Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NGV: Nie alles is verlore ná jongste uitspraak van Konstitusionele Hof

Die geveg teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nog nie verlore nie, al het die Konstitusionele Hof vanoggend in ’n uitspraak twee betwiste besluite rakende die openbare deelnameproses, wat in die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) geneem is, van die hand gewys.

Die twee sake is gebring deur die Raad vir Gesondheidspraktisyns asook die Wes-Kaapse premier.

Alhoewel die VF Plus die hof se uitspraak respekteer, is dit tog duidelik dat die hof self hieroor ietwat verdeeld was, aangesien ’n minderheidsuitspraak bevind het dat die NRP se proses onredelik en ongrondwetlik was.

Die VF Plus was nog altyd van mening dat daar nie korrek gehandel is met die 338 891 geskrewe insette oor die NGV wat belanghebbendes destyds by die parlement ingedien het nie.

Daar is nooit voldoende verslag aan die portefeuljekomitee vir gesondheid gelewer oor die aantal kommentare wat vir of teen die wetsontwerp was nie. Dit het die proses van openbare deelname totaal verydel.

Lede van die komitee het in daardie stadium ook nie ’n enkele inset self gesien nie.

Die ANC, wat ten gunste van die NGV is, moet nie te vroeg oor hierdie uitspraak feesvier nie, aangesien daar nog verskeie sake voor die howe dien wat gebring is deur organisasies soos Solidariteit, Sakeliga, die Forum vir Private Praktisyns, die SA Mediese Vereniging, die Hospitaalvereniging van SA asook die Vereniging van Gesondheidsfinansiers.

Die belangrikste saak wat ook nog nie afgehandel is nie, is die een waarin pres. Cyril Ramaphosa redes moet verskaf vir sy besluit om die NGV skaars ’n week voor die 2024-verkiesing as wet te onderteken. Dit word beskou as ’n desperate poging om destyds stemme vir die ANC by die stembus te verseker.

Die VF Plus sal nie sy geveg teen die NGV laat vaar nie en kan nie toelaat dat private gesondheidsdienste deur die NGV genasionaliseer word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.