Die VF Plus het gister ’n mosie van wantroue teen die PA-speaker van die Oudtshoorn-plaaslike munisipaliteit, Suzanne Jansen, ingedien.
Die DA en Icosa steun die mosie wat voortspruit uit ernstige bewerings en dokumentasie wat vrae laat ontstaan oor die speaker se integriteit, neutraliteit en die behoorlike funksionering van haar amp. Dit bewerings sluit in:
• Onreëlmatige tenderprosesse
• Ongemagtigde en onbehoorlike besteding van munisipale fondse
• Wanbesteding rakende gesellighede, borgskappe, sportgeleenthede, verversings, ruikers, klank- en verhoogdienste
• Moontlike misbruik van munisipale hulpbronne en geriewe
• Finansiële wanadministrasie en die herklassifisering van begrotingsinskrywings
• Eensydige hantering van raadsvergaderings en die ongemagtigde beëindiging van ’n raadsvergadering op 30 April 2026
Die mosie is aanvaar en sal by die volgende wettige raadsvergadering dien.
Terselfdertyd het die VF Plus ook ʼn klag van bedrog (MAS 421/5/2026) by die polisie aanhangig gemaak rakende die beweerde onreëlmatige tenders, finansiële ondersteuning en misbruik van openbare fondse.
Vir die VF Plus is hierdie mosie ’n toets van beginsel vir alle partye in die Oudtshoorn-raad, veral die PA, ANC, Good en ander wat hulself tot skoon regering en verantwoordbaarheid verbind het.
Die party sal nie stilbly waar daar vermoedens van korrupsie en die misbruik van belastingbetalers se geld bestaan nie.


