Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se erkenning vandag dat Gauteng se infrastruktuur inmekaar stort en dat dit ekonomiese groei in die provinsie nadelig raak, is betekenisvol.
Lesufi het die ineenstorting van infrastruktuur toegeskryf aan onvoldoende onderhoud en sindikate se sabotasie.
Hy het verwys na ʼn lys van 450 sindikate wat infrastruktuur plunder en dat dit onmoontlik is om elke verkeerslig wat buite werking is, nou te vervang alvorens die sindikate nie almal vasgetrek is nie.
Hy het ook na die skrootwerfeienaars verwys wat die groot sondebok is agter die vernietiging van infrastruktuur.
Die VF Plus het tydens ʼn vrae-en-antwoord-sessie in die Gautengse wetgewer Lesufi gevra om te verduidelik hoe die provinsie die toenemende instroming van onwettige immigrante en migrasie gaan hanteer en of daar ʼn daadwerklike aksieplan is.
Die premier het bevestig dat sowat 20 miljoen mense in Gauteng woon wat onwettige immigrante insluit en dat 479 000 mense vanaf 2011 tot 2016 die provinsie verlaat het en 1,4 miljoen die provinsie binnegekom het.
Vanaf 2016 tot 2021 het 548 000 mense die provinsie verlaat en 1,5 miljoen het in die provinsie kom woon.
Lesufi was beslis dat Gauteng ʼn plek vir almal sal wees wat hier wil woon en dat die provinsie vir almal dienste sal voorsien.
Die VF Plus het dit duidelik gemaak dat die ekonomie in Gauteng nie sal herstel terwyl die huidige regering aan bewind is nie.
Tans is daar nie genoeg skole vir leerders nie en hospitale val uitmekaar.
Inwoners is dae, selfs weke sonder krag en water en steeds kan die premier nie verduidelik hoe hy die provinsie se groeiende bevolking gaan huisves en ekonomiese groei stimuleer nie.