Gister se hofuitspraak oor private betrokkenheid by inenting teen bek-en-klouseer (BKS) is ooglopend ‘n groot oorwinning vir veeboere.
Saam met private veeartse is hulle lankal gereed om hierdie siekte te help bestry. Hul pogings is egter deur ‘n staat gekortwiek wat beheer oor die proses in sy onbevoegde hande wou hou.
Die vereistes wat die hof bepaal het boere moet nakom om beste praktyke te verseker, is redelik en kan in samewerking met veeartse nagekom word. Dit volg ná jare waartydens die departement van landbou hierdie siekte eenvoudig nie kon baasraak nie – en tog daarop aangedring het om beheer te behou.
Uiteindelik was veel meer as siektebeheer op die spel. Die vraag het geword of die burgerlike samelewing funksies wat tradisioneel slegs die staat s’n was, kan oorneem as die staat misluk in die uitoefening daarvan.
Dit is ironies dat die DA se minister John Steenhuisen, met die steun van verskeie landbou-organisasies, die staat se rol teen alle getuienis in wou beskerm. SAAI, Sakeliga en Vrystaat Landbou kom die eer toe dat hulle die stryd aangeknoop en enduit deurgevoer het.
Die VF Plus, wat reeds meer as ‘n jaar gelede na bek-en-klouseer as ‘n voorkombare ramp verwys het, het deurentyd daarop gewys dat die private sektor se hulp verwelkom, eerder as vermy moet word.
Vir dié party is dit duidelik dat die politieke vraag toenemend gaan wees om die staat te dwing om funksies wat dit nie meer kan vervul nie, aan ander oor te laat.
Dit is ‘n pil wat vir die staatsgesentreerde ANC en die DA bitter sal wees om te sluk.


