Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dreigende sluiting van Continental se bande-aanleg wys SA verloor vervaardingsvermoë

Die dreigende sluiting van Continental se bandevervaardigingsaanleg in Gqeberha, met sowat 950 werksgeleenthede op die spel, is nóg ‘n ernstige waarskuwing dat Suid-Afrika se vervaardigingsektor besig is om stelselmatig te verswak.

Continental oorweeg die staking van bandeproduksie weens onderbenutte produksiekapasiteit, toenemende mededinging van goedkoop ingevoerde bande, hoë energiekoste, ontwrigtings in voorsieningskettings en gebrekkige infrastruktuur.

Indien geen lewensvatbare alternatief gevind word nie, kan produksie vroeg in 2027 gestaak word.

Die gevolge sal veel verder strek as die moontlike verlies van 950 direkte werksgeleenthede. Verskaffers, kontrakteurs, vervoerders en diensondernemings sal ook geraak word. Dit kom boonop slegs 17 maande nadat Goodyear se bande-aanleg in Kariega gesluit het, met die verlies van sowat 907 werksgeleenthede.

Die VF Plus is veral bekommerd oor die voortgesette deïndustrialisasie van Suid-Afrika.

Die sluiting van ContiTech se bedrywighede, die beëindiging van Nissan se voertuigproduksie by Rosslyn en Ford se aangekondigde personeelverminderings, is verdere voorbeelde van die toenemende druk op plaaslike vervaardiging.

Hierdie tendens vernietig werksgeleenthede, verswak plaaslike produksievermoë en maak Suid-Afrika toenemend afhanklik van ingevoerde produkte.

Dit kan ook groter vervoerverwante koolstofvrystellings tot gevolg hê. Die moontlike sluiting vereis verder verantwoordelike hantering van industriële afval en die rehabilitasie van die perseel.

Die VF Plus verwag dat die regering, en veral die departement van handel, nywerheid en mededinging, dringend met Continental, vakbonde en ander rolspelers sal skakel om lewensvatbare alternatiewe te ondersoek.

Die oplossing lê egter nie in nóg staatsbeheer, beskerming van ondoeltreffendheid of duur belastingbetalersubsidies nie, maar in ‘n mededingende vryemark-ekonomie.

Die VF Plus pleit vir laer belasting- en regulatoriese druk op ondernemings, betroubare elektrisiteits- en vervoerinfrastruktuur, beleidsekerheid, vrye mededinging en ‘n arbeidsmark wat werkskepping bevorder.

Suid-Afrika moet terselfdertyd sy verswakte handelsverhoudinge met belangrike internasionale vennote, veral die Verenigde State, dringend herstel. Deur konstruktiewe handelsdiplomasie, die verwydering van onnodige handelsbelemmerings en die herstel van vertroue, moet toegang tot belangrike uitvoermarkte beskerm en nuwe beleggings aangemoedig word.

‘n Kleiner, doeltreffender en ondernemingsvriendelike staat, gekombineer met vrye handel en ‘n stabiele beleidsomgewing, kan die grondslag lê vir ekonomiese groei, nuwe nywerheidsbeleggings en volhoubare werkskepping.

Suid-Afrika moet ophou om sy fabrieke te verloor en moet begin om die omstandighede te skep waarin ondernemings weer wil belê, vervaardig en werk skep.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.