Verskeie ondernemings in Naboomspruit sit reeds tussen vier en veertien dae sonder betroubare elektrisiteit weens verwaarloosde munisipale infrastruktuur, wat ernstige finansiële verliese vir dié ondernemings, werknemers en die plaaslike ekonomie veroorsaak.
Die onderbrekings is tweeledig en word onderskeidelik toegeskryf aan ʼn onklaar mini-substasie en probleme met ondergrondse kragkabels.
Sake-ondernemings in die omgewing van OK Express sit reeds vier dae sonder krag nadat ’n mini-substasie onklaar geraak het.
Volgens die elektriese hoof van die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit, is dié substasie onherstelbaar beskadig.
Hoewel ’n nuwe een bestel is, het die munisipaliteit nog geen tydlyn vir aflewering of installering verskaf nie.
Ondernemings in die omgewing van Build-it is reeds twee weke sonder krag weens foutiewe ondergrondse kabels. Hoewel twee kabelfoute reeds herstel is, sloer die munisipaliteit met die nodige uitgrawingswerk tot só ’n mate dat ’n privaat maatskappy moes ingryp om die herstelwerk moontlik te maak.
Hierdie voortslepende onderbrekings is ’n direkte gevolg van gebrekkige finansiële beplanning, swak inkomste-invordering en ’n algehele gebrek aan voorkomende instandhouding deur die munisipaliteit.
Intussen ly sakeondernemings skade terwyl hulle steeds verplig is om salarisse, huur, munisipale dienste en bedryfskoste te betaal.
Die munisipaliteit moet nou dringend duidelikheid verskaf oor wanneer die nuwe mini-substasie geïnstalleer gaan word en wanneer alle kabelherstelwerk afgehandel sal wees.
Inwoners en ondernemings verdien gereelde terugvoer en realistiese tydlyne oor die herstel van die kragnetwerk.
Daarbenewens moet die munisipaliteit ‘n omvattende instandhoudings- en vervangingsplan vir verouderde kraginfrastruktuur opstel en uitvoer. Infrastruktuur behoort betyds herstel of vervang te word voordat dit onherstelbaar beskadig raak en langdurige diensonderbrekings veroorsaak.
Die munisipaliteit moet ook sy inkomste-invordering en begrotingsbestuur verbeter om voldoende fondse vir voorkomende instandhouding beskikbaar te stel. Sonder belegging in instandhouding sal soortgelyke probleme voortduur en die druk op inwoners en ondernemings verder toeneem.
Betroubare elektrisiteit is ’n basiese munisipale plig en die lewensbloed van ’n funksionerende plaaslike ekonomie.
Naboomspruit se ondernemings verdien ’n munisipaliteit wat vooruit beplan, verantwoordelik begroot en probleme voorkom en nie een wat eers reageer nadat die skade reeds aangerig is nie.
Die VF Plus sal volgehoue druk toepas totdat kragtoevoer ten volle herstel is.


