingsheining suid van Kaapstad. Volgens navorsing van die Universiteit van Kaapstad het hierdie heining ná oprigting in 2012 ’n aangemelde 100%-sukseskoers gehad. Bobbejane is intelligent en leer vinnig om hierdie grense te respekteer.
Tussentydse maatreëls soos streng afvalbestuur, bobbejaanbestande vullisdromme en vinniger afvalverwydering bly ook noodsaaklik, aangesien maklike toegang tot kos die hoofrede vir invalle is.
Die VF Plus erken dat finansiering ’n uitdaging is, maar stel voor dat die Stad aktief uitreik na internasionale natuurbewaringsorganisasies, navorsingsinstitute en VN-omgewingsfondse wat spesifiek mens-dier-konflik aanspreek.
Met die regte tegnologie, internasionale steun en wetenskaplike grensbestuur is dit moontlik om inwoners te beskerm én die unieke wildlewe van die Kaapse Skiereiland te behou.


