Die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit moet onmiddellik die vervalle paaie in Kroonstad herstel.
Alhoewel daar voorgeskrewe roetes vir swaar voertuigverkeer bestaan, word dié roetes grootliks geïgnoreer.
Wetstoepassingsowerhede en verkeerspolisie moet dringend optree teen vragmotorbestuurders wat paaie in woongebiede onwettig gebruik.
Vragmotors gebruik tans daagliks Orpen-, Tom Ferreira- en Dolfstrate wat inwoners se veiligheid bedreig.
Die VF Plus het vrae aan die waarnemende munisipale bestuurder, me. Mamaliso Ntsepe, gerig oor die skade wat dit veroorsaak aan paaie, stormwaterstelsels en sypaadjies.
Volgens Ntsepe is Orpenstraat in so ’n swak toestand dat dit volledig herbou moet word teen ’n beraamde koste van bykans R29 miljoen. Die munisipaliteit funksioneer tans met slegs 38% van sy personeel en beskik nie oor voldoende fondse om die probleem reg te stel nie.
Historiese brûe soos die Sarel Cilliers- en Alexanderbrug was nooit ontwerp vir moderne swaar voertuigverkeer nie. Die voortdurende druk en vibrasies hou ’n ernstige risiko van strukturele skade en moontlike ineenstortings in.
Verder bestaan daar steeds nie ’n veilige sypaadjie in die duikweg in Crosstraat vir voetgangers nie, wat kinders, bejaardes en ander inwoners noodsaak om tussen verkeer in die pad te beweeg.
Die VF Plus waarsku dat indien ’n ernstige ongeluk of strukturele ineenstorting plaasvind, die verantwoordelikheid vierkantig voor die deur van die ANC-beheerde munisipaliteit gelê sal word.
Dis ons tyd om Moqhaka eerste te stel. Dis tyd om weer ’n munisipaliteit te bou wat inwoners en dienslewering eerste plaas. Registreer nou en stem op 4 November vir die VF Plus.


