Die polisie en Oudtshoorn se munisipaliteit moet nou daadwerklik saamwerk om die skerp toename in ernstige misdaad in Oudtshoorn hok te slaan.
Die jongste kwartaallikse misdaadstatistiek van die polisie toon dat inwoners toenemend met misdaad gekonfronteer word en dat die veiligheid van gemeenskappe onder druk verkeer.
Van besondere kommer is die feit dat Oudtshoorn die hoogste aantal huisbrake in die Wes-Kaap aangeteken het, met ’n toename van 69,1% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.
Daarbenewens het aangemelde verkragtings van 11 tot 29 gestyg, terwyl aanranding met die doel om ernstig te beseer van 162 tot 192 toegeneem het.
Ernstige gemeenskapsgerapporteerde misdaad het in geheel met 26,6% gestyg, wat daarop dui dat inwoners in hul huise, woonbuurte en openbare ruimtes toenemend onveilig voel.
Hierdie statistiek is veral kommerwekkend aangesien die feesseisoen tradisioneel ’n tydperk van verhoogde misdaadrisiko is. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van proaktiewe ingryping voordat die situasie verder versleg.
Groter sigbare polisiëring, gereelde patrollies in misdaadbrandpunte en beter samewerking tussen die polisie, die munisipaliteit, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en private veiligheidsrolspelers is noodsaaklik.
Die munisipaliteit het ook ’n belangrike ondersteunende rol om te speel deur toe te sien dat straatbeligting funksioneel is, openbare ruimtes behoorlik onderhou word en waar moontlik veiligheidsinfrastruktuur verbeter word.
Misdaad is nie bloot ’n statistiese probleem nie. Agter elke voorval is daar slagoffers, gesinne en gemeenskappe wat die emosionele, fisieke en finansiële gevolge daarvan moet dra.
Inwoners van Oudtshoorn het die reg om veilig in hul huise en gemeenskappe te leef.
Die VF Plus doen daarom ’n beroep op alle verantwoordelike rolspelers om die toenemende misdaadtendens met die nodige dringendheid aan te spreek en praktiese stappe te doen om inwoners se veiligheid te verbeter.
Die VF Plus sal die saak in die munisipale raad bly monitor en steun gee aan maatreëls wat kan help om misdaad te bekamp en die veiligheid van Oudtshoorn se inwoners te bevorder.


