Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

“Volhoubare Vliegtuigbrandstof”-produksie by Hopefield – VF Plus nie ten gunste van groen projekte met hoë omgewingsrisiko nie

Die VF Plus is ‘n uitgesproke ondersteuner van hernubare energie en ‘n oorgang van fossielbrandstowwe na sogenaamde “groen plaasvervangers”.

Die minimum vereiste is egter dat die produksie van “groen plaasvervangers” ekologies voordelig bo fossielbrandstowwe moet wees. Dit is bes moontlik nie die geval met die beplande aanleg buite Hopefield, waar die internasionale energiereus Phelan Green Group, sintetiese vliegtuigbrandstof wil vervaardig nie.

Die uiteindelike produk staan as elektro-volhoubare vliegtuigbrandstor (of eSAF volgens die Engelse uitdrukking) bekend. Dit word uit groen waterstof en koolsuurgas vervaardig.

Die waterstof en suurstof in water word deur elektrolise geskei om waterstofgas te produseer. Wanneer hernubare elektrisiteit die energiebron is, staan dit as “groen” waterstof bekend. Indringerplantegroei sal volgens beplanning die bron van koolsuurgas wees. Op die oog af lyk hierdie dus na die soort projek wat mens graag ondersteun. Daar is egter ook probleme:

Die projek se eie omgewingsimpakstudie dui aan dat gevaarlike chemikalieë gebruik en opgeberg gaan word, wat ‘n risiko skep om grondwater direk onder die aanleg te besoedel. Verder word beplan om water vanuit die dorp se drinkwaterstelsel vir die aanleg te gebruik, hoewel dit die totale huidige waterverbruik sal oortref.

Die terrein van sowat sesduisend hektaar waarop sonpanele geplaas gaan word om energie vir die aanleg op te wek, is tans natuurlike fynbos, sowel as landbougrond. Die Hopefield-sandfynbos wat daarvoor moet plekmaak, is ‘n bedreigde veldtipe.

Uit die voorlegging is dit onduidelik waarom gevestigde industriële gebiede by Atlantis en Saldanhabaai nie vir die aanleg gebruik word nie. Verder is fotovoltaiëse stelsels meer geskik vir droër gebiede, waar plantegroei yler en die impak daarop kleiner is.

Die slotsom is dat ‘n aansienlike terrein kwesbare plantegroei vernietig gaan word; en ‘n sensitiewe ondergrondse waterstelsel in gevaar gestel gaan word om iets te produseer wat netsowel op ander, minder kwesbare terreine gedoen kan word, in die naam van ekologiese volhoubaarheid.

Dit rym nie en die VF Plus doen ‘n beroep op die maatskappy, sowel as nasionale en provinsiale omgewingsdepartemente om die uitvoering hiervan te voorkom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.