Die VF Plus het tydens ʼn raadsvergadering van die Johannesburgse metroraad beginselvas opgetree en nié die ANC-geleide regering se voorgestelde lening van R3,8 miljard van die Duitse KFW Ontwikkelingsbank gesteun nie.
Die DA, wat onlangs nog geëis het dat Johannesburg onder administrasie geplaas word weens finansiële wanbestuur en diensleweringsineenstorting, het ironies genoeg hierdie lening gesteun en daarmee miljarde rande in die hande van dieselfde ANC-administrasie geplaas wat die DA self as onbevoeg bestempel het.
Die ANC het lankal bewys dat openbare geld onder sy bestuur nie veilig is nie. Inwoners en belastingbetalers sal op die einde van die dag hierdie lening moet terugbetaal – waarskynlik met tarief- en belastingverhogings.
Fondse wat vir dienslewering bedoel is, word gereeld gekaap deur korrupte tenders, politieke beskerming en ANC-netwerke. Johannesburg se inwoners dra reeds die gevolge van vervalle infrastruktuur, swak dienslewering en finansiële verval.
ANC-raadslede het die DA se steun met ʼn gejuig begroet, wat die indruk geskep het van ’n nuwe politieke vennootskap.
Om die ANC met nóg miljarde rande se openbare fondse te vertrou is roekeloos, veral aangesien ’n groot deel van die lening binne ses maande uitbetaal sal word terwyl die ANC steeds beheer oor Johannesburg het.
Die VF Plus bly die verantwoordelike alternatief wat staan vir eerlike, deursigtige en verantwoordbare regering.
Die party plaas belastingbetalers eerste en glo dat elke sent van openbare geld aangewend moet word om Johannesburg te herstel, dienslewering te verbeter en die metro weer op koers te bring.
Op 4 November het kiesers die geleentheid om vir die VF Plus te stem en van die ANC en sy vennote ontslae te raak.
Dis ons tyd om Johannesburg reg te ruk.


