Die VF Plus verwelkom die verskerpte gesamentlike veiligheidsoperasies van die Stad Kaapstad, polisie en SANParke op Tafelberg en Leeukop ná die onlangse reeks roof- en mesaanvalle op stappers en besoekers.
Ná verlede Vrydag se mesaanval het die VF Plus-raadslid Emre Uygun dringend met die polisie se bestuur en die Stad Kaapstad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit in verbinding getree om bykomende veiligheidsmaatreëls te versoek. Die reaksie en beskikbaarstelling van hulpbronne het alle verwagtinge oortref.
Uygun is Dinsdagaand deur SANParke se bestuur genooi om ‘n gesamentlike veiligheidsoperasie op Leeukop by te woon. Hy kon eerstehands sien hoe omvangryke hulpbronne en mannekrag aangewend word om die veiligheid van stappers, inwoners en toeriste te verseker.
Die operasie het onder meer hommeltuigtoesig, hoogs opgeleide honde-eenhede, metropolisiebeamptes, SANParke-veldwagters en polisie-lede ingesluit wat patrollies op die berg uitgevoer het.
Die Stad Kaapstad se berede eenheid is ook ontplooi om veiligheid op Tafelberg verder te versterk.
Hoewel hierdie veiligheidsoperasies en gepaardgaande inhegtenisnemings nie altyd groot media-aandag geniet nie, is dit belangrik dat die publiek bewus is van die voortgesette pogings om misdaad op die bergroetes te bekamp.
Die hoofverdagte wat vermoedelik met die onlangse mesaanvalle en rooftogte verbind word, is steeds op vrye voet. Twee vermeende medepligtiges is reeds in hegtenis geneem en bly in aanhouding. Die soektog na die voortvlugtige verdagte duur voort.
Met die feestyd wat nader kom en duisende plaaslike en internasionale toeriste wat Kaapstad sal besoek, is dit noodsaaklik dat ‘n sigbare en doeltreffende veiligheidsaanwesigheid op die stad se gewilde bergroetes gehandhaaf word.
Die VF Plus wil die publiek verseker dat die betrokke owerhede daadwerklik saamwerk om hierdie bedreigings die hoof te bied.
Stappers word steeds aangemoedig om waaksaam te bly, om verkieslik nie alleen te stap nie, en by gevestigde veiligheidsnetwerke soos Take Back Our Mountains aan te sluit.
Verdagte bedrywighede moet onmiddellik aangemeld word.
Die VF Plus bedank alle betrokkenes, insluitend veiligheidsbeamptes, veldwagters, vrywillige hondehanteerders en hommeltuigoperateurs, vir hul toewyding en samewerking.
Noodnommers:
- Stad Kaapstad: 021 480 7700
- Wilderness Search and Rescue: 021 937 0300 (gratis reddingsdiens)
Die veiligheid van inwoners en besoekers moet altyd vooropgestel word.


