Die VF Plus steun nie die aangepaste begroting van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) nie. Die begroting dui op ernstige finansiële wanbestuur, swak dienslewering en ‘n blatante minagting vir belastingbetalers se geld.
Die ANC-geleide koalisie, wat al meer as drie jaar aan bewind is, het gefaal om enige geloofwaardige rekord van dienslewering te vestig. Dit is tewens ‘n totale mislukking met ‘n uiters swak invorderingskoers.
Hierdie powere administrasie het gelei tot ‘n toename van R2,2 miljard in die munisipale skuldboek binne ses maande.
Die metro se bestuur verkwalik droogte en tariefaanpassings om hul eie onbevoegdheid en die verval van infrastruktuur te verbloem. Uitgebreide waterlekkasies is een van die groot probleme.
‘n Verdere vermorsing van geld is weens buitensporige oortydbetalings aan sekuriteitspersoneel. Hierdie praktyk plaas ‘n onnodige las op belastingbetalers en dreineer die metro se finansiële hulpbronne.
Die VF Plus dring aan op beter beplanning en alternatiewe oplossings om hierdie probleem aan te spreek.
Verder het die metro onlangs ‘n gekwalifiseerde ouditmening ontvang, met bevindings oor swak finansiële rekordhouding en die wanbestuur van bates.
Die metro se afhanklikheid van verouderde handmatige prosesse met dokumentasie is ‘n groot struikelblok en die tyd het lank reeds aangebreek om die prosesse te outomatiseer.
Die beste oplossing vir die meeste probleme is steeds om die metro te desentraliseer om beter administrasie en verantwoordbaarheid te verseker.
Die VF Plus bly verbind tot die blootlegging van hierdie mislukkings en die bevordering van hervormings wat werklike, volhoubare oplossings vir inwoners sal bring.


