Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Swak kommunikasie van Modimolle/Mookgophong ontneem gemeenskap geleentheid om belangrike openbare vergadering by te woon

Die swak kommunikasie van die Modimolle/Mookgophong-plaaslike munisipaliteit met die gemeenskap is onaanvaarbaar en het vandag grootliks daartoe gelei dat inwoners die geleentheid ontneem is om ‘n belangrike vergadering van die openbare rekeningekomitee by te woon.

’n Kennisgewing vir dié vergadering is eers laat Saterdagmiddag uitgereik en boonop is die vergadering geskeduleer vir 9:00 vanoggend by die Leseding-gemeenskapsaal in Vaalwater.

Dit het dit bykans onmoontlik gemaak vir belangstellendes om reëlings te tref om so vroeg op ‘n Maandagoggend ‘n vergadering by te woon. Die vergadering is uitgestel tot latere kennisgewing.

Munisipale beleid bepaal dat kennisgewings van hierdie aard ten minste 72-uur voor die tyd aan inwoners uitgereik behoort te word aangesien openbare deelname ‘n sleutelkomponent van plaaslike bestuur is.

In ag genome die tyd wanneer die kennisgewing uitgereik is en vir wanneer die vergadering geskeduleer is, wil dit voorkom of die munisipaliteit dit met opset so gedoen het juis om die gemeenskap nie teenwoordig te hê nie.

Die VF Plus, ‘n lid van hierdie komitee, was die enigste party wat betyds opgedaag het vir die vergadering. Die situasie is onaanvaarbaar en die party sal sy ernstige beswaar hieroor lug en daarop aandring dat sinvolle reëlings in die toekoms getref word.

Selfs die burgemeester, Schele Aaron Sebolai, was afwesig. Hy het ook versuim om ’n verteenwoordiger aan te wys.

Die 2023/2024-jaarverslag sou aangebied word en sou daar dan ook ’n geleentheid wees vir gemeenskapslede om hul insae te gee rondom munisipale kwessies of om vrae te stel aan amptenare.

Openbare aanspreeklikheid behoort ‘n prioriteit te wees vir ‘n plaaslike regering wat oor ‘n politieke wil beskik om waarlik die lewens van inwoners te verbeter.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.