Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse kwintiel 5-skole kry slegs skrale subsidieverhoging in 2027/28-boekjaar

Die VF Plus het vandag tydens ’n sitting van die Gauteng-wetgewer by wyse van ’n mondelinge vraag aan die premier, Panyaza Lesufi, vasgestel dat kwintiel 5-openbare skole in die 2027/28-finansiële jaar slegs ’n klein subsidieverhoging sal ontvang.

Die premier het bevestig dat die subsidie van R315 na R329 per leerder verhoog word – ’n skrale styging van slegs 4,4%.

Die VF Plus glo dat ʼn billiker verhoging reeds in die komende provinsiale aansuiweringsbegroting in Oktober 2026 kan plaasvind, gevolg deur ’n meer substantiewe verhoging in die 2027/28-begroting wat die subsidie nader aan historiese vlakke kan herstel.

Die premier het die swak verhoging toegeskryf aan begrotingsdruk, insluitend die verminderde toekenning van die nasionale tesourie en die afbetaling van e-tolskuld. Hy het aangedui dat begrotingsbeplanning vir beide die Oktober-aansuiweringsbegroting en die 2027/28-begroting nog aan die gang is.

Die VF Plus het daarop gewys dat wesenlike besparings in albei begrotings gemaak kan word, wat aangewend kan word om behoorlike verhogings vir kwintiel 5-skole te bewerkstellig. Die premier het enige konstruktiewe voorstelle in dié verband verwelkom en die VF Plus genooi om met hom in gesprek te tree.

Die VF Plus sal hierdie uitnodiging aanvaar en alles in sy vermoë doen om die kwintiel 5-subsidie tot billike vlakke te herstel.

Die kwessie kan nie tot ’n eenvoudige rasgegronde debat gereduseer word nie.

Volgens die provinsiale departement van onderwys se eie syfers is daar tans 446 Engelssprekende kwintiel 5-skole teenoor slegs 116 Afrikaanse skole. ’n Herstel van die subsidie sal dus alle bevolkingsgroepe bevoordeel.

Die VF Plus erken die finansiële druk op ouers van kinders in kwintiel 5-skole en sal voortgaan om te veg vir ’n regverdige subsidie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.