Die VF Plus dring daarop aan dat die Ekurhuleni-metro die herstel van waterlekkasies prioritiseer om ʼn herhaling van die vermorsing van water in Impalapark in Boksburg te voorkom.
Dié lekkasie in Locheedstraat is al verlede Donderdag aangemeld, maar eers teen Saterdag herstel.
Ondanks herhaalde druk van die VF Plus, is inwoners van Griffonlaan en omliggende strate sonder lopende water gelaat terwyl duisende liter water verlore gegaan het.
Dit is onaanvaarbaar dat ʼn noodsituasie soos dié nie binne ure opgelos kon word nie.
Die voorval beklemtoon die ernstige verval in reaksietyd van Ekurhuleni se water- en sanitasiedepartement en die gebrek aan toesig en herstel van infrastruktuur in Boksburg se oostelike voorstede.
Die VF Plus eis dat die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, me. Thembi Msane, die saak dringend ondersoek en verantwoordbaarheid afdwing. Voorvalle soos hierdie behoort binne agt ure opgelos te word en nie eers ná twee dae nie.
Daar kan nie bekostig word dat ʼn kosbare hulpbron soos water so vermors word nie. Terwyl die metro inwoners se samewerking vra om water te bespaar, steur die metro homself nie aan enige besparingsmaatreёls nie.
Die voorval in Impalapark is ’n skerp herinnering aan die hoë koste van ʼn onbevoegde bestuur en stadige reaksietyd.
In ’n tyd waar elke druppel tel, verdien inwoners ’n metro wat nie net reageer nie, maar vooruit beplan en verantwoordelik optree.
Die VF Plus sal aanhou werk om seker te maak dat hierdie tipe nalatigheid nie ongemerk verbygaan nie.


