Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Minister moet ingryp om herstel van belangrike paaie en brûe in Langeberg te bespoedig

Die VF Plus-Langeberg versoek onmiddellike ingryping van die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, in die herstelproses van die brug tussen Robertson en McGregor asook die rooibrug vóór Bonnievale.

Dit is ‘n dilemma en die VF Plus verwag dat vinniger oplossings vir normale verkeersvloei gekry moet word.

Die afgelope weke se erge reën en vloedskade het veroorsaak dat beide hierdie brûe erg beskadig is. Toegang na McGregor is net moontlik via die Bonnievale-grondpad wat ‘n ompad van sowat 70km is.

Die party is van mening dat daar tans ‘n gebrek aan voldoende toerusting en personeel is wat werk verhinder. Boonop is die teikendatum vir die finalisering van die werk geskeduleer vir oor drie weke. Hierdie oponthoud plaas ‘n geweldige las op plaaslike inwoners en padgebruikers.

Alternatiewe roetes moet nou gevolg word wat minstens ‘n uur langer neem. Dit is veral die landbougemeenskap wat erg geraak word. Boere het geweldige verliese gelei in die afgelope vloede en dit is juis hulle wat grotendeels in landelike gebiede sorg dat die plaaslike ekonomie gestimuleer word. Die enkele vrugte wat wel gered kon word, word nou verder beskadig omdat die enigste roete mark toe via ‘n grondpad is.

Dit is dus van uiterste belang om toe te sien dat die gebruik van die betrokke paaie so gou moontlik herstel word om die finansiële druk op reeds vuisvoos boere te verlig.

Hoërskoolleerders van McGregor het nie normale toegang tot hul skole in Robertson nie en dit bring ekstra uitgawes mee vir diegene wat reeds onder finansiële druk verkeer. Intussen is die bestaande koshuise ook oorvol en ander verblyf is onverkrygbaar of geweldig duur.

Toegang tot nooddienste soos dokters en hospitale is beperk en in noodgevalle moet gebruik gemaak word van óf grondpaaie óf ander roetes wat tydrowend is.

Selfs mense se werk hang in die weegskaal omdat hulle nie by hul werkplekke kan uitkom nie en moontlike afleggings word nie uitgesluit nie.

Die toerismesektor het bykans tot stilstand geruk. Toeriste het nie toegang tot van dié areas nie en besprekings word gekanselleer. Dit het ‘n geweldige negatiewe impak op werksgeleenthede sowel as op die omgewing se ekonomie.

Die VF Plus dring daarop aan dat die provinsiale regering meer effektiewe maatskappye moet aanstel om dié gespesialiseerde herstelwerk te verrig. Die gemeenskappe kan nie nóg drie weke wag totdat die situasie normaliseer nie.

Dit wil voorkom asof die dringendheid van die situasie nie besef word nie.

Plaaslike maatskappye, wat die vermoë en kennis het, kan ingeroep word om te help. Plaaslike boere het reeds aangedui dat hulle selfs bereid is om te help betaal vir professionele dienste sodat die pad binne ‘n week herstel kan word.

Die VF Plus sal voortgaan om oplossings te soek en druk op die provinsie te plaas in die belang van Langeberg se inwoners.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.